Leer ken vir Masake ook in SARIE se November/Desember-uitgawe, landwyd op die winkelrakke.

SARIE Voorbladgesig word trots aangebied in samewerking met Isa Carstens Akademie en INOAR.

Masake Maleka FOTO Marzanne Schoeman
Masake Maleka FOTO Marzanne Schoeman

Wat is jou planne vir Kersfees?

Na alles wat vanjaar gebeur het, sien ek uit daarna om saam met my familie tyd te spandeer en dankbaar te wees vir die geskenk van lewe. Tydens die Kersfees gebruik ons die tyd om saam te wees en eenvoudig ’n lekker ete saam te geniet.

Masake Maleka FOTO Leana CR STILERING Magdel Mulle
Masake Maleka FOTO Leana CR STILERING Magdel Muller en Amaria Carstens

Wat is jou Nuwejaarsvoorneme vir 2021?

Elke jaar stel ek vir myself nuwe doelwitte, en vanjaar was my voorneme om elke oomblik aan te gryp. Min het ek geweet hoe werklik hierdie voorneme sou realiseer! In 2020 was ek – en die mensdom – gedwing om in die oomblik te lewe. Ons moes van ons verwagtinge ontslae raak.

Volgende jaar wil ek met ’n oop kop en oop hande aanpak. Ek wil elke oomblik leef, en myself mooi hanteer. Elke ding sal gebeur soos dit moet. Ek wil hoop kombineer met ’n realistiese uitkyk.

Wat het jy nuut geleer vandat jy jou Voorbladgesig-reis begin het? 

Ek het geleer om my vrese te oorkom. En ek verstaan nou dat wat mense van my dink, nie ’n ware refleksie is van my nie, maar dikwels ’n weerspieëling is van hulle onsekerhede.

Toe ek met hierdie reis begin, het baie mense vir my gesê dat dit nie ’n spasie is vir my nie. Ek het aanvanklik selfvertroue verloor, maar toe besef dat ek my eie ding moet doen. Ek gaan nie my lig verdoof omdat dit te helder in ander se oë skyn nie.

Masake Maleka FOTO Leana CR STILERING Magdel Mulle
Masake Maleka FOTO Leana CR STILERING Magdel Muller en Amaria Carstens

’n Salonbehandeling beteken vir jou?

Terapeute speel ’n groter rol as net die behandeling. Dit is dikwels terapie dieper as jou oppervlak of voorkoms. Die salon is ’n spasie waar vroue ontvlugting en rustigheid kan vind sonder oordeel, en ook kan werk aan hul innerlike selfvertroue.

Masake Maleka FOTO Marzanne Schoeman
Masake Maleka FOTO Marzanne Schoeman

Watter verhouding het jy met jou hare?

My hare is my Afrika-kroon en ’n geskenk van my voorvaders. My hare definieer my nie, maar dit komplementeer die mens wie ek is. Baie mense fokus te veel op eksterne dinge om interne karakter te bou.

Ek het gereeld vir my ouma gevra hoekom my hare nie lank kan groei nie, en hoekom my haarlyn nie gedefinieer is nie. My ouma se antwoord was: “This hair resembles patience.”

My hare het miskien nie so vinnig gegroei nie, maar die kroon wat ek vandag het is ’n getuigskrif van geduld, geskiedenis en my voorvaders.

Masake Maleka FOTO Marzanne Schoeman
Masake Maleka FOTO Marzanne Schoeman

Hoe bly jy positief oor die toekoms? 

Ek bly positief omdat ons as ’n nasie saam kan staan in moeilike tye. Vanjaar het ons wêreldwyd op dieselfde see gevaar, miskien het ons bote verskil, maar almal het die pandemie se storms gevoel en mekaar ondersteun.

Ek is positief omdat mense ongeag verskille, toenemend meer begin luister, brûe bou, en mekaar probeer verstaan.

Masake Maleka FOTO Marzanne Schoeman
Masake Maleka FOTO Marzanne Schoeman

Wat is jou gunsteling-aanhaling?

“Bly gewortel in jou individualiteit en wees net jouself!”

Die lewe is besig! Sukkel jy soms met balans?

As mense, en vroue, sit ons dikwels ’n masker op en maak asof alles ‘okay’ is. Ons vergeet om onsself te versorg, en ons vergeet dat jy nie van ’n leë beker kan skink nie. Ek moes al van ’n jong ouderdom leer om baie te doen, en ’n balans te hou. Maar ’n gesonde balans verg fokus en dissipline! Ek mediteer, luister na my liggaam en slaap genoeg.

Masake Maleka FOTO Marzanne Schoeman
Masake Maleka FOTO Marzanne Schoeman

Wat beteken SARIE vir jou?

As ’n kind het ek die SARIE by my juffrou geleen vir huiswerk, maar so in die lees het ek ook begin leer van lekker resepte of nuwe bekendes. Toe ek ’n student was het Simoné [Pretorius] Nerina-koshuis besoek vir ’n dames-oggend. Sy het gesê: “Ons ken dalk nie vir mekaar nie, maar ons is familie.” En hier is ek en sy vandeesmaand saam in die tydskrif, en deel van die SARIE-familie! SARIE bring glans in ons lewens, maar ook vertroudheid.

Masake Maleka FOTO Marzanne Schoeman
Masake Maleka FOTO Marzanne Schoeman

Jy wil graag eendag skoonheid en sielkunde kombineer?

Ek het baie drome en projekte. Tans leer ek meer oor die holistiese verhouding tussen skoonheid en die sielkunde. As BA-gegradueerde is ek ook passievol oor die kunste, en ek wil in die TV-wêreld betrokke raak. Eendag wil ek graag my eie Masake Maleka opvoedkundige sentrum stig. Jou drome kan veelsydig wees, die reis is vir my belangriker as die eindbestemming.