Sy is egter nie die eerste koninklike wat dié simboliese redakteurspos gaan beklee nie; skoonsus Kate Middleton was in 2017 ook ’n dag lank gasredakteur by die Britse aanlyn nuusblad Huffington Post.  

Volgens verskeie mediabronne, waaronder Popsugar, US Weekly en Yahoo, gaan Meghan redakteur speel vir die glanstydskrif se ikoniese September-uitgawe.

Sy sal saam met die redakteur, Edward Enninful, artikels vir die uitgawe keur en self een skryf. Verskeie van Meghan se Hollywood-vriende, soos Priyanka Chopra, Oprah en Serena Williams, gaan glo ook bydraes lewer.

Glansfoto’s van haar sal in die tydskrif en op die voorblad verskyn, en aanhangers hou styf duim vas dat baba Archie en prins Harry saam sal poseer.

Meghan se nuwe “redakteurspos” is nie so ’n groot verrassing nie. Sy het immers haar eie leefstylblog, The Tig, gehad voordat sy aan prins Harry verloof geraak het.

Op haar blog het sy ’n verskeidenheid onderwerpe aangeroer – van ernstige meningstukke oor rasseverhoudings tot ’n lys vakansiewenke van Hollywood-sterre met wie sy onderhoude gevoer het. Die blog het nie net ’n intieme blik op haar eie lewe gegee nie, maar ook haar skryftalent tentoongestel.

Toe die blog in April 2017 ná meer as drie jaar sluit, was lesers hartseer om Meghan te groet. Nou keer sy terug as tydskrifredakteur – al is dit net vir ’n maand!