Op 5 Februarie 2000 het Piano Man Charl du Plessis voor ’n klavier ingeskuif en vir die eerste keer die land se bekendste Kaalkop Nataniël begelei. Nóú, 20 jaar later, met 56 produksies en meer as 2 000 konserte, is hulle steeds ’n gedugte span met een doel voor oë: Om te inspireer en innoveer. En ja, deur teater, musiek en kuns selfs die wêreld te verander.

Julle werk al 20 jaar saam – ’n besonderse mylpaal en prestasie. Hoekom is julle so ’n goeie span?

CHARL: Ons samewerking het ’n gemeenskaplike doel: Ons streef daarna om iets wat uniek, professioneel en van hoogstaande gehalte is op die verhoog te plaas. Ons smaak stem baie ooreen wat die musiek en die visie vir die eindproduk betref, en ons het dieselfde humorsin, wat hom soms net so lekker laat lag soos vir my.

NATANIËL: Ons het beslis verskillende persoonlikhede en leefstyle, maar dieselfde werksetiek en 100% toewyding aan die produk wat ons lewer. En Charl bly my verras, hy is nederig, sonder jaloesie en ’n vreeslose wêreldreisiger. Hy verstaan ook dat talent alleen bitter min beteken, jy moet werk en werk.

Charl, op jou amptelike webtuiste deel jy die staaltjie dat jy op 14 die eerste keer ’n vertoning van Nataniël bygewoon en dadelik ’n aanhanger geword het. Jy beskou hom as een van jou grootste mentors. Wat is die een lewensles wat jy by hom geleer het?

CHARL: Werksetiek is beslis die belangrikste. Hy stel sulke hoë eise aan homself en respekteer die gehoor (en kykers vir TV) geweldig en sal nooit dieselfde idee/musiek/storie/kledingstuk weer gebruik nie. Dit is altyd nuut en vars met sy geweldige vermoë om te bly skep en vernuwe.

En jy, Nataniël, wat het jy by hom geleer?

Dat geduld en insig jou baie verder bring as woede en vinnige oordeel. Ek is soos ’n bul in ’n té klein hok, Charl moet my gedurig kalmeer en gerusstel.

Watter karaktereienskap bewonder julle van mekaar?

CHARL: Deursettingsvermoë. Al sing ons in die lelikste saal op die mees verlate dorp, doen hy net sy bes en ons gaan net aan – maak nie saak wat nie. Dit is wat ek professionaliteit van die hoogste graad noem.

NATANIËL:  Sy diplomasie, hy kan met hoflikheid en logika die mees uitputtende mense of moeilikste situasies hanteer. Sy goeie maniere laat hom nooit in die steek nie.

SARIE se 2020-leuse is #JyIsGenoeg. Talle suksesvolle mense – soos Michelle Obama, Maya Angelou en selfs Albert Einstein – het iewers in hul lewe aan bedrieërsindroom (imposter syndrome) gely. Het julle dit al ooit ervaar?

CHARL: Natuurlik het ek! Die dag einde 1999 toe Nataniël my uit die bloute bel en vra of ek sy nuwe pianis sou wees, was my eerste gedagte: “Ek is nie goed genoeg nie – ek sal dit nooit kan doen nie.” En hierdie gedagte het die eerste jaar of wat gereeld gepaardgegaan met die bedrieërsindroom, wat stelselmatig begin minder word het. Ek dink dit is iets wat vir almal (in ’n meerdere of mindere mate) ’n probleem is, maar die bestuur daarvan is wat die groot verskil maak.

NATANIËL: : Ek is deeglik bewus van my sterk punte en my vermoëns, asook my vele tekortkominge, ek probeer met hierdie balans lewe . . . dis ’n daaglikse stryd. Maar daar is altyd ’n stemmetjie wat my vertel dat as ek werklik goed genoeg was, sou ek baie meer sukses gehad het.  Dalk is dit reg so, met té veel selfvertroue raak ons ondraaglik. Balans, balans!

BLITSVRAE MET CHARL

GUNSTELINGKLEUR Grys

GUNSTELINGDAG VAN DIE WEEK Maandag (Ek is mal oor die produktiwiteit van ’n nuwe week)

GUNSTELINGGEREG Spaghetti carbonara

GUNSTELINGITEM IN JOU KLEREKAS Swart blinkleerstewels wat ek in New York gekoop het

GUNSTELINGSTAD IN DIE WÊRELD Berlyn

GUNSTELINGKOMPONIS J.S. Bach

Dit is ’n voorreg om na ’n teater toe te gaan en ’n uitvoering te kyk. Wat is die een etiketreël wat teatergangers verleer het?

CHARL: Ek speel op konserte reg oor die wêreld en elke keer as ek terugkom en hier speel, is ek van voor af verras oor hoe swak mense hier hande klap. Oorsee klap die mense vir minute lank en die kunstenaars loop op en af en buig ’n paar keer. Hier klap iemand drie klappies en as jy nie dan al gebuig het nie, doen jy dit in ademlose stilte. Ek het al gedink ek moet apploudiseerklasse aanbied. Dit is erg vernederend as iemand op ’n verhoog stap en mense klap halfhartig.

NATANIËL: Mense is so gewoond aan televisie en ander elektroniese platforms, dat baie nie meer weet hoe om ander – gehoorlede en kunstenaars – te respekteer of hanteer nie. Daar is ’n groot verskil tussen ’n teater en ander vermaak wat op informele plekke plaasvind. In ’n teater sit jy jou selfoon af, loop nie in en uit nie (Wat makeer almal se blase?) en jy daag nie op in ’n kortbroek nie.

Watter liedjie (uit enige genre en era) roep oombliklik nostalgie en herinneringe op? En hoekom?

CHARL: As ek dink aan die 20 jaar saam met Nataniël, is die ou bekende treffer “The Last Waltz” een wat ’n klomp regmerkies kry. Op skool het ek dikwels as aanhanger van Nataniël na sy opname daarvan geluister, en toe ek hom jare later self met hierdie lied kon begelei, was dit ’n wonderlike ervaring. Die lied herinner my ook aan ons huis wat altyd gevul was met my pa en ma se liefde vir musiek. Dit laat my dadelik gelukkig voel want ek dink terug aan wonderlike tye, en veral my pa se gesigsuitdrukking met ’n skalkse glimlag en sy geligte wenkbroue as die musiek begin speel.

NATANIËL: “Come Rain or Come Shine”. Ek het die Barbra Streisand-weergawe eerste gehoor en dit herinner my aan my gewaarwording van musiek buite die klassieke wêreld (wat al was wat ek as kind en student geken het). Ek het al honderde weergawes gehoor en dit onlangs vir my INTIMATE-konsert aanlyn gesing; dit roer my elke keer (Move my!).

Covid-19 was en is ’n enorme terugslag vir die kunste. Is julle bekommerd oor die toekoms van die kunste en hoe probeer julle positief en gefokus bly?

CHARL: Dit is verreweg die moeilikste sielkundige struikelblok om te oorkom, veral omdat ek met een voet as pianis in die bedryf werk, maar ook as aanbieder en vervaardiger van konserte vir myself en Nataniël optree. Aan die een kant is dit frustrerend om nie te kan speel en ’n inkomste te genereer nie, maar aan die ander kant is dit ’n nuwe wêreld waar mense wag om te sien hoe konserte aangebied gaan word, wie steeds gaan kom kyk en hoe konserte voortaan bemark gaan word. Ek probeer dink aan die toekoms en wat alles moontlik sal wees. Dit is belangrik om te bly droom en te dink aan projekte waaroor ek al jare wonder en dalk nou moet begin aanpak.

NATANIËL: Ek het nie deur ’n krisis gegaan soos baie ander nie, ek het op die dag wat die afsondering begin het, weggetrek soos ’n malle en baie projekte aangepak, ek het baie gedoen gekry, daar is soveel goed wat ek nog moet doen, ons sal net ons vermoëns moet ontgin en op ander maniere leer werk. Dinge gaan nie wees soos ons dit ken nie, die kunste gaan anders lyk, dis beslis en dit is opwindend. Ek is gek oor verandering.

Die kuns van onthaal gaan weer opnuut waardeer word. Jy kan vier kunstenaars (musiek, toneel, kuns, uit enige era) nooi vir ’n driegangmaal. Wie sou dit wees en wat sou op die spyskaart wees?

CHARL: Ek is mal oor dié vraag! Maria Callas (operasangeres), Franz Mohr (klavierstemmer vir die pianis Vladimir Horowitz se Steinway), Victor Borge (pianis/komediant) en Sophia Loren (aktrise). Vir voorgereg sal ek my bekende risotto Milanese maak. Hierdie romerige rysgereg word gegeur met wyn, saffraan en parmesaankaas en almal sal daarvan hou. Daarna eet ons lam met eiervrug en aartappels en ’n heerlike slaai met organiese tamaties. Die nagereg sal sekerlik ’n suurlemoenkoek wees of dalk malvapoeding om die mense aan ons wonderlike Suid-Afrikaanse smake bloot te stel.

NATANIËL: Om helde en inspirerende kunstenaars te ontmoet is meer as dikwels ’n teleurstelling, hulle is anders as hul werk of beeld. Ek sal van die paar nooi wat ek wel leer ken het en my steeds inspireer. Mynie Grové (sangeres), Charl, Marion Holm (aktrise) en Catharina de Bliquy (kunstenaar). Ek bedien dan slaai met salm en saggekookte eier, sampioenrisotto, donker, donker meellose sjokoladekoek en Franse sjampanje.


Watter produksie vanuit die Nataniël-kanon sal jy ewig koester en hoekom?

CHARL: Ek dink my heel eerste een, WAX, was die mees aangrypende omdat ek uit my comfort zone as klassieke pianis gepluk is. Ek moes staan en speel in plaas van sit en het hoëhakstewels, visnetkouse, ’n ballet-tutu en ’n onderbaadjie (net ’n onderbaadjie) gedra in die produksie. Ek moes langarm met die tromspeler en sing ook. My ouers het kom kyk en was sprakeloos maar baie trots!

NATANIËL: AFTER ANIMALS was ’n baie uitputtende en bevredigende ondervinding, ek het dit só geniet, daar was baie minder vrees as gewoonlik. Dit was ook visueel baie mooi, dan is ek baie gelukkig. (Ek sal ook altyd die vertonings saam met Mimi Coertse met baie vreugde onthou.)

Daar is ’n ewige stryd teen die sinnelose geweld jeens vroue (en kinders). Hoe sou die wêreld wees as daar nie vroue was nie?

CHARL: Die geweld teen vroue en kinders is vir my uiters ontstellend. Die idee van ’n wêreld sonder vroue is ondenkbaar en ek is so dankbaar vir al die wonderlike sterk, kleurvolle vroue in my lewe. Met ’n fabelagtige moeder en twee susters kon ek nie vir meer gevra het nie.

NATANIËL: Ek het onlangs na die nuus gekyk en besef dat al die kwessies waaroor daar gepraat word, reeds daar was vandat ek my verstand gekry het, die wêreld verander bitter min. Dalk is dit die gebrek aan geloof, die gif van politiek, dalk die agteruitgang van waardes of die uitgediende kulture wat nie byhou met die tyd nie. My rolmodelle is almal vroue, sterk, dinamiese, kreatiewe, begaafde, suksesvolle vroue. Hoekom party floreer en ander bly ly, weet ek nie. Maar in my wêreld regeer vroue.

Stadig maar seker gaan Suid- Afrikaners weer begin reis. Watter plekke in ons eie land behoort alle Suid-Afrikaners in hul leeftyd te sien?

CHARL: My gunstelingplek om na die see te sit en staar is Hermanus. My familie kom oorspronklik van die Noord-Kaap en as mense nog nie daardie skoonheid van die oop vlaktes, koppies en die wonderskone groen wingerde van Augrabies, Kakamas of Keimoes waardeer het nie, is dit nou die tyd. Die Sand du Plessis-teater in Bloemfontein is gebou toe ek ’n klein seuntjie was en is tot vandag die mees indrukwekkende teater in ons land – almal moet minstens een keer ’n vertoning daar gaan beleef.

NATANIËL:  Nieu-Bethesda en Kaapstad se biblioteek naby die Tuine.

Wat is vir jou die mooiste woord in Afrikaans en hoekom?

CHARL: Karmosyn (die kleur) . . . Dit klink soos iets wat ’n mens kan eet en is so tipies van die wonderlike beskrywende aard van Afrikaans.

NATANIËL: Beeldskoon. Dis die woord wat ek die meeste gebruik, dis my beskrywing vir goeie musiek, kos, argitektuur, boeke, kostuums, kuns en my geliefde bome.

BLITSVRAE MET NATANIËL

GUNSTELINGKLEUR Swart

GUNSTELINGDAG VAN DIE WEEK Maandag

GUNSTELINGGEREG Asynpoeding

GUNSTELINGITEM IN JOU KLEREKAS Swart kimono

GUNSTELINGSTAD IN DIE WÊRELD Nantes

GUNSTELINGKOMPONIS J.S. Bach