Toe sanger en liedjieskrywer Emo Adams verlede jaar die Noot vir Noot-baadjie aangetrek het, het daar nog ’n ster by dié SABC2-musiekprogram aangesluit: DJ Shelly, die plattejoggie met energie en houding, wat die legendariese Musiekfabriek vervang.  

Vir DJ Shelly, oftewel Rochelle de Bruyn, was Emo die perfekte partner in crime. “Hy laat my gemaklik voel en natuurlik baie lag. Ons het van dag 1 af goed saamgewerk. Ek geniet werklik elke oomblik.”

Die twee se Noot vir Noot-seisoen was goed deur aanhangers ontvang.

Voor sy musiek op Noot vir Noot gemaak het, het sy in 2012 klankingenieurswese by CAE, ’n kollege vir klankingenieurswese, geswot.

“Van kleintyd af het ek geweet dat ek in die musiekbedryf wil werk. Ek het gou-gou besluit om ’n platejoggie te word, juis oor ek dit geniet om mense op te beur. Ek wou die rede wees hoekom hulle dans.”

En watter liedjies is ’n treffer op die dansbaan?

Fatman se “Dorp toe”

Keith Urban se “Love Somebody Like You” 

Elandré se “Vuur op die water”

LAUV se “I Like Me Better”