Hul hele jaar sover is gebou op pure vergenoegdheid.

Donnalee Roberts en Ivan Botha se huis, hart en lewe is nou in die Kaap, waar hulle reeds groot avonture beleef het.

Een daarvan was ’n troue oor twee dae in die Boland met al hul geliefdes as getuies. 

“Die jaar het alle verwagtinge, wat ek nie eens geweet het ek het nie, oortref. Om in die Kaap te bly was ’n eendag, om te trou was ’n eendag. En skielik het die jaar vir ons oopgegaan en ons ‘eendag’ word ‘vandag’,” het Donnalee gesê in haar voorblad-onderhoud vir SARIE se Augustus 2019-uitgawe.

Ivan, Donnalee en Amélie. Die drietjies het saam foto’s geneem voor die tweede aand van hul bruiloffees afgeskop het. FOTO Aglow Photography

En nou is nog ’n avontuur op hul horison: ouerskap. Die egpaar gaan volgende jaar die nuutste karakter in hul Botha-rolprent ontmoet.

Donnalee is swanger. En hulle is rustig, tevrede en sielsgelukkig.

“Ek het die lieflikste verhouding en beste vriendskap met my ouers, dit het gemaak dat ek my lewe lank al droom van ma word,” vertel sy aan SARIE.com. “Ivan is die beste pa en sy wonderlike verhouding met Amélie [sy dogter] inspireer my elke dag.”

Ook Ivan se hart loop oor.

“Ek is verlief op die gedagte om ’n baba saam met die liefde van my lewe te hê. Donnalee is gebore om ’n ma te wees en ek kan nie wag om saam met haar hierdie hoofstuk in ons lewe te begin nie.”

Baie geluk, Ivan en Donnalee!

FOTO Aglow Photography

 Hul tweede troudag is eksklusief te sien in SARIE Bruid (nou te koop!)