Michelle Botes gloei – haar vel lyk soos porselein en haar donkerbruin hare, nog in dieselfde kort styl waarmee kykers haar destyds op kykNET se Binneland Sub Judice leer ken het, blink in die middagson by die Binnelanders-stel in Johannesburg.

“Dis die seelug!” sê sy. “Ek het ook ophou rook vir omtrent ses jaar, wat wondere vir die vel doen. Eintlik begin ek weer vir myself vaal lyk noudat ek terug is in Johannesburg ... want natuurlik rook ek weer,” lag sy.

Michelle het die afgelope sewe jaar naby Wildernis in die Suid-Kaap gewoon. Daar, vertel sy, het sy nooit grimering gedra nie. “Ek het byna nooit vir myself in die spieël gekyk nie. Dit het my so goed gedoen, my vel het vernuwe, want ek het van binne vernuwe.”

Aanhangers was geskok toe Michelle van hul skerms af verdwyn toe sy in 2013 uit Johannesburg weg is – op die kruin van haar sukses. Nadat sy Binnelanders in 2010 verlaat het, was sy eers weer vir  so drie jaar as Isidingo op SABC3 se gunstelingfeeks, Cherel de Villiers, te sien, voor sy sak en pak af is Kaap toe. “Ek was op pad na ’n vriendin se plaas op Bathurst in die Oos-Kaap, maar toe ek oor daai heuwel ry en Wildernis in die mis sien lê, op ’n dag wat dit so liggies gereën het, moes ek stilhou. En toe bly ek.”

Daar, vertel sy, het sy haarself aan die natuur en ’n rustiger leefstyl oorgegee. Sy’t gestap, geskryf, vuurgemaak, hout gekap, trom gespeel, gedans, mandalas in die sand op die strand geteken, en byna niemand gesien nie.

En nou, uitgerus en weer lus vir die lewe in die stad, is sy sedert Augustus terug in Binnelanders as Ingrid Jordaan. “Binnelanders het nou my hart,” sê sy. “Dit bied die uitdagings wat ek nou nodig het. Om rustig te wees met wie ek is en waar ek is, om stil te staan. Ek het voorheen dramaties geleef – alles aangegryp, soos ’n Don Quixote. Nou is ek net – nie die redder nie, nie die slagoffer nie, nie die survivor nie. Ek is net.”

En sy’s ligter, vertel sy, op verskeie vlakke. Want sy het swáár gedra voor sy weg is, so swaar dat sy haarself in al haar “bagasie” verloor het en haar kern weer moes vind.

FOTO Marijke Willems

“Ek moes wegkom, alles agter my laat. Dit het vir my begin voel dis byna ’n geval van wegkom of doodgaan. Ek was uitgebrand. Ek het teen shutter speed geleef, die een ding ná die ander, ’n aanhoudende gejaag. Ek is trots op wat ek gedoen het om op daai moeilike punt te kom, nie spyt dat ek myself uitgebrand het nie – ek het alles gegee. Vir werk, vir my kinders. Maar ek het begin siek word. Veluitslae gekry van byna enige chemikalie, van wasgoedpoeier tot produkte op stel. Ek het kortisoon gekry om kontrakte na te kom, eerder as om tyd af te vat; ek was opgeblaas en oorgewig. My brein was wasig en soms sou ek sukkel om sinne agtermekaar te sit, of ek sou my lyne vir die volgende dag leer en dit dadelik vergeet. Ek kon nie slaap nie, en wanneer ek het, was dit droomloos. Ek was nie meer gelukkig nie. Deur die jare het ek soveel onder druk gedoen en gedink ek kan dit hanteer, maar toe haal dit my in. En hoe sterker jy is, hoe harder moet jy geslaan word, omval, om bereid te wees om te stop en dinge weer reg te maak. As ek nie siek geraak het nie, sou ek nie gestop het nie.”

Daar, in die bos naby Wildernis, vertel sy, het sy so baie gehuil, dit het vir haar begin voel asof haar oë se vorm verander. Sy het haar “emosionele kas” skoongemaak, sommige dinge uitsorteer, ander dinge uitgegooi. “Al daardie skille moes afval, sodat ek weer my kern kon sien.”

Om haar siel te genees het sy vir die eerste twee maande letterlik niemand gesien nie. “Ek het ure lank op my eie gaan stap, onder bome gesit en skryf, saam met otters in bergpoele geswem, met diere gepraat. Dit klink ‘lala’, maar ek wás lala!” lag sy.

“Om so alleen te wees maak jou mal. Maar dis soms nodig. Ek het hier en daar sessies met terapeute gehad, maar het gevoel dis nie die regte tyd nie. Ekhet geweet ek moet alleen wees, die natuur voel, my hart weer vir die lewe oopmaak. Daarom het ek buite Wildernis in die natuur gewoon, nie eens op die dorp nie. Ek het plek ná plek gehuur, want dit was deel van my pad om nie aan iets vas te wees nie.”

Maar net toe sy beter begin voel, het die lewe haar nog ’n harde hou toegedien. Haar seun, Daniel (26), het kanker gekry. “Skielik was ek gedwing om oor te gee, om te leer die lewe is nie in my hande nie. Jy kan niks doen om dit beter te maak nie, jy kan maar net daar wees vir jou kind. Daniel, toe 22, het by my kom woon en dit was lewensveranderend vir ons almal, daardie jaar se chemo. ’n Rite of passage om te sien dat die lewe so hard kan klap. Daniel het ophou drama studeer en toe hy beter was, besluit om die lewe te gaan ontdek, te reis, eerder as om sy studies voort te sit. Dit was die moeilikste ding wat ook ek al beleef het. En daarna was ek vodde. Jy besef nie hoe erg dit is tot ná die tyd nie.”

Dit was ’n sameloop van baie faktore wat haar in die begin op dié selfontdekkingsreis gestuur het, het sy naderhand besef, en natuurlik het haar kind se siekte ook later tot verdere selfondersoek bygedra.

“Eers was daar die feit dat my kinders uit die huis is [haar dogter, Cara, nou 30, was eers in Londen vir ’n oorbruggingsjaar en woon en werk deesdae as aktrise in Durban]. As ma is jou kinders so ’n groot deel van jou lewe. En wanneer hulle groot is, vra jy jouself, wat nou? Boonop was my loopbaan op ’n hoogtepunt en ek het nie geweet wat volgende nie. En die menopouse, toe ek daar in die bos was! En toe Daniel. Dit alles het saam ’n hele nuwe lewensfase beteken, maar ek het nie geweet hoe om dit aan te pak nie. Ek het myself verloor, en moes weer ‘in lyn’ kom.”

Die antwoord, ná alles? “Die lewe is ’n misterie – jy moet aanvaar jy is nie in beheer nie en dat dinge voortdurend kan verander! En jy moet dan saam verander. Verandering is eintlik ’n begin, nie ’n einde nie. Voor ek weg is, het ek daardie misterie van die lewe en geloof in ’n groter plan verloor. As jy dit verloor, verloor jy alles. En toe ek dit terugkry, het dit nie meer saak gemaak waar ek is nie. Alles was weer ’n avontuur!”

Haar spirituele reis het ook nie geëindig sedert sy terug is nie – sy’s nou net weer “minder mal”, skerts sy.

FOTO Marijke Willems

“So iets is mos ’n aanhoudende proses, jy moet jouself aanhou ontdek. Anders kom jy op die punt waar ek was voor ek weg is. Nou maak ek meer tyd vir myself en vir speelsheid, om die lewe te ontdek en te geniet. Ek mediteer, ek verkyk my aan al die pragtige bome in die stad, en ek dans – minstens twee keer ’n week.”

Michelle klink gelukkig – borrelend, eintlik, asof sy ’n nuwe kans op die lewe gekry het. Sy skryf baie daarvan toe aan Biodanza, ’n dansterapie wat jou help om in voeling met jouself en jou emosies te wees, en ook dié van die mense om jou. “Dis ongelooflik! Ek het daarmee begin toe ek terugkom en binne vyf maande het dit my heeltemal verander. Jy dans, soms op jou eie, soms met mense, maar dis baie terapeuties. Ek is nog altyd ’n alleenloper – miskien twee of drie nabye vriendinne, maar dis dit. Nou wil ek weer om mense wees. Ek kan myself weer oopmaak, ontvang, en gee. Ek wil weer verlief word, oe! Ek is nog altyd baie gelukkig op my eie, maar nou is ek gereed om liefde te gee en te ontvang. Ek leef weer met my hart.”

Sy’s ook verlief op Johannesburg, sê sy. “Om in ’n stad te woon met soveel bome en voëls, dis lieflik. En mense het soveel vryheid hier om hulself te wees en te doen wat hulle wil doen. Daar is soveel hoop in hierdie Egoli.”

Én dis vir haar lekker om weer as aktrise te werk, sê sy. In die Kaap het sy masserings gedoen, nadat sy jare gelede Kahuna, ’n Hawaise masseertegniek wat met energieë werk, geleer het. “Kyk, ek moes terugkom om weer geld te verdien, maar ek wíl ook nou toneelspeel. Vir die langste tyd toe ek as aktrise begin werk het, het ek gedink dis nie wat ek wil doen nie. Maar ek het rol ná rol ná rol gekry. Die Swart Kat, toe Guillam Woudberg [nog met haar en Danie Joubert, nou Binnelanders se uitvoerende hoofregisseur, in die hoofrolle], toe Beelde, Arende, Konings ... Nou weet ek ek is lief daarvoor, dis wat ek wil hê.”

Die storielyne in Binnelanders voel ook asof dit vir haar gestuur is, sê sy. “Ingrid is deur baie – die verskriklike egskeiding van At [Koster, vertolk deur Hans Strydom]. En sy moes alleen haar voete vind. Dit het haar sterker gemaak. Ons al twee is nou terug op dieselfde plek waar ons was, maar met nuwe oë. Sy, en ek, bekyk alles nou nuut. Dis dieselfde ou geboue, dieselfde mense, dieselfde jy, maar dis vreemd en anders.”

Dan is daar ook die storielyn oor haar kind wat siek is. “Ek wou voorheen nooit in die media oor Daniel se stryd praat nie, maar nou dink ek dis belangrik, en ook om die storie tevertolk, want soveel mense gaan daardeur en jy vind soms vertroosting daarin om iemand anders se reis te volg. Dis eintlik vir my ’n seëning om ’n storielyn te vertolk waardeur ek regtig is, met ’n siek kind. Want ek verstaan. Ek het die nederigheid om dit te durf doen, om die moeilike sy van menswees op die skerm te wys. Jy moenie jok nie, jy moet jouself daarin sit, want jy skuld dit aan so ’n moeilike storie waardeur ander mense dalk op die oomblik moet veg.”

Vir nou het sy ’n vryskutooreenkoms met Binnelanders en sy weet nog nie of sy ’n kontrak sal kry nie. “Al wil ek nou die standvastigheid in my lewe hê, bekommer ek my nie daaroor nie. Vir nou is dit vir my net lekker om aan iets te werk wat groter is as ek. Ek het oorgegee; ek probeer nie meer die lewe beheer nie. Jy kan nie. Al wat jy kan doen, is om die misterie daarvan te waardeer, en om nie jou speelsheid te verloor nie. As jy genoeg speel, die lewe geniet, spoel dit die moeilike weg en maak dit dinge weer gelyk.”