En gisteraand het ’n verrassing op Neels en die deelnemers gewag. Twee nuwe vroue het by die groep aangesluit: Die stilis Efraine van Heerden en die eNuus-joernalis Nadine Theron. Ja, die einste veldverslaggewer wat elke aand om 19:00 in kykers se sitkamer kom kuier. En wat as joernalis al vir Neels ontmoet het.

Nadine gesels met SARIE.com oor haar ervaring voor die kameras.

Hoe het dit gekom dat jy op die program beland het?

Ek het glad nie ingeskryf nie. Die program se vervaardigers het my gekontak en gevra om deel te neem. Ek was nie op ’n pad om liefde te soek of lus om iemand te ontmoet nie. Maar die vervaardigers het my genader en gevra of ek ’n verrassingskandidaat wil wees. Ek is mal oor verrassings en dit het na pret geklink. Ek het ja gesê, maar het glad nie verwag om liefde te vind nie.

Nuusverslaggewer Nadine Theron is nie spyt oor haar deelname aan die program nie. FOTO Mpumelelo Maraisane

Hoe verskil so ’n tipe realiteitsprogram van ’n toep wat jou help om liefde te vind?

Vir my was dit dit dieselfde as om iemand op ’n dating app te leer ken: Jy staan net so ’n groot kans op hartbreek met Tinder of enige ander date wat jy op gaan. Met albei vat jy ’n groot kans. Die verskil is nou weet jy ten minste wie die ander meisies in sy lewe is en of hy regtig op soek is na ’n verhouding. Dit voel soos ’n veilige situasie, want dis meer gekontroleerd. Ek het geweet hy is daar om ’n verhouding te soek, so dit was amper makliker as om in die regte wêreld te date.

Sover was daar nog nie baie konflik op die program nie. Kom die vroue werklik so goed oor die weg met mekaar?

Ek dink nie almal is vriendinne nie, maar baie van ons is op die oomblik nostalgies. Ons onthou die herinneringe op stel. Dís iets wat ons met mekaar gedeel het en jy kan nie help om terug te kyk en te dink dit was baie goeie tye nie. Hoe langer mens in die proses bly, hoe closer raak jy met die ander meisies, want julle gaan saam deur dit.

Die vroue se aankoms by 'n "bonfire"-geleentheid op die stel van Op My Eish! FOTO Mpumelelo Maraisane

Wat was vir jou ’n laagtepunt tydens die kompetisie?

Die ongemaklikste oomblikke was maar die spanning tussen meisies. Natuurlik was daar weer drama! Hoe langer jy bly, hoe dieper is jou verhouding en konneksie met die ander en hoe moeiliker is dit om die vrede te bewaar. Jy leer ken mense goed en raak emosioneel betrokke. Jy kan sien hoe hul  senuwees erg raak en hoe hulle emosioneel invested raak met Neels. Almal is ernstig hieroor, jy weet mense se harte gaan breek.

En ’n hoogtepunt?

Ek het baie diep vriendskappe gevorm, want dis iets wat niemand anders in jou lewe sal verstaan nie. Al die vroue het saam gebly, drie keer ’n dag saam geëet en eintlik mekaar beter leer ken as vir Neels! Ek het ook een van die heel beste dates van my hele lewe gehad op die show. Dit was een van die beste ervarings van my lewe. Die kykers sal beslis weet wanneer dit gebeur.

Nadine en nog vroue het mekaar beter leer ken wanneer Neels tyd saam met ander finaliste spandeer het. FOTO Verskaf / Efraine van Heerden

Het jy in hierdie tydperk die “ware” Neels leer ken?

Ons het eintlik baie min tyd saam spandeer op die duur van die program. Ek dink die enigste mens wat weet wie Neels regtig is, is Neels self. Hoe weet mens ooit of jy iemand leer ken het, veral in so kort tyd, en veral omdat jy weet hy is ’n uitstekende akteur? Ek dink nie jy weet so vinnig wie iemand regtig is nie. Jy moet lank by  iemand wees voor jy hulle regtig leer ken.

Wat is jou algemene ervaring gewees?

Dit was ’n ongelooflike ervaring. Ek het regtig myself baie geniet. Ek hou van uitdagings en het dit geniet om myself uit my gemaksone te druk. Ek is glad nie spyt ek het dit gedoen nie, want dit was ’n baie beter ervaring as wat ek verwag het. Mense is baie skepties daaroor en ek is verbaas hoe baie mense dink dis scripted met strategieë en manipulasies. Kykers ergeet al die deelnemers is net normale mense en het nie eintlik toneelspel-vaardighede nie. Hierdie was ’n baie egte ervaring. En dis eintlik my ervaring van alle realiteitsprogramme in Suid-Afrika – ons is nie soos die Kardashians nie.

Is jy bang jou kredietwaardigheid as joernalis word nou bevraagteken, omdat jy in ‘n realiteitsreeks was?

Ek dink almal moet dit mooi deurdink voor hulle op TV verskyn. Dis ’n groot risiko om jou emosionele ervarings te deel. Jy moet jouself baie goed ken om jouself so weerloos te maak op nasionale TV. Ek neem dikwels sulke risiko's in my werk. Ek sou nie ja gesê het as ek nie gemaklik was met wie ek is op hierdie stadium van my lewe nie. As jy gemaklik met jouself is, hoef jy nie te bekommer of wegsteek wie jy is nie. As mense my op TV sien en besef dat ek ook weerloos is, kan ek nie indink hoe dit my kredietwaardigheid aantas nie. Ek dink gehore weet joernaliste is ook net mense.

- Op My Eish! wys elke Donderdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).