’n Besige by en ’n blom wat son toe kyk, ’n sluipende kat en ’n sku muis. Of ’n hasie op die vlug en ’n verkleurmannetjie wat geduldig wag. Duidelik die werk van ’n kunstenaarshand. Teegoed wat in kunsgoed omtower is – so mooi soos spesiale stukkies Delft.
As leerder aan die Johannesburgse Skool vir Kuns, Drama, Ballet en Musiek (nou die Nasionale Kunsskool) het Linette ná matriek beeldende kunste studeer. Toe trou sy met die liefde van haar lewe, Chris Coetzee, en maak kinders groot. Maar oor die jare het haar talent nie verroes nie, soos haar wondermooie ontwerpe vir SARIE bewys.