Ons swem in ysige Arktiese waters en riviere wat wemel van piranhas om ons grense te toets. Ons swem vir plesier, vir oefening, vir genesing. [. . .] Ons evolusionêre voorgeslagte het vir oorlewing geleer swem; nou, in die 21ste eeu, is dit een van die gewildste aktiwiteite in die wêreld.” Só skryf Bonnie Tsui in haar boek Why We Swim.
Dís waarom ons swem, sê die menslike ysbeer Lewis Pugh, aktrise Tanya van Graan en “seekatfluisteraar” Craig Foster. Dís waarom ons terugkeer, weer en weer. Almal het as kinders die water geniet, maar mettertyd het swem vir hulle ’n ander betekenis gekry.
Dit lyk na net nog ’n fliek oor seediere. Dan, 20 minute ná die aanvang, word ’n tentakel uitgerol en Craig Foster se hand gegryp. ET? Nee, seekat! ’n Klein, nuuskierige seekat is die wysgeer in die Oscar-bekroonde dokumentêre rolprent My Octopus Teacher. Dis die verhaal van die ongewone band tussen haar en ’n uitgebrande Craig. Een wat mense dwarsoor die wêreld roer, en celebs wat hul reaksie verfilm en sweer hulle eet nooit, ooit weer seekat nie.