Refleksie-tyd

Paasfees is ’n spesiale tyd wat mense gebruik om te reflekteer, en Success Lekabe dink veral aan die betekenis agter die naweek.

“My beste herinnering van Paasfees is definitief die samesyn en die boodskap wat saam met dit kom. Paaseiers was in my grootword-jare glad nie ’n ding nie. Ons gesin het kerk bygewoon en vis was die naweek se hoofdis. Ek gebruik hierdie tyd om te reflekteer, en te weet dat ek kan lief hê, want Hy het my eerste lief gehad.”

Success Lekabe FOTO Facebook / Tussen Ons

Kos

Kerrievis en Paasfees is sinoniem, en vir Kay Karriem het “pickled fish” ’n groot aandeel in haar herinneringe.

“Dis net nie Paasfees sonder kerrievis nie. En ek verwys na die hele proses, van die soektog na die regte vis in die winkels, na die kerrie-geure wat tydens die kookproses vir almal vertel dis Paasfees.

Kay meen dat kerrievis se lekkerte ook lê in die gereg se veelsydigheid.

“Vir my is die kerrievis op sy lekkerste nadat dit ’n paar dae gestaan het en dis altyd ’n uitdaging om te kyk op hoeveel maniere ek dit kan eet, want warm en koud is ewe lekker.”

Kay Kariem FOTO Facebook / Tussen Ons

Hoor sy Paasfees, dan dink Ingrid Jones terug na haar grootword-jare in Bonnievale, wanneer die hele dorp op dieselfde tyd begin “pickled fish” maak.

“Daar was dan so walm van die “pickled fish” se soet en suur geure wat oor die dorp hang. Paasnaweek het ons almal van die Kaap af huis toe gegaan, want ons weet daar is “pickled fish”, familie en kerkdienste wat tuis wag.”

Terwyl “hot cross buns” en kerrievis bekendes is op die Paastafel, is Paas-etes vir Zelda le Grange haar ma se kookkos.

“Dit was gewoon lekker kookkos as ons tuis was. Rys, vleis, aartappels, pampoen of patats en my ma se wonderlike Roly Poly-nagereg. As ons in die Wildtuin was het ons gebraai, sommer elke dag.”

Ingrid Jones FOTO Facebook / Tussen Ons

Familie

Gedurende Paasnaweek kom gesinne regoor Suid-Afrika bymekaar, en Tracey Lange vereenselwig Paasfees met familie-tyd.

“Ons familie is groot en op Goeie Vrydag is dit ’n hele gedoente waar ons eers as huisgesin saam middagete geniet, en dan by my pa se familie gaan kuier. Paas-Sondag is die familie weer saam vir ’n behoorlike middagete.”

Zelda dink ook terug aan die atmosfeer van samesyn wat oor Paasnaweek heers.

“My gunsteling-herinnering is die diepe dankbaarheid waarmee ons as gesin saam verkeer het. Ons het in ’n Christelike huis grootgeword, en Paasfees was ’n heilige tyd van dankbaarheid.”

Tracey Lange FOTO Facebook / Tussen Ons

Nuwe planne

Terwyl Paasnaweek ou herinneringe ontlok, skep baie gesinne ook hulle eie tradisies om die tydperk te vier. Ingrid het drie jaar gelede die blink plan bedink om ’n Paasfees-boom te maak.

“Dis ’n boom uit draad waaraan ek Paaseiers, glas engele en mooi goed hang. Ek het ook die Facebook-groep waarvan ek admin is, Lockdown Recipe Storytelling Book, aangesteek, en dié mense maak nou bome laat die biesies bewe.”

Zelda le Grange FOTO Facebook / Tussen Ons

GROOT NUUS!

Tussen Ons is ’n geselsprogram waar vyf formidabele vroue saam kuier en gesels oor interessante onderwerpe. Om die tafel sit TV- en radio-aanbieder Tracey Lange, Kuier-redakteur Kay Karriem, radio-omroeper Success Lekabe, besigheidsvrou en media-persoonlikheid Ingrid Jones en skrywer en motiveringspreker Zelda le Grange. Bekendes en eksperts is gereelde gaste wat ook hulle opinies kom deel.

Die gewildheid van Tussen Ons het gelei daarna dat twee nuwe programme einde 2020 op die kassie verskyn het. Maandae is dit tyd vir Tussen Ons Medies, waartydens Dokter Darren Green mediese feite en geite ondersoek. En op Donderdae kuier Tracey in die ateljee met Tussen Ons #TBT, en dié program is propvol musiek, celebs en nostalgie.

Kyk Tussen Ons elke Dinsdag om 20:30 en Woensdag om 21:30. Tussen Ons Medies skuif na Maandag om 21:30, terwyl Tussen Ons #TBT Donderdag om 21:30 te sien is. Alles natuurlik op kykNET & kie!

Kuier weeksaande saam met die Tussen Ons-dames op kykNET & kie.

TUSSEN ONS #TBT

WAS Donderdae om 17:30

NOU Donderdae om 21:30

TUSSEN ONS

WAS Maandae en Woensdae om 17:30

NOU Dinsdae om 20:30 en Woensdae 21:30

TUSSEN ONS MEDIES

WAS Dinsdae om 17:30

NOU Maandae om 21:30

Heruitsendings word om 17:30 die volgende dag uitgesaai.