Dis op die stel van 7de Laan waar kykers haar die eerste keer leer ken het: Diaan Lawrenson.

Ja, as die geliefde Paula van der Lecq het sy aanhangers se lewe ingekleur met ’n bietjie je ne sais quoi en hope flair.

In 2016 het sy die Laan gegroet. Maar vanaand gaan kykers weer vir Paula in aksie sien. Die blondekop woon die troue van Aggie Ngwenya (Mimi Mahlasela) en Vince Meintjies (Jacques Blignaut) by. ’n Deftige geleentheid met SA ontwerper Gert-Johan Coetzee wat die trourok ontwerp het.

Paula keer terug na die Laan vir haar vriendin, Aggie, se troue. FOTO Creative Photography Guy

Volgens Diaan het haar terugkeer talle herinneringe teruggebring. “Ek was baie lief vir Paula en het vir meer as 13 jaar haar skoene volgestaan,” het sy aan SARIE.com gesê.

“Baie het al verander vandat ek die Laan verlaat het, so dit was vreemd en op dieselfde tyd lekker om weer my vriende en familie daar te sien.”

Paula en Aggie. FOTO Creative Photography Guy

7de Laan was nog altyd bekend vir hul grênd troues en dié een is geen uitsondering nie. Die sanger Jesse Clegg gaan ook daar wees om ’n liedjie te sing.

“Ek het die heeltyd met Gert-Johan gedans. Dit was heerlik! En Jesse was amazing.”

Kyk 7de Laan vanaand om 18:00 op SABC2.