1. Wat het jou aangetrek tot hierdie reeks en jou karakter Roelof?

Die span daaragter. 

2. Het dit close-to-home gevoel dat die reeks tydens inperking afspeel?

Ons álmal het ons ervaringe met inperking. Dit was beslis in daardie opsig close-to-home en ek dink elke persoon ervaar soms hul eie weergawe van cabin fever.

3. Hoe was dit om ’n reeks te verfilm tydens grendeltyd, met net vyf karakters as kernpunt?

Besonders special. Dis iets uitsonderlik as die karakters se binnelewe, ervarings en besluite (soos in die werklikheid) die hooffokus van 'n groter prentjie vorm. 

4. Hoe was dit om met draaiboeke te werk wat uit die pen van Tertius Kapp gekom het?

Soos mens in Engels sal sê, hierdie is een van die tightste draaiboeke waarmee ek al ooit te doen kon kry. Ek voel baie bevoorreg. 

5. 2020 het nie net die wêreld tot stilstand gedwing nie, maar ook gesorg vir introspeksie en selfrefleksie. Wat het jy oor jouself geleer gedurende hierdie uitdagende tyd?

Ek doen al (somtyds te veel!) selfrefleksie sedert ek met skool klaargemaak het. Dis nou al 14 jaar en introspeksie voel al vir my soos asemhaal. 2020 was geen uitsondering nie. Ek dink daar't wel nog mede-soekendes aanboord geklim.

6. Jy het ook jou eie potgooi-reeks So loop hy maar. Watter gas het jou veral verras en wat het jy by hom/haar geleer?

So cliché soos dit klink, elke episode is vir my special. Elandré, Amalia Uys, Joe van Niekerk (die oud-Springbok), Francois van Coke... die lys gaan aan. Die podcast-episode met een van my beste vriende, Ludwig Binge, was 'n baie persoonlike deep-dive. 'n Oorhoofse les, is dat ons almal onsekerheid, uitdagings en kwesbaarheid binne ons het. Mense kan op enige podcast-app, of op my eie instagram-'bio', uit die lys van episodes gaan kies en luister...

7. Die jaar is amper op sy rug. Gaan jy iewers vir Kersfees?

Ja, Onrus! Ek is opgewonde om saam met my meisie en familie in die siel-verfrissende Davies Pool te baljaar... 

8. Watter opwindende projekte lê voor vir die nuwe jaar?

Groot gaste op die 'So Loop Hy Maar' podcast. Hopelik heelwat tv en films. En 'n geliefde kykNET-reeks* wat in Februarie 2020 sy 3de seisoen begin! 

9. Wat is die een sê-ding waaraan jy altyd koester?

Ek versamel sêgoed vanuit alle oorde. Dit help mens om die lewe te navigate. As ek angstig voel, help dit my deesdae om die gevoel te downgrade deur op iets anders te fokus en die angs minder aandag te probeer gee.

* Uiteindelik! Dis die derde seisoen van Boekklub!