Dit vat ons nie lank om agter te kom wat die bron van die onaardse geluide is nie. Net bokant die huis se dak is ’n liederlike nes van saamgeraapte takke. Op die nes sit ’n hadeda-ma. En skree. Net ’n entjie van haar in die boom sit die hadeda-pa. Hy skree nóg harder. Ons staan nog so en kyk, toe sien ons dit.
’n Kuiken wat skeef onder sy ma se vlerk sit. Liewe genade, dit is die lelikste dingetjie wat ek nog ooit gesien het. ’n Vaal gedroggie met ’n onnatuurlik groot snawel. Die kuiken lyk soos ’n hopie vere met ’n sekel wat by sy kop uitsteek.
’n Hadeda is nie my gunstelingvoël nie. Waar ek grootgeword het, word hulle kankane genoem. ’n Kankaan is nie ’n voël wat sing nie, hy gil. ’n Aaklige klank. Die mense van my streek sê daar is ’n goeie rede vir ’n kankaan se geskree, want sien, eintlik ly hulle almal aan hoogtevrees. Hy skree van skrik en woede en frustrasie. Vlieg daar ’n swerm kankane oor jou, dan is dit nie net die afskuwelike geskree wat jou verontrus nie, hulle bemis jou ook. Moenie opkyk as jy ’n kankaan sien nie. Vlug.