Wat is die grootste wanopvatting wat mense oor jou beroep het?

Dat ons gewoonweg weeraanbieders is. Dat ons net vinnig ingaan ateljee toe en die weer aanbied. Maar 90% van my dag bestaan uit die voorspelling van Suid- Afrika se weer. Die ander 10% is dieaanbied daarvan.

Hoe verloop jou dag as meteoroloog?

Dit begin met die notering van waarnemings – insluitend temperatuur, lugdruk, vogtigheid en wind. Ons gebruik wiskundige en fisiese formules, weermodelle, satellietbeelde, radars en natuurwette om die voorspellings uit te werk. Ons is ’n paar meteoroloë in die span en elke dag het almal ’n ander verantwoordelikheid. Die laaste deel van my dag is om vinnig te gaan vir grimering en hare, die ateljee in te gaan en die weer aan te bied. Ek vertel my weerstorie, wat ek voorspel en wat ek dink mense behoort te weet. Ons lees geen teks nie, dis unscripted en ons bied die weer teen ’n groen skerm aan.

Almal in SA behoort dié drie plekke te sien ...

Die Vrystaat, ek is verskriklik lief vir die deel ... veral die Oos-Vrystaat by Golden Gate se wêreld. Ons het ’n plaas naby Clarens en ek is ook op ’n plaas in die Vrystaat getroud. Die Drakensberge is ook ’n moet, gaan doen ’n staptoer ... dis net besonders. Ek en my man, Dewald, is ook baie lief vir die see, so almal moet ’n trippie op teen die Weskus doen. En gaan kyk die blomme in Namakwaland. Ons het ’n mooi land!

Het jy nog hoop vir die land?

Ek is ’n positiewe mens en so lief vir Suid-Afrika. Maar die geweld teen vroue en kinders raak ons almal. Ek glo gebroke gesinne – veral dié sonder ’n pa-figuur – is die grootste rede vir die geweld. Ons moet vir ons leiers en vir die mans in die land bid. En ons kinders, veral seuns, grootmaak met respek, liefde en ’n standvastige huishouding waar hulle veilig voel.

Maak klimaatsverandering dit al hoe moeiliker om die weer te voorspel?

Klimaatsverandering is nie ’n nuwe verskynsel nie. Maar dis vir seker ’n werklikheid, die bewyse daarvan is die toename in erge weer en die verhoogde oseaantemperature. Ons seisoene skuif ook aan, ons somers raak langer en herfs en lente korter. En sekere menslike aktiwiteite versnel die proses van aardverwarming. Dit maak dit beslis moeiliker vir ons as weervoorspellers om geheel en al akkuraat te wees.

Hoe kan ons ’n verskil maak?

Plant ’n spekboom of ’n boom, herwin, hergebruik en as jy kan, stap eerder of ry fiets. Ry saam met kollegas pleks van elkeen in sy eie voertuig. Jy kan ’n verskil maak, al is dit hoe klein.

Watter seisoen is jou gunsteling?

Herfs, as die blare so verkleur ... o, daar is niks mooier nie! Dis die perfekte seisoen in Kaapstad, die wind waai dan nie meer nie.

Wanneer het jy besef jy wil ’n meteoroloog word?

Ek was nog altyd gefassineer deur die wolke, die weer en die donderstorms. Ek kom van die Jakarandastad af, so ek is gewoond aan donderstorms. Ek het as kind wakker gebly en geluister hoe die wind loei en die donderweer woed. Maar ek het nie geweet jy kan dit studeer nie. Dit was ook nie my oorspronklike plan nie.

Wat was jou oorspronklike plan?

My eerste liefde bly wiskunde. Dit pas gelukkig mooi in by my beroep. Ek het wiskunde aan die Universiteit van Pretoria studeer, maar toe vat ek meteorologie as ’n vak en raak verlief daarop. Ek het my honneurs daarin gedoen en daarna by eNuus aangesluit.

Kan jy jou eerste dag onthou?

Dit was 23 Desember 2014. Ek moes eintlik die vorige dag al aangebied het, maar was hopeloos te bang en my arme kollega moes vir my instaan. Ek was aaklig ... ek het dit amper soos voorbereide lees aangepak. Ek het talle haat-e-posse gekry van kykers af ... ek praat snaaks, ek lyk snaaks, ek is te jonk. Maar ek het net nie opgegee nie en elke keer probeer verbeter. Ek het ten spyte van alles aangehou glo in wat ek doen en hoekom ek dit doen.

Herken mense jou?

In Kaapstad herken die Engelse mense my, veral in die gimnasium. Maar in Pretoria het ek baie aanhangers, veral by die ouetehuis waar my ouma woon. Sy is my grootste aanhanger.

Het jy al ’n blaps gemaak?

Wel, ek onthou in die begin het [oud-nuusleser] Riaan Cruywagen my persoonlik gebel en gesê: ‘Annette, daar is nie ’n woord soos warder nie ... dis warmer.’ Ek het so simpel gevoel! Ek het ook soveel dorpe se name verkeerd uitgespreek, kykers het my gou laat weet. En eenkeer het ek die data verkeerd ingetik en arme Mariental in Namibië het toe ’n temperatuur van 331 grade Celsius gehad.


Het jy ’n fobie?

Ja! Ek is ongelooflik bang vir bloed en val maklik flou as ek dit sien.


Jou laaste maaltyd op aarde?

Kaas en wyn, ’n glas goeie rooiwyn.

Het jy ’n lewensleuse?

As God jou kompas is, sal jy nooit verdwaal nie.

Annette se gunstelinge

Kleur: Groen

Item in jou klerekas: Sneakers

Kos: Potjiekos

Droomvakansie: Filippyne

Plek om uit te spreek: Bredasdorp