Keer op keer wys Suid-Afrikaners dat hul talente ken geen perke nie. Geen droom is te groot nie, hulle én hul drome is waardig. 

Op Strictly Come Dancing is daar drie Suid-Afrikaners wat tans gatskop! Een, Motsi Mabuse, sit in die beoordelaarstoel en gee ongelooflike raad, haarfyn kritiek en eindelose insig. Die ander twee, Oti Mabuse en Johannes Radeba, dans met soveel passie, die dansvloer slaan aan die brand. En ja, al bly hulle nie meer in Suid-Afrika bly hulle steeds trots SA. Hoe dan anders? 

Trots Suid-Afrikaans! Johannes Radebe, Motsi Mabuse (MIDDEL) en Oti Mabuse kook op Stricly Come Dancing! FOTO’S Instagram / Johannes Radebe ; Intagram / Motsi Mabuse ; Instagram / Oti Mabuse

Het jy geweet? Motsi en Oti is susters! Motsi het aanvanklik regte aan die Universiteit van Pretoria studeer, maar in 1998 het sy besluit om haar drome as danser na te jaag. Kort voor lank het sy groot sukses behaal oorsee en Duitsland toe verhuis. Haar suster, Oti, het ingenieurswese aan Universiteit van Pretoria studeer. Sy het nes haar ouer suster die drome van dans gevolg. Sy het verlede jaar die Strictly Come Dancing-kompetisie met Kelvin Fletcher gewen. 

1. Strictly Come Dancing het pas teruggekeer vir sy 18de seisoen. Watter belangrike lesse rakende karakter en die lewe het hierdie program jou geleer?

Oti Mabuse: Hierdie program het vir my soveel dinge geleer, veral as dit by myself kom: Hoe ver ek myself kan druk? Hoe kreatief ek myself kan uitdruk? Dit het my op geestelike, emosionele én fisiese vlak uitgedaag. Ek dink nie daar is enige ander program wat jou so kan uitdaag soos Strictly nie, daai gevoel van vervulling wat jy ervaar as jy gewen het. Jy laat jou gesin, jou leefstyl agter en jaag ’n droom na ... jy kry waagmoed om dit na te jaag. Ek is so dankbaar vir dit ... ek het van my beste vriende op Strictly ontmoet. En my familie was al ook op die reeks. Eintlik het ek nog familielede bygekry, ek het nie familie wat in Engeland woon nie. Só Strictly vul daai leemte! 

Johannes Radebe: Hierdie geleentheid het my geleer dat ek waardig is, dat ek genoeg is. Vir ’n lang tyd in my lewe het ek vasgelo dat dit nie die geval was nie. En toe Strictly oor my pad kom, het ek in myself en in my vermoë begin glo. En ek hoop dat dit vir alle swart seuns in townships sal wys dat hulle ook sulke drome kan én mag bereik. Dit maak nie saak waar jy vandaan kom nie, jou drome kan waar word. Ek het danksy Strictly ook meer selfvertroue in wie ek as mens is. Ek het nie gedink ek het dit in my gehad om in ’n ander, vreemde land te gaan woon nie ... Maar Strictly het gewys dat ek kan, dat ek sterk genoeg is. Ek het ’n familie gevind, ek is nie verlore nie.

Motsi Mabuse: Om meer onafhanklik te wees. Ek moes leer om op my eie talente te kan staat maak. Ek het ook geleer dis okay om weerloos te wees.

 
Oti Mabuse FOTO Instagram / Oti Mabuse

2. Die Jerusalema challenge het nie net ’n veldbrand oor die wêreld heen versprei nie, maar ook ’n simbool van hoop en samesyn geword. Hoe laat dit jou voel as ’n Suid-Afrikaner en danser?  

Oti: Ongelooflik, dis absoluut ongelooflik! Ek is letterlik gevul met onblusbare trots. Ek kan nie vir jou sê hoeveel Jerusalema-videos ek al gekyk het nie, gedeel het, gewys het nie. Suid-Afrikaanse musiek is net uniek ... en ook hoe ons dans. In een Strictly-item vier ek en Johannes Suid-Afrika, wie ons en hoe ons dans. Hierdie uitdaging laat my aan huis dink ...

Johannes: Suid-Afrika is geseën met ongelooflike talent. En die feit dat die wêreld dit nou raakgesien het, is ongelooflik. Ek is seker Master KG (skrywer van Jerusalema) se ma is buite haarself van trots ... sy is so trots sy weet nie wat hom daarmee te maak nie. Hy bereik letterlik die wêreld met sy musiek. Hoe kan ’n mens nie trots wees nie?

Motsi: Genade ek is gek oor hierdie uitdaging. Ons vier Suid-Afrika. Ons vier sy menswees, ons vier die potensiaal van SA, wat ons kan wees.

 
Johannes Radebe FOTO Instagram / Johannes Radebe

3. Watter tipe dans is die moeilikste om in die kompetisie baas te raak?

Oti: Elke genre bevat sy eie uitdagings. Dit hang als af van jou spanmaat, die bekende met wie jy dans. Maar as ek nou eerlik moet wees, die genre waarvan ek die minste hou is die foxtrot. O, nee ek is nie ’n foxtrot-meisie nie.

Johannes: Nie almal kan die samba dans nie. Dis net een van daai danse wat jou kan maak of breek. Dis vir mense gemaak soos Oti, wat jou letterlik in ’n koma kan samba.

Motsi: As beoordelaar is daar drie danse wat mense kan gooi: Samba, ramba, chacha en foxtrot. Jy moet sterk wees, jy moet selfvertroue hê.

 
Motsi Mabuse FOTO Instagram / Motsi Mabuse

4. Watter genre sou jy wees en hoekom?

Oti: Samba ... Ek hou van die ritme, dit maak my gelukkig! Daai dromme laat my aan huis dink.

Jo: Ja, okay ... die samba (LAG)

Motsi: Moenie die cha-cha vlak kyk nie. 

- Strictly Come Dancing kan elke Sondag om 19:00 op BBC Brit (DStv-kanaal 120) gekyk word.

SARIE se gunsteling-oomblikke uit Strictly

Hierdie oomblikke het ons voete behoorlik laat jeuk! Watter een was jou gunsteling?