SARIE Voorbladgesig word met trots geborg deur Isa Carstens Akademie en Lavish'd.

SARIE Voorbladgesig word met trots geborg deur Isa Carstens Akademie en Lavish'd

Dis wie ek is . . .

Emme Scholtz, ’n 31-jarige laerskool-onderwyseres van Somerset-Wes. Ek en my tweelingbroer, Tomas, is op Kersdag gebore. Ons het ’n ouer broer, Marc. Ek en my man, Jacques, het ’n 4-jarige dogtertjie, Anna Hazel, en 2-jarige seuntjie, Kai Levi. Hoe ek myself sal beskryf? Kreatief, goed georganiseerd en passievol met ’n hart vir mense. 

Om SARIE se nuwe Voorbladgesig te wees . . .

Ek word nie maklik verras nie, maar dit was my grootste verrassing ooit – ek het dit nóóit verwag nie. Die 30-sekonde-video waarin ek myself kon voorstel [op SARIE se Instagram], was klaar ’n groot eer. Nooit in my wildste drome kon ek dink ek sou vir só iets inskryf nie, en nog minder SARIE se Voorbladgesig-wenner wees! Wat ’n gróót voorreg om SARIE te verteenwoordig. Dit beteken vir my baie dat my egtheid genoeg was. 

Kinderjare

Waar is jy gebore? En grootgeword?

Gebore en getoë op Somerset-Wes. Ek was in die Laerskool De Hoop en Hoërskool Parel Vallei. Daarna het ek op Wellington onderwys gaan studeer. Tans is ek ’n graad 1-leerkrag by die Laerskool Beaumont en woon steeds op Somerset-Wes.  

Jy is deel van ’n tweeling!

My ouers, Celia en Hans Degenaar, het gedink hulle kry twee seuntjies. Toe ons op Kersdag gebore is en hulle besef ek is ’n dogtertjie, noem hulle my sommer Emme aangesien my pa daardie dag Emme-jeans gedra het. Die enigste tyd wat ek en Tomas saamgestem het, was tydens huisvergaderings. Ons wou meer sakgeld hê en later gaan slaap, nes [ouboet] Marc. En ons grootste straf was as my ma vir ons gesê het ons mag nie met mekaar praat nie. Albei van ons is in matriek tot die leerlingraad verkies. Dankie tog! Ek het egter voor hom my rybewys gekry. En ons het nie dieselfde vriende gehad nie. Albei van ons is wel saggeaard en kreatief. 

Emme beskryf haarself as kreatief, goed georganiseerd en passievol met ’n hart vir mense. FOTO Tracey Baard Photography

#JyIsGenoeg 

Ware geluk is . . .

Om jouself te aanvaar en om selfvertroue te hê in die persoon wat God jou gemaak het. 

Jy kan twee vroue oornooi vir tee.

Die skrywer en digter Maya Angelou – ek sou vir haar ’n drukkie wou gee. En die musikant en skrywer Morgan Harper Nichols.

Boeke wat jou inspireer?

Carolyn Mahaney se Feminine Appeal: Seven Virtues of a Godly Wife and Mother, en Charlie Mackesy se The Boy, the Mole, the Fox and the Horse.

Jou een les vir ander?

Wat probeer jy alles in die lug hou: Jou werk? Verhouding? Ma-wees? Vriendin-wees? As dit die vloer tref, laat toe dat mense jou onvolmaaktheid sien en jou herinner wie jy regtig is. Wees jouself. Jy is genoeg.

Wat dra jou deur moeilike tye?

Spreuke 4:23: “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.” 

"Sy is met een woord, stunning!" sê Michélle van Breda, SARIE-redakteur FOTO Tracey Baard Photography / Verskaf

My taal

Hoe voel jy oor Afrikaans?

Ek dink aan samesyn. Aan saam kuier, saam gesels en lekker lag! Daar is dinge wat jy nét in Afrikaans kan sê.

As jy enige ander taal kan aanleer, watter een sal dit wees?

IsiXhosa, sodat ek dit vir my kinders ook kan leer. Ek glo daar sal baie geleenthede wees waar hulle die taal kan gebruik.

Kook & geniet

Gunstelingkos?

Grondboontjiebotter op ’n teelepel. Maar op ’n perfekte Sondag ’n lekker alfredo-pasta!

Klaskamer 101

Hoekom wou jy ’n onderwyseres word?

Ek het van kleintyd af net geweet dis my roeping en vandag weet ek dit was die regte besluit. As onderwyseres het ek die voorreg om met kinders te werk wat elkeen met hul eie “rugsakkie” kom. Elke rugsakkie is anders gepak: Soms is hulle hartseer, soms sukkel hulle met angstigheid en soms soek hulle net ’n drukkie. Maar elke kind het ’n storie om te vertel en ’n rugsakkie om uit te pak. As onderwyseres sien ek hoe die leerders blom, ontwikkel en ontdek. Om ’n onderwyseres te wees is nie net om kinders iets te leer nie, maar om self ook aan te hou leer en groei.    

Goed wat ons by kinders kan leer?

Onvoorwaardelike liefde, moenie bang wees om vrae te vra nie, wees aanpasbaar.

Skoonheid & styl 

Jou skoonheidsfilosofie?

Hou dit eenvoudig. 

Beste skoonheidswenke?

Doen wat reg is vir jou. Onthou sonblok. En ’n bietjie maskara maak ’n groot verskil!   

Beskryf jou styl.

Gemaklik . . . Skinny jeans, ’n trui, pofbaadjie en enkelstewels.

Gunsteling-items in jou klerekas?

Pofbaadjie en sokkies.

"Dit was my grootste verrassing ooit – ek het dit nóóit verwag nie," sê sy oor haar titel as SARIE Voorbladgesig 2021

Oos, Wes, Tuis Bes

Watter drie plekke behoort elke Suid-Afrikaner te sien?

Paternoster aan die Weskus, Tafelberg in die Kaap en die Boland se Stellenbosch.

Wat maak jou trots Suid-Afrikaans?

Ons land se mense. Ek en my gesin was tydens die onluste in Durban. Net om te sien hoe mense bymekaargekom het om ander te ondersteun het my baie trots laat voel.   

LIGTE, KAMERA, AKSIE

Jou lewe word verfilm. Die temalied?

“This Is Me” uit die fliek The Greatest Showman

I am brave, I am bruised

I am who I’m meant to be, this is me.         

Blaai deur Emme se foto-album                                     

SARIE Voorbladgesig word met trots geborg deur Isa Carstens Akademie en Lavish'd.

SARIE Voorbladgesig word met trots geborg deur Isa Carstens Akademie en Lavish'd