Die perfekte troue ...

In 2018 het ons op 21 Oktober, oftewel Tuindag, verloof geraak. As ons toe net geweet het hoe 2020 sou uitspeel en wat dit als sou inhou, het ons seker nooit gekies om tot dan te wag nie, sodat ons die perfekte troue kon beplan nie. 2 Mei 2020 - ons oorspronklike troudatum. Dit het so perfek geklink, die volmaakte dag vir #FinallyFouche ... “2” verteenwoordig immers harmonie, balans en samewerking. 

En hier is ons nou. 

Vier probeerslae later gaan ons op 4 September 2021 trou. Ek en Marion moes ’n paar keer kopskuiwe maak oor ons idees en gedagtes rakende ons “perfekte”  troue. Buiten die simboliek agter nommer 4 (dit simboliseer volledigheid), het Marion my ook herinner dat ons op 4 September vir die eerste keer gesoen het. 10 uit 10 vir Marion wat die belangrike datums van ons verhouding onthou.

Elke uitstel het teleurstelling ingehou en ná die derde uitstel het ek en Marion saam besluit ons enigste doel is om net amptelik met mekaar te trou. Ja, dis lekker om ál jou vriende en familie daar te hê. Ja, dis lekker om ’n groot troue te hê. Maar vir die eerste keer het ons ’n besluit geneem vir onsself en nie vir ander mense nie. Die keuse van ons dag is op die beginsel van ’n wegholtroue gebou [intiem en klein] en ons is nie een dag spyt nie.

Die gelukkige paartjie: Schané en haar verloofde, Marion Fouché. FOTO Instagram / Schané Venter

Wenke vir bruidspare

Jou hele idee en prentjie van ’n perfekte troue verander as jy eers werklik besef waaroor die dag eintlik gaan. Hierdie is ’n paar dinge wat ons as bruidspaar gehelp het gedurende die proses.

1. Die dag is vir julle

Maak besluite vir jou dag oor wat júlle wil hê en nie ter wille van ander mense nie. As ons dít van die begin af gedoen het, sou ons seker al lankal ’n klein en intieme troue beplan het. Beplan eerder spesiale oomblikke vir jou en jou geliefde en maak dit ’n ervaring in stede van ’n gebeurtenis.

2. Waaroor gaan dit regtig?

Vergeet vir ’n oomblik van al die “ander goed” rakende troues en onthou waaroor dit eintlik gaan: Jy maak ’n belofte aan die liefde van jou lewe om ewige trou aan hom of haar te beloof.

3. Die regte lys

Verander jou “wenslys” eerder na ’n lys van dinge wat vir jou ononderhandelbaar. Probeer om die lys tot 10 dinge te beperk, sodat jy nie weer in die lokval trap van te veel nie. Myne sluit in: ’n dominee, ’n trourok, ’n pak vir die bruidegom, hare & grimering, ’n fotograaf, ringe vir albei, baie sjampanje, lekker kos, lekker musiek en slegs ons naaste (direkte) familie en vriende. Jy sal verbaas wees hoeveel onnodige dinge op jou lys is waarsonder jy eintlik kan klaar kom. As jy daardie paar goed by jou troue het is jou boksies getick. Alles anders is net nice to have’s.

4. Jou gastelys

’n Vriend het een van die belangrikste goed vir ons gesê en ons onthou dit tot vandag toe: Die mense wat jy na jou troue toe nooi, is die mense vir wie julle toestemming gee om deel te wees van jul troue en op ’n goeie manier “in te meng” in jul huwelik, want julle het hulle gekies om getuienisse te wees. As jy só daaraan begin dink, dan sal jou gastelys aansienlik kleiner word.

Schané se idee van die perfekte troue het aansienlik verander. FOTO Instagram / Schané Venter

5. Is tyd regtig ’n faktor?

Moenie dit vir jouself kompliseer nie, jy kan regtig ’n troue in ’n maand reël. Laat gaan van die wêreld se druk van hoe troues moet wees en maak jou eie reëls op!

6. Sluit jou aanstaande in

Maak jou aanstaande deel van die beplanning, hy/sy sal jou verbaas. Gee vir hulle takies waarvan hulle sal hou.

7. Dis ’n fees nie ’n produksie nie

Nooi net genoeg mense, sodat dit ’n feesviering van julle twee is en nie in ’n produksie ontaard nie. Vir ons was dit ’n reël dat ons niemand na ons troue toe gaan nooi, wat ons nog nie ontmoet het nie. Hoe kleiner en meer intiem jou troue is hoe meer spesiaal gaan dit wees.

8. Gooi perfeksie by die deur uit

Laat gaan die obsessie om alles perfek te wil hê, dis okei as dinge spontaan gebeur.

9. Venue

Gebruik ’n venue wat spesialiseer in wegholtroues, want hulle pakkette en pryse is uitgewerk om dit so te akkommodeer.

 
Uiteindelik gaan Schané en Marion in die maand van September trou. FOTO Instagram / Schané Venter

- Hou SARIE.com dop vir die troustorie en troufoto’s.

SARIE is al vir dekades dié inspirasie vir bruide. Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry. Vir meer, gaan na SARIE Bruid: (ver)koop my rok & ander dienste.