SARIE Voorbladgesig is trots geborg deur Isa Carstens Akademie en INOAR

Wat is jou planne vir die feesseisoen?

Hierdie vakansie-seisoen besoek ons Kaapstad, dit sal ons eerste keer in die moederstad wees. Ons is so opgewonde en dankbaar dat ons tydens hierdie moeilike tye vakansie kan hou.

Kersfees-tradisie kom ons gesin gewoonlik bymekaar met ’n groot middagete. Kersfees sal nooit Kersfees wees sonder ons tradisionele klein-poeding en Mariah Carey wat in die agtergrond speel nie.

Wat is jou planne vir die nuwe jaar?

Ek het normaalweg nie ’n nuwejaarsvoorneme nie, maar stel wel vasgestelde doelwitte vir myself.

My planne en doelwitte vir die nuwe jaar is om ’n nuwe loopbaan te begin, mooi na my gewig te kyk, internasionaal te reis en my blog en YouTube-kanaal te groei! 

FOTO Phyllis Green
FOTO Phyllis Green

Wat het jy nuut geleer vandat jy jou Voorbladgesig-reis begin het? 

Om in die top-10 te wees, het my laat besef dat ek saak maak en dat my drome en doelwitte saak maak. Ek voel dat ek baie moedig geword het om my passies en my doelwitte te volg.

Ons sê dikwels die lewe is kort, maar ons volg nooit regtig ons drome en doelwitte nie. Hierdie jaar moes ek my vrese omhels en meer waag om 'n gelukkige en sinvolle lewe te lei.

Die SARIE-kompetisie het my die versekering gegee dat ek genoeg is. Dat ek sterk, bekwaam en dapper is. Dit het vir my ’n hupstoot gegee om nuwe geleenthede en nuwe loopbaandoelwitte aan te durf.

Watter verhouding het jy met jou vel en hare?

Dit is vir my belangrik om na my vel en hare te kyk. As jy ’n gloeiende en stralende vel het, is jy outomaties meer selfversekerd. Ek het ’n droë vel, en ’n gereelde ‘scrub’ help my met ’n gladder gelaad, terwyl daaglikse bevogtiging vir my ’n gesonde gloed te gee.

As kind het ek lang, reguit swart hare gehad, my hare gee my selfvertroue en dit voltooi my voorkoms. Ek is iemand wat van verandering hou, en ek sny my hare dikwels, want ek raak vinnig verveeld met een styl.

FOTO Phyllis Green
FOTO Phyllis Green

Hoe bly jy positief oor die toekoms? 

Daar kan nie pragtige blomme, plante en groen gras wees sonder reën en donderstorms nie.

Ek is oor die algemeen ’n positiewe persoon, en van nature ’n optimis. Tydens hierdie pandemie was dit vir my belangrik om ’n positiewe houding te handhaaf, nie net vir myself nie, maar ook vir my kinders. Veral vir my seun wat in matriek is en my man wat deel is van die noodsaaklike dienste.

Ek glo altyd dat iets goeds hieruit sal kom, alhoewel ek nie kan vasstel wat dit gaan wees nie. Dit het my opnuut dankbaar gemaak vir alles wat ek in my lewe het. Ek was ’n vrywilliger wat kospakkies uitgedeel het aan behoeftiges, dit het my oë weer oopgemaak, en ek het God daagliks bedank vir my seëninge.

My plek in SARIE Voorbladgesig se top-10, was ook tot dusver een van 2020 se mees fenomenale uitkomste. Dit het my soveel hoop vir die toekoms gegee!

FOTO Phyllis Green
FOTO Phyllis Green

Die lewe is besig! Is selfsorg vir jou belangrik? 

Selfsorg is baie belangrik, want ons kan nie uit ’n leë koppie skep nie. Ons moet goed na ons liggame, gedagtes en siele omsien. Dit laat my bemagtig voel en in beheer van my lewe. Ek sukkel gewoonlik nie met balans nie, want ek het geleer om nee te sê vir enigiets wat my nie dien nie of wat nie met my doel strook nie. Covid-19 was in daardie opsig ook ’n seën, ek het die vrye tyd nodig gehad om my te besin en om myself te herontdek.

Ek geniet my “me-time” op ’n Sondag. Ek hou daarvan om ’n lang borrelbad te neem met sagte musiek op die agtergrond. Ek sit ’n haar- en gesigmasker aan en ontspan net. As jy na jouself omsien, sal jy sekerlik die beste weergawe van jouself wees vir jou gesin, vriende en die gemeenskap in die algemeen.

Wat beteken SARIE vir jou?

SARIE beteken vir my bemagtiging van vroue. Dit inspireer ons om vroulikheid te omhels en jou outentieke self te wees. SARIE is die definisie van vreeslose en kragtige vroue. Ek word altyd geïnspireer deur net ’n paar artikels te lees of deur die mode-, reis- en woon-afdelings te blaai.

FOTO Phyllis Green
FOTO Phyllis Green

Wat is jou gunsteling-aanhaling?

My gunsteling-aanhaling is een van Maya Angelo:

“My mission is not to merely survive but to thrive and to do so with so passion, compassion, some humor and some style.”

Wat beteken Afrikaans vir jou?

Afrikaans is my huistaal en deel van my erfenis. Maar dis nie “perfek” nie, omdat ek baie Engelse en Afrikaanse woorde meng. Ek het na ’n Engelse hoërskool en tersiêre skool toe gegaan, wat bygedra het tot my individuele woordeskat en sêgoed. Ek is trots op hoe ek dit praat, omdat dit my unieke self definieer. Afrikaans is ’n pragtige taal met ’n interessante geskiedenis, van waar dit ontstaan het en hoe dit deur die jare ontwikkel het. My gunsteling-woord is beslis “klopdisselboom”!