Só sien ons week ná week in die kykNET-reeks In die sop. Bertus en sy span daag by ’n restaurant op, wat dringend TLC kort en ruk dit in net drie dae reg. Dekor, diens, kombuis-funksionaliteit, die naam ... enigiets kan en mag verander. ’n Restaurant-(r)evolusie!

Party eienaars is aanvanklik op hul senuwees, die broek bewe skoon. Hulle sien Bertus en voorspel ’n gillende Gordon Ramsey 2.0, wat hulle lag-lag vir brêkfis gaan opeet. Intimiderend tot die mag 10. Maar dan verras hy hulle. Bertus deel kritiek uit, sonder om af te breek, en gee raad, sonder om te verneder.

“Ek sien dikwels myself in hulle,” vertel Bertus aan SARIE.com. Hy wil nie eienaars afkraak nie, maar hy wil ook nie net ’n pleister op ’n wond plak nie. Sy enigste doel is om die restaurant in die regte rigting te stuur. “Ek het ook foute gemaak, harde klippe gekou, lesse geleer. Dis nie ’n maklike bedryf nie.”

Ja, selfs dié crème de la crème van sjefs het al restaurante oopgemaak en weer toegemaak. Daaroor is hy glad nie skaam nie. “Ek gee dikwels raad, oor ek juis daai foute gemaak het.”

En hoe gemaak as ’n eienaar hardkoppig is? Jy luister, probeer verstaan en poog om op ’n manier tot hulle deur te dring.  “Kyk, dis glad nie maklik om jou restaurant se deure oop te maak en jouself bloot te stel aan kritiek nie. Dit vat waagmoed … Ek het simpatie.”

Die effek van die pandemie is sigbaar met elke episode. Mense kry swaar, restaurante is (dikwels) stil. Is dit moeilik vir hom om dit te aanskou? “Die hartseer ding is dat die restaurantbedryf reeds swaargekry het nog vóór die pandemie.” ’n Bloedneus op ’n bloedneus. 

Wat onderskei die koring van die kaf? Goeie bestuur, goeie diens, ’n kleiner spyskaart. “Maak ook gebruik van plaaslike verskaffers – die slagter, die boer, die wynmaker. Hulle is jou vriende.”

Bertus is die trotse eienaar van vyf restaurante, wat Spek & Bone en Overture insluit, asook die pa van twee klein kinders, Theodore en baba Elizabeth. Hoe op aarde hou hy al die balle in die lug? Een woord: Mareli. “Ek sou niks sonder my vrou, Mareli, kon doen nie. Sy is die gom. Sy is my steunpilaar.”

Maar Bertus skroom ook nie om erkenning aan al sy restaurante se spanne en rolspelers te gee nie. “Dis nie die Bertus Basson Show nie. Dis ’n spanpoging, dis terugstaan en ander die kans gee om te floreer.”

 - In die Sop wys elke Woensdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).