1. Vertel meer oor jou karakter.

Susan Naude, wel sy verkies eintlik Suzie, skrik nie sommer vir ’n uitdaging of ’n moeilike situasie nie. Sy is so te sê bang vir niks nie. Dit maak van haar by tye effe roekeloos en bombasties, maar in haar kop het sy reeds al die risiko’s in ag geneem en weet dus hoe om ’n ding vas te vat en uit te sorteer. Só hard soos wat sy werk, só hard kan sy ook kuier – veral siende dat sy in ’n wildreservaat woon en werk. Sy’s die een aan wie se lippe almal rondom die braaivleisvuur hang, want sy kan ’n lekker storie lekkerder maak. Sy’s sjarmant en deernisvol, glo alles in die lewe het ’n plek en moet met respek hanteer word. Maar moenie laat haar borrelende persoonlikheid jou flous nie, want sy is ook misterieus en gee nie maklik toegang tot wat in haar kop aangaan nie. Hoe sê hulle… Those who shout the loudest usually have the most to hide.

2. ’n Sepie is vol uitdagings en lang ure. Wat het jou oortuig om deel van die Suidooster-wêreld te wees en in hierdie medium te werk?

 Ek het nog altyd ’n liefde vir film en televisie gehad, sowel as vir teater, maar dit was nog altyd ’n groot uidaging om beide op dieselfde tyd te doen. Ek was baie geseën met geleenthede wat gesorg het dat my loopbaan in teater posvat, wat nie veel tyd vir film en televisie oorgelaat het nie. Ek wou egter nog altyd televisie ’n kans gee, spesifiek sepies. Harde werk is iets wat my glad nie afskrik nie. Ek is mal oor ’n goeie uitdaging en om myself te druk om my doelwitte te bereik. Die teaterindustrie het definitief ’n groot terugslag beleef en dit het daartoe gelei dat ek met meer erns gefokus het op my televisie- en film-loopbaan. Ek was op “self-tape” nommer 120 547 miljoen ... ek het besluit ek het al soveel ‘nee’s’ ontvang, dit kan nie skade doen om net alles in te sit en te kyk wat gebeur nie.  Suidooster was ’n geleentheid wat op presies die regte tyd en die regte plek oor my pad gekom het. Sover het ek elke minuut daarvan terdeë geniet en elke dag leer ek iets nuuts. Ek is ontsettend dankbaar vir hierdie geleentheid om die rol van Suzie Naude te vertolk en ek kan nie wag om te ontdek waarheen die reis ons elkeen gaan vat nie.

 

3. Suid-Afrikaanse sepies bly ikonies. Het jy self sepies as kind gekyk en watter sepie-karakter het jou gefasineer?

 As ’n kind het ek nie baie televisie gekyk nie, ek was altyd besig of om te dans, of op die sportveld of met een of ander buitemuurse aktiwiteit. Maar ten spyte van dit, kan ek tog sê dat ek grootgeword het met Egoli in die huis. Die tye wat ek gekyk het, was ek altyd gefasineer deur Brümilda van Rensburg, asook wyle Christine Basson. In die latere jare was dit Mary-Anne Barlow en Illse Roos se karakters wat my aandag getrek het. Ek het ook verskriklik baie vir Michelle Botes as Cherel in Isidingo geniet.

4. Wie is Natasha as sy ná ’n lang dag op stel weer terug by die huis is?

Ek glo ek is iemand van wie ’n mens kan sê “wat jy sien is wat jy kry”. Met my tipe A-persoonlikheid is ek iemand wat daarvan hou dat alles by die huis in orde moet wees. Alles het sy plek, en ek kan byvoorbeeld nie in die bed klim as dit nie opgemaak is nie. Maar op ’n Sondag is daar vir my niks beter as my bank, Grand Prix op die televisie, en ’n middagslapie in my “hoodie” nie. (Ek’s bevooroordeeld wanneer dit by “hoodies” kom!) Gooi ’n bietjie springmielies, sushi of Chuckles by en ek is een gelukkige meisie.

Natasha van der Merwe vertolk die rol van Susan Naudé, oftewel Suzie. FOTO verskaf deur Suidooster

5. Kan jy jouself in vyf woorde beskryf?

5 woorde om myself te beskryf: Georganiseerd, sosiaal, lojaal, passievol, snaaks.

6. Jy speel teenoor die bekroonde Esther von Waltsleben. Wat is die een ding wat jy veral by haar geleer het?

 Sy het ’n ongelooflike kalmerende geaardheid. Haar jare se ervaring en haar manier van fokus en haarself sentreer, laat my as aktrise baie veilig voel. En dit help my om self ook kalm en geanker te wees. Ek sien uit om hierdie pad saam met haar te stap, en beskou myself as baie bevoorreg om saam met so ’n talentvolle aktrise te kan werk.

 

7. Jy het al ongelooflike rolle in die wêreld van musiekteater en teater vertolk. Teater kry swaar op die oomblik en van die teaters moes ook toemaak. Het jy nog hoop vir die kunste en dink jy teaters sal sterker terugkom?

Die terugslag wat die teater-wêreld en die kunste in die algemeen beleef het, is hartverskeurend. Ek glo dat teater in die toekoms, miskien nie nou nie, definitief sterker gaan terugkom as voorheen. Ek dink nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in die wêreld, het mense agtergekom dat teater en die vermaaklikheidsbedryf meer nodiger is as wat ons ooit besef het.

7. Jy is ook ’n radio-omroeper wat gereeld aan nuwe musiek blootgestel word. Watter vyf liedjies luister jy tans gereeld? 

Ek kan nie my dag indink sonder musiek nie, en snaaks genoeg verkies ek eintlik om na musiek te luister eerder as om televisie te kyk. Ek hou van ’n wye verskeidenheid genres, maar my 5 gunsteling-liedjies op die oomblik, in geen spesifieke volgorde nie, is:

* P!nk en Keith Urban se “One Too many”

* Sam Fischer en Demi Lovato se “What other people say”

* Lee Cole se “Honey, Let Me In”

Ek is ook mal oor sy vorige liedjie “Pink Dragons”. Ek is ’n groot aanhanger van Lee. Mag ek net sê dat Suid-Afrika ongelooflike talent het. Selfs by Suidooster ook, wêreldklas talent wat my elke dag omring.

* Galantis se “Love on me”

* Zoe Wees se “Girls Like us”