Hier en daar het hul name opgeduik, mettertyd ál meer. Maar eensklaps is dié drie aktrises bekend, elkeen besig om hul stempel af te druk en hulle stewig in ons vermaakwêreld te vestig.

Vir jare geniet ons die werk van ons bekendste en talentvolste akteurs – daardie mense wat in ons hart kruip, ons bly verras en beïndruk, later legendaries word. Nooit kan ons dink dat ander hul plek sal inneem nie, en dan, op ’n dag, word jy bewus van nuwe name, nuwe talent wat ontluik en ál meer gehoor en gesien word. Dís waar die aktrises Trix Vivier, Jawaahier Petersen en Mila Guy hulle nou bevind – elkeen besig om op hul eie manier te wys watter talent hulle het en indruk te maak, ten spyte van die onvoorspelbare tye waarin werk skaars is . . . Hulle is op pad boontoe, en mense neem kennis.

Mila Guy, Jawaahier Petersen en Trix Vivier is ons voorbladsterre vir Mei/Junie 2021-uitgawe. FOTO Leana CR

Jawaahier gesels

Aktrise Brümilda van Rensburg vra: Hoekom wou jy graag sepiewerk doen?

Ek was ’n Suidooster-aanhanger sedert die eerste episode omdat hulle die Kaap en Suid-Afrika vier, met al ons kulture en dialekte, die nuwe demokrasie verwesenlik. Ek het vier keer oudisies afgelê en nie die rol gekry nie. Terwyl ek met die telenovelle Arendsvlei besig was, bel my agent en sê daar’s ’n oudisie vir die rol van Kaashifa Mansour. Ek het gesê ek kan nie nog ’n nee hanteer nie, maar sy’t my oorreed om tog te gaan. Toe hulle my die dag bel en die rol aanbied, was ek by die lughawe om my broer op te laai en ek het amper die dak afgegil!

Bru¨milda wil ook weet: Bekendheid kan soms uitdagend wees met so ’n gewilde produksie. Hoe hanteer jy dit?

Ek het grootgeword in my pa, Taliep, se kollig en dit was nie vreemd as mense in die openbaar na ons gekom het nie. Ná sy moord was die hofsaak ’n sirkus, maar so baie mense het ons gesin ook genader om ons te ondersteun. Maar niks kon my voorberei op Suidooster nie. Kaashifa dra ’n kopdoek, en steeds herken mense my daarsonder. My karakter is aanvanklik baie op sosiale media afgekraak. Ek het myself herinner dat ek my werk goed doen as mense so sterk oor my karakter voel. Maar dit was baie moeilik.

Gekiek vir kykNET se nuwe veldtog. FOTO Willem Botha

Jou ma, Madeegha Anders, vra: Ek onthou hoe jy as vyfjarige op die tafel sou klim as jy kans kry en vir al die tannies sing. Ek moes jou altyd sê om met die kinders te gaan speel! Het jy gedink daai dogtertjie sal hier wees?

My ma is so ’n uitstekende sanger en het my al op ses begin sanglesse gee. Dan sou ek ure lank sing met my haarborsel as mikrofoon en my verbeel ek is Mariah Carey. Maar ek het nie gedink dit sal vir my gebeur nie. My ouers, hul eie sukses ten spyt, het my ook afgeraai, want hulle het geweet hoe moeilik dit is. Daar was nooit bruin aktrises op TV nie, buiten miskien Nenna op Egoli. Hoekom sal dit dan vir my gebeur? Dis hoekom verteenwoordiging so belangrik is – dis moeilik om ’n droom te hê as jy nie ’n voorbeeld het nie.

Toe behaal jy jou meestersgraad in maatskaplike werk aan die Universiteit van Kaapstad. Hoekom het jy hierdie rigting gekies?

Dit het my´ gekies. Ek wou ’n prokureur word, maar het vinnig besef ek gaan nie al my vakke slaag nie. Ek is na die administrasiekantoor toe, maar kon nie besluit wat om te kies nie. Die vrou sê toe ek moet vinnig maak, hulle wil toemaak, en in my haas laat val ek die kursusboek en dit land oop op die bladsy vir maatskaplike werk. Toe vat ek dit maar. Ek het baie vinnig daarop verlief geraak. Veral nadat my pa vermoor is, wou ek daar kon wees vir kinders wat iemand nodig het, soos toe ek iemand nodig gehad het. Om in Suidooster te kon wees moes ek dit ná twaalf jaar los en dit was bitter moeilik. Dis my hart; toneelspel my siel.

FOTO Leana CR

Wat het jou gemotiveer om jou debuutsololiedjie, “Promise Me” (2020), te skryf?

Ek was in 2016 by ’n vrouedag waar een van die sprekers, Jana du Plessis, vertel het sy het kanker en dat sy elke dag bid sy sal lank genoeg leef om die enigste ma te wees wat haar kinders ken. Dit het my diep geraak en ek het “Promise Me” binne veertig minute op pad huis toe geskryf, die emosie het net uitgevloei. Sy het dit nie gemaak nie en toe besluit ek om die lied op te neem. Ek dink dis iets waarmee enige ma kan identifiseer. Ek is so lief vir my kinders, Raadhi (8) en Ranaa (5), dit maak my soms byna naar – dis asof dit te veel is vir jou liggaam om te hanteer.

Wat is die grootste lesse wat jy by jou ouers oor die bedryf geleer het?

Toe ek my eerste werk as TV-aanbieder van An Nur – The Light kry, het my pa agter die kamera gestaan met trane in sy oë. Hy sê toe: “Jy hou vir jou so plat [nederig] soos ’n Minora-blade; ons almal bloei dieselfde kleur.” Dit het my altyd bygebly. My ma, weer, net om haar op die verhoog te sien as bruin vrou was so belangrik – sy het die moontlikhede gesimboliseer.

Die groep Jaloersbokkies waarin jy sing, is ’n viering van Kaapse klanke. Hoe lyk en klink jóú Kaap?

Ag, die Kaap, my hart! As ek dink aan hoe ons land moet lyk, dink ek aan die mense van die Bo-Kaap. Hoe hulle mekaar bystaan, hoe enige vreemdeling op Sondae ook ’n koe’sister gegee word, en ek ruik daai speserye. Ek hoor die mense lag, huil en praat in hul unieke dialekte.

Klein Jawaahier. Min het sy toe geweet watter blink toekoms op haar wag. FOTO Instagram / Jawaahier Petersen