Vashti, bekend vir haar rol as die ambisieuse Danni Hendricks in die kykNET-sepie Suidooster, beskou haarself as ’n ster uit eie reg wat binne haar vermoë steeds geskitter het tydens die pandemie.

“Die grendeltyd het my die geleentheid gegee om meer oor myself te leer en in ’n verhouding met myself te belê. Ek het ontdek dat ek baie meer het om te bied as wat ek voorheen geglo het.”

Haar vaste werk in dié uitdagende bedryf is vir haar iets om op trots te wees. Sy put ook krag uit die feit dat sy in 2017 op ’n jeugdige ouderdom vir ’n kykNET Fiësta vir Beste Opkomende Kunstenaar benoem is.

Vashti droom gróót. Sy glo vas wat vir haar bedoel is, sal haar vind. “My droom is om by ’n  Netflix-produksie betrokke te raak of om ’n rol in ’n Suid-Afrikaanse reeks of film los te slaan.”

Die grootste les wat sy al geleer het? “Moenie ’n gebeurtenis te gou oordeel nie – wat nou nadelig blyk te wees, kan in die toekoms tot jou voordeel strek. Wat nou positief lyk, kan jou dalk later negatief beïnvloed.”