KIM CLOETE

Aktrise en TV-aanbieder

FOTO Phyllis Green

Ek het geleer hoe sterk vroue is. Vroeg in die inperking het ek ’n meditasiegroep begin saam met vroue van verskillende kulture, ouderdomme en agtergronde oor die land heen. Ons het elke dag op dieselfde tyd gemediteer. Agterna het ek elke keer geïnspireer gevoel, weer hoopvol. Toe begin ek en ’n vriendin die Microcosmic Kitchen Movement. Daar is nou al sewe kombuise in die land waar vroue uit hul eie kombuis vir hul gemeenskap kos gee. Mense skenk geld en ons wys hulle presies hoe dit gebruik word. Daar was baie om oor te kla dié jaar, maar ek het ook gesien hoe goed mense kan wees.

LYNELLE KENNED

Aktrise, operasangeres en TV-aanbieder

FOTO Jana Heyns

Vir my was die jaar op elke vlak ’n uitdagende maar nodige reis na gestrooptheid. Ek was in die diepste depressie en angs vasgevang en het my geestesgesondheid begin  prioritiseer, terapie hervat en myself vanuit daardie donkerte herbou. Ek moes myself van voor af leer ken, sonder my identiteit as kunstenaar. Boonop het ek n 32 jaar weggestap van my homofobiese grootwordjare en die liefde en my queer identiteit omarm.

INGRID JONES

Stigter en uitvoerende direkteur van Mikateko Media en Tussen ons-aanbieder op kykNET & kie

FOTO Verskaf

Ek het besef hoe wyd my kreatiwiteit is. Ek het ’n boek saamgestel, genaamd The Lockdown Recipe Storytelling Book (Annake Mu¨ller Publishing, 2020), gebaseer op ’n Facebookblad wat ek begin het. Dit het ook gelei tot ons nuwe kwartaallikse kostydskrif, Koe’sister. Volgende jaar bring ek ’n jasreeks uit, #mycurrentobsession. En daarna sal ek sien wat my volgende obsessie is! Die jaar het my gewys ek is tot soveel meer in staat as wat ek gedink het. As jy iets geniet, luister na daai stemmetjie binne jou en dóén dit.

LEANNE MANAS

Aanbieder van Morning Live op SABC2

FOTO Luke Tannous

Die begin van die inperking was eintlik wonderlik vir my – dit was die eerste keer wat ek werklik ononderbroke tyd saam met my man en twee kinders kon deurbring. Toe die skole en werk begin normaliseer, het ek meer tyd vir myself gehad. Ek het geleer om my eie geselskap te geniet en om meer om te sien na my geestes- en fisieke gesondheid. Voorheen was ek eenvoudig te besig om na te dink oor wie ek as mens geword het deur die jare. Dis ’n geskenk aan jouself om daardie eietyd te hê. Dis iets waarvoor ek vorentoe wil tyd máák.

TATJANA SCHOENMAKER

Swemmer en kwalifiseerder vir die Tokio Olimpiese Spele

FOTO Verskaf

Sedert my tienerjare was my droom om aan die Spele in 2020 deel te neem en ek was s opgewonde toe ek kwalifi seer. Die teleurstelling was net so groot toe dit uitgestel word. Maar ek het geleer om na binne te kyk, op myself te fokus en die tyd te gebruik om myself te verbeter. Vanjaar het ek al twee Afrika-swemrekords oortref. Dinge gebeur nie altyd soos jy beplan nie, maar hou aan vertrou op ’n groter plan. Doen wat jy kan, en los die res in God se hande.

ISABEL ROOS

Besturende direkteur van die Isa Carstens Akademie en borg van SARIE Voorbladgesig en SARIE Nuwe Gesig

FOTO Verskaf

Ek het geleer ons moet meer aandag aan ons leefwyse en gesondheid gee. Niemand is vir jou lewe verantwoordelik nie, behalwe jyself. As dinge sleg gaan, pak ons te maklik die skuld op ander mense, ons werk, die ekonomie of ons ouderdom. Maar jy het die keuses gemaak wat jou tot hier gebring het. Ek het ook geleer om nie te wag tot als perfek is nie. Lynn Toler [regter in die TV-reeks Divorce Court] het gesê: “If I waited until I had all my ducks in a row, I’d never get across the street.” So waar!

HILDEGARDT WHITES

7de Laan-aktrise en sangeres

FOTO Willem Lourens

My grootste les was eenvoudig om dankbaar te wees. Soveel mense het hul werk, huis en selfs hul mense verloor. Dis kosbaar om jou mense om jou te hê. Voorheen het ek só hard gewerk, elke naweek iewers anders opgetree, en my man het oorsee gewerk. Skielik was ons in een land, onder een dak. Ons seuntjie, Miles (4), het so gegroei dié jaar en ons kon hier wees om te kyk hoe hy blom. Die lewe is kort, so waardeer elke oomblik saam met jou geliefdes.

EMTIA MORRISON-POTGIETER

Bestuurder van INOAR-haarsorgprodukte

FOTO Verskaf

Ek het die waarde van werk besef. Ek dink dit was my behoud tydens die vlak 5-inperking – ek het die soort persoonlikheid wat nodig het om besig te wees en ek voel bevoorreg om te kan werk. En ek het gesien dat ’n mens geduld moet hê . . . dinge gebeur op die regte tyd. Ek het so lank gehoop, gebid, gesmeek vir ’n kind, en ons seuntjie is eindelik op die vooraand van my 40ste verjaardag vanjaar gebore. Soms wonder jy wanneer dinge vir jou in plek gaan val, maar dit gebeur presies wanneer dit moet.