“Met geen man in sig nie, het ek besluit om my enkels van ’n vervelige lewe te red ... deur te veel pare Jimmy Choos te koop,” verklaar modeslaaf Sarah Jessica Parker as Carrie Bradshaw in Sex and the City.

’n Sentiment wat deur baie skoenslawe (vroue én mans) gedeel word. Die sexy snit, modieuse ontwerpe en Italiaanse vakmanskap raak ’n snaar by gesofistikeerde modebewustes aan. Jimmy Choo is waarskynlik bekender as enige ander skoen-modenaam. Dermate dat dit ’n kultusstatus verwerf het en gereeld in sepies, flieks en talle popliedjies genoem word. Soos einste Carrie se Aspoester-oomblik in die derde reeks van die gewilde TV-drama. Sy hardloop vir die veerboot, haar pers-en-blou geveerde skoen trek doer en sy roep uit: “I lost my Choo!”

Terwyl die Suid-Afrikaanse sosiale vlinder Loui Fish se biografie deur Alita Steenkamp Walking In My Choos (Lapa, 2012) heet. Oftewel: “Ek het geld, ek het selfvertroue, ek pronk in spykerhakke, hier’s my storie!”

Anders as die luuksheid waarmee die ikoniese naam geassosieer word, is die man daaragter se agtergrond nederig en sy verhaal ’n inspirasie. Datuk* Jimmy Choo Yeang Keat is in 1948 in Maleisië gebore. Vreemd genoeg is sy familienaam eintlik Chow, maar dis verkeerd gespel op sy geboortesertifikaat. (“I lost my Chow?” Néé!)

Sy pa was ’n skoenmaker op die dorpie George Town in die staat Penang en klein Jimmy het smiddae, wanneer sy huiswerk klaar was, in die werkswinkel tande getel. En dopgehou hoe sy pa en ander vakmanne pragtige skoene met die hand maak. “Ons het nie slimfone, rekenaars, TV, nie eens sakrekenaars gehad nie. Dit was hoe ek die tyd verwyl het, my vermaak,” het hy aan die koerant South China Morning Post (scmp.com) vertel.

“My pa was ’n talentvolle skoenontwerper en meester in die kuns van skoenmaak. Vroueskoene, maar ook vir kinders en mans op bestelling. Destyds het mense dikwels ’n lewe met hul hande uitgekerf en baie produkte was handgemaak. Die eerste paar skoene wat my eie handewerk was, was ’n paar insteekskoene vir my ma se verjaardag. Ek was elf en het dié skoene gekies omdat dit die maklikste was om te maak. Dis ná haar dood saam met haar begrawe.”

Die sterre van Sex and the City. FOTO Instagram / Sex and the City

Min het hulle geweet dat hy eendag, as skepper van een van die duurste en gesogste skoen-etikette, deur die internasionale modewêreld op die hande gedra sou word. Hy het ’n ouer suster, maar dis hy wat sy pa se vernuf geërf het. Op 15 was hy reeds ’n vaardige skoenmaker. Maar hy wou oorsee gaan – dáár naam gaan maak. Op 21 gaan studeer hy dus in Engeland aan die Cordwainers Tegniese Kollege in Hackney (nou deel van die Londense College of Fashion). En ontwerp daarna skoene vir twee maatskappye voor hy sy eie sakeonderneming begin.

Om hom daarmee te help het sy ouers twee jaar in Brittanje gaan woon. Sy ma het inderdaad haar aftreegeld in die onderneming belê, sowat £6 000 (R110 000). “Dit was net ons drie, wat beteken het ons het vroueskoene gemaak, verpak, reklame daarvoor gedoen en dit verkoop.

“In 1986 het ek besluit om uit te brei. Ek het ’n vervalle gebou aan die East End gevind en my onderneming daarnatoe geskuif. Dinge was maar moeilik en ek het nie baie kliënte gehad nie. My groot deurbraak was in 1988 toe ek ’n vertoning by die Londense Modeweek gehou het. Vogue het my ontwerpe gesien en ’n agt-blad-glansartikel het gevolg.

Ek sien baie ontwerpers wat halfpad tou opgooi. Maar ek was vasbeslote om sukses te behaal, om nie my ma in die steek te laat nie. Sy het in my geglo en al haar spaargeld op my sukses verwed. Dit het my nie lank geneem om dit terug te betaal nie, met goeie rente daarbý. Ná die Vogue-blootstelling het die werk ingestroom. Ek het loopplankvertonings saam met bekende ontwerpers soos Helmut Lang en Paul Smith gedoen.”

Kort voor lank was die pers knaend op sy spoor.

Jimmy het die handelsmerk Jimmy Choo Ltd in 1996 saam met die Britse sosiale vlinder Tamara Mellon gevestig en dit was van die begin af gesog. Vandag is die naam net so bekend vir die hemelhoë hakke as die asemrowende vroue wat dit dra. En heel eerste was prinses Diana. “Ons eerste gróót oomblik in die kollig was toe sy in 1996 met ons skoene op die rooi tapyt verskyn het,” het hul kreatiewe direkteur Sandra Choi aan Marie Claire UK vertel. (Choi is Jimmy se vrou se niggie.) “Dit was regtig die begin van alles vir ons – al die glansmense wie se keuse dit later sou wees. Die idee van glans en jou deftig uitvat, is die DNS wat ons deur die twee laaste dekades gedra het.”

Sy is waarskynlik nie ver verkeerd nie. Min mense kon in die negentigs ’n trend laat posvat soos prinses Di. Sy het met die hand mede-Britte uitgekies wat haar skoene vir koninklike verskynings moes ontwerp. Nooit skoene met oop tone nie, dit het nie vir die mense se prinses gedeug nie.

In 1996 dra sy ’n paar Jimmy Choo-oophakskoene vir ’n gala in Chicago, met die pers skakering wat perfek by haar Versace-uitrusting pas. Maar die “aha”-oomblik was haar verskyning in 1997 by ’n Royal Albert Hall-opvoering van Swan Lake. Diana het haar Choo-laehak-aandskoene met ’n glinsterende blou minirok van Jacques Azagury gekombineer. Dalk was dit die kort rokkie en daardie lenige bene, maar die prentjie het vlerke reg oor die wêreld gekry.

Jimmy het aan die South China Morning Post vertel ’n vooraanstaande kontak in die modebedryf het hom aan die prinses voorgestel. “Ek glo sy het toe reeds die Vogue-artikel gesien. Sy was baie gaaf en het nooit oor my skoene gekla nie. My ouers het geweet ek ontwerp vir haar skoene. Toe ek hulle vertel ek gaan Kensington-paleis toe om haar te ontmoet en skoene af te lewer, wou my ma dit eers nie glo nie. ‘Jy speel nou met my! Jy is ’n Chinees met ’n geel vel en sy ’n prinses. Sou sy nie eerder ontwerpe van Christian Dior of Coco Chanel wou sien nie?’

Toe sy besef dis waar, het sy gesê ek moet al die geld wat ek kan spaar, vat en die beste pak in die wêreld gaan koop. Ek moet so skaflik moontlik lyk as ek haar ontmoet. En so het ek gemaak. Ek het selfs ’n nuwe onderbroek en sokkies gekoop! Alles, van kop tot toon, was nuut. En my ouers was só trots.

“Ons vier die Chinese Nuwejaar op dieselfde manier, ons trek nuwe klere aan. En is dan reg om ’n nuwe begin tegemoet te gaan. Om vars, nuwe klere aan te trek om die prinses te gaan sien, was dus ook ’n simbool van ’n wonderlike, nuwe begin vir my loopbaan. Ek het die paleis taamlik gereeld besoek, die wagte het my selfs later herken. Eenkeer speel prins Harry in die tuin. Toe hy my sien, gil hy: ‘Jackie Chan!’ Ek verkneukel my steeds daaroor, maar ek was ook trots dat hy my met iemand so beroemd verwar het.”

Jimmy is vandag onder meer ambassadeur van The Diana Award-liefdadigheidsorganisasie, gestig om haar nalatenskap lewend te hou en die geloof by jong mense te skep dat hulle die vermoë het om die wêreld ’n beter plek te maak.

Kleinsakeontwikkeling was van die begin af ’n integrerende deel van die organisasie se roeping. Die eerste Jimmy Choo-winkel het in 1996 in Motcombstraat, Londen, geopen. Twee jaar later het die maatskappy Amerika toe uitgebrei, met winkels in New York City en Los Angeles. Laasgenoemde het vir ’n vastrapplek gesorg van waar Hollywood se glansrykes die hof gemaak kon word.

Toe modevoorloper Cate Blanchett in 1999 haar eerste Oscar-benoeming vir beste aktrise vir die rolprent Elizabeth kry, word sy die eerste wat in ’n paar Choos op dié rooi tapyt verskyn. Drie jaar later dra ook Halle Berry Choos wanneer sy geskiedenis maak as die eerste swart vrou wat ’n Oscar-toekenning kry.

Michelle Obama kies ’n paar wit satyn-d’Orsay-Choos vir die 2009-inhuldigingsbal, wat haar vloeiende Jason Wu-rok perfek afrond. Sy herhaal die keuse in 2013, dié keer in ’n rooi Wu-uitrusting met bypassende Choos. Dié mode-etiket is vandag ’n algemene gesig op die rooi tapyt en verleen swier aan die voete van sterre soos Uma Thurman, Meryl Streep en Rihanna.

Hoewel die handelsmerk steeds Jimmy Choo se naam dra, het hy reeds in 2001 sy 50%-aandeel daarin verkoop. Die maatskappy het egter bly voortbou op Jimmy se aanvanklike kreatiwiteit. Jy kan maar maar sê hul paadjies het geskei, maar die “saadjie” was geplant. “Ek is steeds trots daarop dat mense dit vereenselwig met gehalteprodukte,” sê Jimmy.

Vandag is Jimmy Choo ’n wêreldwye netwerk met meer as 200 winkels in die mees gesogte afdelings- en spesialiteitswinkels. Dit sluit in Sloane Street en Bond Street in Londen, Avenue Montaigne in Parys, Via Condotti in Rome, Madison Avenue in New York, Rodeo Drive in Beverly Hills en Ginza in Tokio. Vroueskoene is steeds die hooffokus, maar die produkaanbod sluit nou ook in handsakke, klein leeritems, serpe, sonbrille en brilrame, belde, parfuums en mansskoene. Pierre Denis, uitvoerende hoof, en Sandra Choi deel ’n visie om een van die wêreld se gewildste luukse handelsname te skep en te laat voortleef.

Laat ons nie vergeet nie die grondslag is deur ’n wyse, gawe en nederige omie gelê, wat sukses tipeer as “’n seëning en net die begin”. “Ek sal aanhou om myself te verbeter en ander te help, veral jong mense.” Jimmy bevorder projekte wêreldwyd wat jong mense help om geleerdheid te kry. Die samelewing moet jong mense koester wat dieselfde honger het om te groei en sukses te behaal as hy destyds, glo hy.

*’n Titel van respek in Maleisië.

Nog bronne: usatoday.com, forbes.com, harpersbazaar.com

- Jimmy Choo Parfums is ’n borg van SARIE Voorbladgesig 2019. Kry SARIE se Oktober-uitgawe nou op die winkelrakke, en kry R200 afslag wanneer jy ’n Jimmy Choo-parfuum koop.