Ek’t nooit in ’n boks gepas nie; ek wil nooit geëtiketteer word nie. Mense kyk na jou en maak ’n aanname oor wie jy is. Lank, blond en loud, die meeste mense voel reeds geïntimideer. Dan is ek boonop met ’n ouer man getroud, so ek’s sekerlik agter sy geld aan. Daai een hoor ek baie. Dan sou ek mos iemand op ’n suurstofmasjien gesoek het!”

Vanes-Mari du Toit skuif daai blonde hare agter haar ore in, wys met haar handpalms na bo. Alles word met haar hande beaam – vinnige, energieke bewegings.

“Dit het my gepla, ja . . . want ek wil ook hê mense moet my like, ons almal wil mos maar. Toe kom ek agter ander mense se menings het eintlik niks met my te doen nie, dis hul vooropgestelde idees. Hulle het ’n idee van hoe ’n netbalspeler moet wees, wat dit ook al is. Maar ek was nooit so nie. Ek het BCom geswot, wat tawwerig is, en almal sit met dik brille en rekenaartjies en lyk asof hulle na ’n korporatiewe vergadering toe op pad is. En ek’s in my sportklere, hare in ’n poniestert. Daar het ek ook nooit regtig ingepas nie. Net so in die media. ’n Tannie, een van die toetsbordkrygers, verklaar eenkeer op Facebook: Sy hou nie van Vanes nie, sy praat hopeloos te veel. Ek antwoord toe: ‘Hi tannie, as jy´ betaal word om te praat, sou jy nie ook nie?’ Geen ander aanbieder sê ooit iets terug nie, en hulle betaal vir DStv en kan dus hul mening gee, laat die tannie gebelg hoor. En ek sê: ‘Tannie, jy sal nog sien. Ek’s nie soos ander aanbieders nie.’”

FOTO KRISTINA STOJILJKOVIC

Ons weet dit, Vanes! Ons het immers aan ons aandete gestik toe jy die woord “spuitpoep” op TV uitblaker tydens jou deelname aan die werklikheidsprogram Dancing with the Stars op M-Net! Man, sê sy, Frank Opperman, die akteur, mos ook ’n deelnemer, het vertel sy afstandbeheerde bootjie op Orkney snork nie se naam was Spuitpoep1 of so iets. “Ek belowe jou! En ek sê: Daai woord ís dus al op TV gesê? Dit was ’n grap, ons het die hele [voorafgaande] dag daaroor gespot.”

Nou ja, haar natuurlikheid voor die kamera het tot ’n nuwe TV-loopbaan gelei. Veldaanbieder van Kwêla en ook aanbieder van die maatsoekprogram Hoor my, sien my, soen my, asook In Japan, ja! tydens die Wêreldbeker-rugbytoernooi in 2019. Reeds vóór sy haar lyf Ginger Rogers in Dancing with the Stars gehou het, het sy egter netbal op SuperSport uitgesaai. Is sy dan nie van haar netbaldae af voorgestoot as iemand ’n onderhoud op radio of TV moes gaan doen nie?

“Vanes sal gaan!”Toe daai woord uitglip, het dit haar ook glad nie van stryk gebring nie. “Dis wie ek is. Wat jy sien, is wat jy kry. Onthou my eerder vir die goed wat jou laat lag het. Ek was altyd die een wat grappies maak. Dis hoe ek van kleins af situasies ontlont het.”

FOTO KRISTINA STOJILJKOVIC

Jou ouers is geskei toe jy vier was.

En ek het my ontferm oor my boetie, Francois, vier jaar jonger. Geld was so min, ons moes aanvanklik op gordyne slaap. My ma moes van voor af begin, met twee kinders. Sy het as motorverkoopsvrou gaan werk want sy kon dan ’n maatskappykar kry. En sy het dit flippen goed gedoen. Ek’t haar as voorbeeld gehad. Maar ek’t altyd geweet: Hier moet ek uitkom. Nou die dag ry ons deur ons destydse woonbuurt in Pretoria. Ek onthou waar ek vandaan kom en onthou, onthou hoe ek destyds gevoel het. Toe bars ek in trane uit want ek kon nie glo ek het gedoen wat ek wóú doen nie. My ouers het ’n moeilike pad gestap en ek wou nie dieselfde foute maak nie. Ek leer uit hul foute en elkeen speel ’n rol in my lewe. Ek het vandag ’n baie goeie verhouding met my pa, Frahnshua.

Ook met jou ma, Vanessa. Julle is baie eenders, blond, lewendig.

Kyk, sy dryf my soms teen die mure uit. Sy’s nes ek, ’n go-getter met ’n goeie humorsin. Ons is na aan mekaar. Dit was nie altyd so nie, ons gesin het deur ’n groot versoeningstyd gegaan.

Netbal was jou kans om te ontsnap?

My huis was tussen daai baan se vier lyne, dáár het ek veilig gevoel. As ek van die baan afstap, was dit ek en die wêreld, het ek weer onveilig gevoel. Ek’t afrigters gehad wat in my geglo het. Jy kom aan by ’n oefensessie, kliniek en dink jy’s nie goed genoeg nie. Almal is beter as jy, jy’t daai minderwaardigheidskompleks, nè. Maar die afrigters dril dit by jou in, jy kán. Die dinge wat ek in netbal geleer het, pas ek steeds vandag toe. Jy kan enigiets doen as jy net jou kop daarop sit. Die afrigters gebruik netbal as platform om jou lewe te verander, lewenslesse te leer. Nie almal word Proteas nie, maar almal is beter mense vanweë die sport.

FOTO KRISTINA STOJILJKOVIC

Dis hoekom dit vir jou so ’n passie is om netbal te bevorder.

Jy leer deursettingsvermoë, dryfkrag, die wil om te wen, in jouself te glo. Dis bemagtigend, veral in ’n land waar geslagsgeweld so algemeen is. As ek as afrigter een meisie se lewe kan verander, goed oor haarself kan laat voel . . . dis sport se krag.

Want jy was self daai meisietjie.

Wat aanvanklik net maar die oefensessie wou omkry . . . Ek wil vir daai dogtertjie sê: Nee. Vroue en meisies in ons land kort heroes na wie hulle kan opkyk. Kim Kardashian, Kylie Jenner . . . ek wil sommer in my broek bollie. My hero was Steffi Graf, daai bene, daai kuif.

Vrouesport speel tweede viool teenoor rugby, krieket, sokker. Maar netbal kry deesdae tog ’n bietjie liefde.

Rugby, mansportsoorte word soos ’n besigheid hanteer. Dis hoekom hulle sukses behaal, want die spelers word as waardevolle entiteite gesien. Netbal . . . ons kan deesdae praat van ’n Karla Pretorius, Phumza Maweni, Bongi Msomi, Erin Burger . . . en dalk gaan een naam iewers ’n klokkie lui. Netbal werk egter ’n dekade of wat al baie hard vir daai klein bietjie liefde.

Jy het as netbalspeler ons land 77 keer op internasionale vlak verteenwoordig, asook in die Fast5 [’n vinniger, korter weergawe van netbal]. Tog moes jy eers op TV bekend raak vir die gemiddelde Suid-Afrikaner om jou gesig op straat te herken. Hoe het dinge intussen ten goede vir netbal verander?

Ek is nooit betaal nie. Net vir die twee seisoene wat ek vir klubs in onderskeidelik Australië en Engeland gespeel het. Dit was destyds nog ongehoord om dit te doen, vandag is daar wonderlike geleenthede vir plaaslike spelers oorsee. SA Netbal is op die regte pad, vir seker. Hulle is besig om die meisies stelselmatig te kontrakteer. Die 2023-Wêreldbekertoernooi is om die draai en Suid-Afrika is die gasheerland; ek’s baie opgewonde daaroor. Ek dink nie ek sal speel nie, maar ek sal beslis by die uitsaai daarvan betrokke wou raak. My rol het verander van speler na afrigter, ek sal altyd ’n afrigter bly. [Haar selfoon lui.] Hier’s my man. “Hallo my lief . . . Is jy oukei, my lief? Vasbyt! I love you.” Hy sê sy dag is ’n bietjie moeilik, hy wil net hallo sê. [Matt Proudfoot, haar man, is tans in Londen as assistent-afrigter van die Britse rugbyspan. Hy was ook assistent-afrigter van die Springbokspan wat twee jaar terug die Wêreldbeker verower het.]

FOTO KRISTINA STOJILJKOVIC

Jul liefdesverhouding was nie ’n holderstebolder een nie, julle het eers lank op sosiale media gekuier?

In my finale jaar by Tuks het ek ’n netbalkliniek in die Kaap aangebied. Matt se dogter, Kristin [nou 16], was een van die sowat 200 meisies wat deelgeneem het. En by die huis babbel sy oor coach Vanes dit en coach Vanes dat en hy besluit om te gaan kyk hoe lyk dié Vanes. Seker ’n ouerige tannie met ’n moon bag en fluitjie verwag. Ek het by die trappie afgekom en, só sê hy, hy het my eers gehoor en toe my bene gesien. [Hulle hou mos vir ewig aan.] Toe bly hy sommer heeldag. Vir my was hy een van die pa’s, ek dink ek het hom nog ge-oom ook!

Jy het nie!

Ek het! Ek was 24, hy 39. En hy stuur ’n vriendskapsversoek op Facebook, wat ek ignoreer. Toe begin hy my e-pos hieroor en daaroor en later word dit telefoonoproepe. Ek moet eerlik sê, hy was aanvanklik nie my tipe nie – hy weet dit ook. Maar ek het mettertyd besef ons praat dieselfde taal. Ons verstaan mekaar en ek kan myself nie saam met enigiemand anders sien nie. Dis vreemd hoe dikwels ons paaie gekruis het, sonder dat ons ooit ontmoet het. Eenkeer was ons in ’n stilstaande hotel-hysbak vasgekeer. Die Stormers, wat hy toe afgerig het, en Proteas het in dieselfde hotel gebly. Agter ons groep meisiekinders staan ’n paar mans in suits. Die meisies raak ’n bietjie histeries en ek probeer dit ontlont met ’n grappie: “As ons in die lift vassit, eet ons eerste die ou grote hier agter,” sê ek. Dis toe Matt! Almal lag en daar gaan die lift. Hy’t dit onthou: “Was jy nie daai girl in die lift nie?” [Sy skaterlag.] Toe ek hom aan my ma voorstel, het ek gedog sy gaan vra wat ek met die ou man wil maak. Maar nee, sy’t dadelik van hom gehou. “Jy gaan met die man trou.” En ek: “Nee, hy’s dan oud. En hy’t ’n kind.” Maar mense wat my goed ken, weet ek is ’n ou siel, ek’s op ’n ander golflengte ingeskakel.

Vertel van hom.

Hy’t ’n sagte geaardheid, is genuine en jy tel dit dadelik op. [Dan speels.] Ek dink hy’t die jackpot geslaan met my. My oupa Dice, wat op Port Edward woon, herinner hom gereeld daaraan! Ag, hy gee my steeds butterflies. [Met haar selfoon google sy foto’s van hom, wys: Kyk hiér en hiér.] Wee’ jy, hy’s vir my die mooiste man, ek verkyk my. En hy raak vir my mooier by die dag! Ek’t hom ’n baard laat groei, ek’t gesien die man kort ’n baard. Op ’n snaakse manier bring ons die beste in mekaar uit. Ek dink ek bring ’n kant in hom na vore wat hy nie geweet het hy het nie. Hy hou my weer ’n bietjie in toom.

FOTO KRISTINA STOJILJKOVIC

Dis sekerlik moeilik om op verskillende kontinente te woon?

Almal wil dit altyd weet. Solank ons mekaar se vertroue, ondersteuning en liefde het. Kommunikasie, oor dinge wat regtig saak maak, is die groot ding. Ons gaan uit ons pad om oor dieper dinge te gesels. Ons doen dit al sewe jaar, drie daarvan as getroudes. Ek’t aanvanklik voltyds vir die Proteas netbal gespeel en baie gereis. Hy was by die Stormers en baie meer in die land. Ek was die een wat heeltyd weg was en hy het by my aangepas.

Maar jy ondersoek moontlikhede daar oorkant?

Ek het ’n agent in Brittanje en ondersoek sportuitsaaigeleenthede daar. Ook is ek ’n konsultant vir ’n Britse senior netbalspan. Ek sal pendel. Plaaslik gaan ek deel wees van die program The Heat, wat vir SuperSport beplan word en waarskynlik later vanjaar uitgesaai gaan word. Vier vroue wat oor alle soorte sportgebeure gaan praat, nie net vrouesport nie. Aanvanklik gaan mense dalk dink wat weet hulle nou. Daar is egter vroue wat meer as mans van sport af weet. Ons het net toevallig boobs.

Jy pak alles met soveel oorgawe aan. Jy het byvoorbeeld 16 kg tydens Dancing with the Stars verloor . . .

Maar onthou, ek’s ’n groot meisie, daar is baie om te verloor! Jy moet verstaan, waar ek vandaan kom, was geleenthede min. Ek moes elkeen tot die laaste druppel melk. Ek het altyd ’n verantwoordelikheidsin gehad, wou vir my boetie ’n voorbeeld wees, wys jy kan. Jy gee als wat jy kan en daar’s nie verskonings nie. Nie ’n ander opsie nie. En daar is mense wat in my geglo het, my ma, pa, oupa, ouma Marieta . . .

In middel Januarie laat weet sy sy is steeds in Londen ná haar Kersfees-kuier by Matt weens die streng inperking daar. Ook is hulle albei pas positief vir die coronavirus getoets. Maar steeds is sy bruisend geesdriftig. “As ek saam met my man is, is ek by die huis. Waar ek moet wees.”

FOTO KRISTINA STOJILJKOVIC

KREATIEWE BESTUUR & PRODUKSIE SUZANNE KOTZÉ (@STYLVOL.CO.ZA)

STILERING JUSTINE KROES (@STYLVOL.CO.ZA)

GRIMERING & HARE CHERYL PARKER VAN SUPERNOVA CREATIVE MANAGEMENT (@MAKEUPCHE)