Ons swem in ysige Arktiese waters en riviere wat wemel van piranhas om ons grense te toets. Ons swem vir plesier, vir oefening, vir genesing. [. . .] Ons evolusionêre voorgeslagte het vir oorlewing geleer swem; nou, in die 21ste eeu, is dit een van die gewildste aktiwiteite in die wêreld.” Só skryf Bonnie Tsui in haar boek Why We Swim.

Dís waarom ons swem, sê die menslike ysbeer Lewis Pugh, aktrise Tanya van Graan en “seekatfluisteraar” Craig Foster. Dís waarom ons terugkeer, weer en weer. Almal het as kinders die water geniet, maar mettertyd het swem vir hulle ’n ander betekenis gekry.

Tanya van Graan se rede

As kind sou sy alleen op die swembad se bodem sit en haar asem ophou. Die verlede en toekoms, als sou ineenvloei tot daardie enkele oomblik. Sy, die water en die groot stilte. “Só stíl,” benadruk Tanya van Graan, model en aktrise.

Nou, as vryduiker, is dit ’n sensasie wat sy intiem ken, gereeld najaag.

Wanneer sy in die koue, gewiglose waterwêreld van die Kaapse see hang, weet sy hoe ’n ruimtevaarder moet voel. “Ek wil altyd honderde dinge gelyk doen, ons sukkel mos maar almal om net in die oomblik te wees. Maar onder die water ís jy net. Jy voel of jy waarlik lewe, al hou jy jou asem op en is die water koud. As jy eers deur die ongemak breek, is dit soos meditasie.”

“In die bos” waar sy grootgeword het, ’n Laeveldse wildsplaas tussenMbombela (Nelspruit) en Malelane, was daar berge, welige plantegroei en goeie somerreënval. Die periodieke droogtes het haar egter laat besef “water is werklik lewe”. Daar’s herinneringe aan die eerste somerreën, die reuk daarvan wat jou omsingel. Op skool het sy onder meer onderwaterhokkie gespeel en haar lyf se beperkings in die vreemde omgewing getoets, leer ken.

Reeds voordat sy in 2011 Kaapstad toe getrek het, het sy elke kans aangegryp om te duik.

FOTO Shamier Magmoet

“Vryduik is nie ’n stokperdjie nie, dis ’n leefstyl,” sê Tanya, ’n gesertifiseerde skuba- en vryduiker (sonder suurstof, met of sonder ’n duikpak). “Dis soos die woord sê: Vry. Jy’t nie duur toerusting nodig nie, jy gryp net jou duikmasker en vinne. Dit vra rustigheid, kalmte wanneer jy in die water afgaan. Want só gebruik jy minder energie en dus suurstof.”

Sy plaas gereeld op sosiale media foto’s van haar, haar bikini en die wye blou oseaan. En inspireer mense wat nie gedink het duik is hul ding nie.

“So word ons almal vegters vir die see.”

Want om regtig vir iets om te gee en dit beter te verstaan, moet jy dit van naby beskou, glo sy. “Seebewaring lyk anders daar onder, jy sien die vernietigende effek van besoedeling. Van bo af kan dit voorkom asof niks skort nie. Jy kan eers met oortuiging ‘red die oseaan’ sê wanneer jy dit self ervaar het.”

As deel van die span wat die bekroonde dokumentêre film Apex Survival: Maiden Voyage gemaak het, het sy diep onder die indruk gekom van die witdoodhaai se penarie. Die dokkie, met onder meer Ocean Ramsey, die “haaifluisteraar” en mariene bioloog, fokus op dalende witdoodhaai-getalle.

FOTO Martino da Silva

By Shark Alley naby Gansbaai het hulle byvoorbeeld nie ’n enkele haai gesien nie. Maar baie kaatjie-van-die-baan robbe. “Dís hoekom haaie rock: Hulle skep balans in die oseaan se ekosisteem.

En sowat 70% van ons suurstof kom van die see af. Om haaie te red is om onsself te red.” Sowat 250 miljoen haaie word elke jaar deur die mens uitgewis, die redes wisselend van haaivinsop tot langlynvissers. “Dis maklik om mense te oortuig om empatie met walvisse te hê. Maar vir witdoodhaaie voel ons min, weens flieks wat hulle as seemonsters uitbeeld.”

Skrikkerig? Liewer onder die water as op ’n branderplank, want jy lyk dan alte veel vir ’n haai na prooi, vertel sy. En sy was darem saam met Ocean, wat haaie soos ’n boek lees en aan hul bewegings kan sien of hulle wil aanval. Sy weet ook hoe jy moet optree om nie soos prooi te lyk nie. (Wenk: Kyk rond, nie stip vorentoe nie.)