Sy raak toe agtergrondsangeres vir sangers soos Gert Vlok Nel, Amanda Strydom en Laurinda Hofmeyr. En haar pad kruis met Anton Goosen s’n.
“Hier rondom 2000 wou Anton sy liedjie ‘Sibongile’ by die KKNK se Kaktus op die Vlaktes sing. Hy het die woorde vergeet en wou dit nie weer leer nie. ‘Ek het seker 600 liedjies geskryf en kan nie als onthou nie,’ sê hy. Schalk stel toe voor ék sing dit met Anton as agtergrondsanger. En Anton kyk my so: ‘Sing jy dan.’ Ons het nie vooraf rehearse nie, net daardie dag op die verhoog gestap . . . Ek onthou hoe my maag van vrees gepyn het en die hope Panado’s wat ek vooraf weggesluk het.”