
Dis haar ysblou oë wat jou aandag eerste trek en dan vashou - twee poele gevul met stories. Treffend, byna hipnoties.
Jane de Wet vind nog haar voete as aktrise, danser en storieverteller in die onvoorspelbare vermaaklikheidsbedryf. “Ek het vrede gemaak met die onvoorspelbaarheid. Ek is rustig en weet die regte rolle sal oor my pad kom.”
Vanjaar was sy in die Showmax-reeks The Girl from St. Agnes as die hoofkarakter, Lexi Summerveld, te sien. ’n Komplekse karakter wat by tye alles van haar gevat het.
En later vanjaar vertolk sy die ewe uitmergelende rol van Marthella Steenkamp, wat in 2012 saam met haar ouers deur haar broer, Don, vermoor is, in die Jozua Malherbe-rolprent Griekwastad.
Nou pak sy ’n Afrikaanse opera, Die Vertrek, aan, wat as “grensverskuiwend” beskryf word. “Ek sing glad nie,” lag sy. “Dit los ek in die bekwame hande van die sopraan Magdalena [Minnaar].”
Jane vertolk die rol van Maria, wat die dood van haar ma, Helena (Magdalena), moet verwerk. Hartsverskeurend, ’n blik op verlies, vertel sy. Die libretto en regie is deur die bekroonde Marí Borstlap. Hoewel dit nie outobiografies is nie, het Marí se verlies van haar eie ma, Hanlie, as inspirasie vir die stuk gedien.
“Marí is ongelooflik. Sy is briljant,” sê Jane. “Sedert ek 16 was, het ons saamgewerk. Sy het al verskeie rolle in my lewe gespeel ... mentor, vriendin en by tye selfs ma.”
Vir Jane was die aanpak van ’n opera op sigself uitdagend. “Ek het nie die medium en die gepaardgaande terminologie geken nie - dit was my eerste opera. Maar Marí het die projek aan my voorgelê en ek kon daarmee identifiseer.”
Sy meen elke mens behoort dit ’n kans te gee. “Dit pak die tema van verlies op ’n interessante manier aan. Jy het nog nie so iets gesien nie.”
The Girl from St. Agnes was haar eerste projek as vryskutaktrise. “Ek het op stel geleer. Tog was dit moeilik om fiksie en realiteit van mekaar geskei te hou.”
Met die rol van Marthella het sy haarself gereeld herinner dat dié twee wêrelde apart gehou moet word. “Ek was conscious, as hulle cut skree, het ek weer Jane geword. Ek moes, dit was noodsaaklik.”
Sy het die rol met groot erns aangepak. “Sy was net 14, iemand se dogter, vriendin. Ek het baie verantwoordelik gevoel.”
Die 16-jarige Alex van Dyk is in die rol van Don te sien. “Daar was van dag een af ’n vreemde gevoel van verantwoordelikheid teenoor en beskerming van Alex. Ek het namens ons albei aktief fiksie en realiteit probeer skei.”
Talle bekende akteurs maak hul verskyning in Griekwastad, insluitend Hollywood-ster Arnold Vosloo, wat die rol van die speurder vertolk. “Ek het natuurlik nooit teenoor hom gespeel nie, maar van ’n afstand geobserveer. Ek het baie geleer.”
Vir nou is daar nie opkomende projekte nie. “Maar ek is nie onrustig nie. Ek weet dit gaan kom. Daar is vrede in die onvoorspelbaarheid.”
* Die Vertrek, wat net een uur duur, is van 18-20 Julie by Youngblood in Kaapstad te sien.
Kaartjies kan hier gekoop word.