Leer ken Zanelle ook in SARIE se November/Desember-uitgawe, landwyd op die winkelrakke!

SARIE Voorbladgesig is trots geborg in samewerking met Isa Carstens Akademie en INOAR.

Wat is jou Kersfees-tradisie?

Kersfees is altyd ’n rustige viering saam met familie.

Ons sukkel om eers Kers-oggend ons geskenke oop te maak. Wanneer die geskenke ’n week voor Kersfees onder die boom verskyn, begin ons reeds elke geskenk voel om te raai wat binne is. ’n Paar dae voor Kersfees begin ons ook raai-raai-speletjies te speel met klein geskenkies.

Ek is gek daaroor om geskenke vir mense te gee, en vroeg in die jaar begin ek al oplet wat my naastes benodig. Wanneer ek my familie se gesigte van verbasing sien wanneer hulle die geskenke oop maak, dan weet ek – ek het die spyker op die kop geslaan!

Zanelle Kotze FOTO Marzanne Schoeman
Zanelle Kotze FOTO Marzanne Schoeman

Wat is jou Nuwejaarsvoorneme vir 2021?

My Nuwejaarsvoorneme is om kwaliteit-tyd saam met my vriende te spandeer. Tydens 2020 se inperking het ons verby mekaar geleef, en ek hoop dat ons in 2021 verlore tyd kan inhaal. Vanjaar gaan ek ook streef om meer in die oomblik te leef en spontane ‘bucket list’-aktiwiteite te doen.

Ek wil ook weer begin koor sing. Dit gaan ses maande se harde oefening vereis om weer my stem te kondisioneer vir ’n oudisie by Maties se wêreldklas-koor, maar ek weet dat dit die moeite werd sal wees.

Ek bied nou al ’n geruime tyd ekstra klasse aan vir skoliere, maar tydens die inperking het ek gesien dat dié behoefte besonders groot is. Ek en ’n vennoot het die behoefte gesien en ’n onderrig-besigheid begin. Ons pluk reeds die vrugte daarvan, en ek hoop dat ek in die toekoms meer mense kan aanstel.

Verder is ek van plan om vir meer skoonheidskompetisies in te skryf. SARIE-voorbladgesig het vir my geleer dat ek die groeiproses verbonde aan ’n kompetisie besonders geniet.

Zanelle Kotze FOTO Marzanne Schoeman
Zanelle Kotze FOTO Marzanne Schoeman

Jy droom om eendag deel te neem aan die Mej. Suid-Afrika-wedstryd?

Ek was eers bang om dit hardop te sê, maar ek het besef jy moet jou drome verbaliseer. Dit sal my die geleentheid bied om nuwe vaardighede te leer en nuwe plekke te ontdek. Doen dinge wat jou hart vinniger laat klop!

Wat het jy nuut geleer vandat jy jou Voorbladgesig-reis begin het? 

Ek het nooit besef dat daar só baie mense is wat my ondersteun op my lewensreis nie. Aanvanklik het Covid-19 my laat voel asof alles tot stilstand gekom het, maar eintlik was dit ’n jaar vol nuwe projekte en ervaringe. Mense pas aan – ongeag van die omstandighede.

Zanelle Kotze FOTO Leana CR
Zanelle Kotze FOTO Leana CR

Wat beteken ’n skoonheidsbehandeling vir jou?

Ek geniet dit om gepamperlang te word. Dit is vir my belangrik om mooi na myself te kyk en my vel te beskerm teen die elemente.  Ek het ’n probleem-vel wat ’n streng roetine en goeie produkte verg. Selfsorg beteken selftrots.

Wat weerspieël jou hare van jou?

Ek het op skool my hare baie lank laat groei en my lang hare gebruik as ’n veiligheidskombers. Op universiteit het ek die wilde besluit geneem om my hare kort te skeer. Dit was uitdagend om daaraan gewoond te raak, maar ek glo dit het my selfvertroue net goed gedoen.

Zanelle Kotze FOTO Marzanne Schoeman
Zanelle Kotze FOTO Marzanne Schoeman

Hoe bly jy positief oor die toekoms?

Ek het goeie vooruitsigte vir my lewe en ek weet dat ’n vol en ’n voorspoedige loopbaan vir my voorlê.  Die geleenthede en uitdagings wat alreeds oor my pad gekom het, gee my die selfvertroue dat ek in enige situasie sal floreer. Wat my positief hou terwyl ek deurdruk met my studies, is die wete dat my grootmens-lewe basies nou eers begin, en bou ek al lekker lugkastele oor my troudag, eerste huis, eerste hond en eerste werk as ingenieur!

Zanelle Kotze FOTO Marzanne Schoeman
Zanelle Kotze FOTO Marzanne Schoeman

Wat is jou gunsteling-aanhaling?

“Better to light a candle, than to curse the darkness.” 

Niemand hou van klakouse wat die lewe bitter maak nie. Bring eerder iets positiefs na die tafel, as om jouself vas te staar teen tydelike swarigheid en net die negatiewe uit te lig.

Die lewe is besig! Sukkel jy soms met balans?

Ek sukkel gewoonlik nie om ’n balans in my lewe te handhaaf nie. Dit is vir my tweede natuur om dinge te doen wat my herlaai.  Daar is altyd iets wat my in ’n rustige stemming kan plaas. Of dit nou tuinwerk is, of boek lees, of kamp, of fietsry, of Netflix kyk, noem maar op. Ek ken myself en weet wanneer genoeg, genoeg is.

Zanelle Kotze FOTO Marzanne Schoeman
Zanelle Kotze FOTO Marzanne Schoeman

Wat beteken SARIE vir jou?

SARIE beteken vir my, om in een woord saam te vat, “gemeenskap.” Die moeite wat die SARIE-span doen om hul lesers se belangstelling te hou, is opvallend en indrukwekkend. Hulle betrek hul lesers deur vir insae en opinies te vra, en dit wys dat die SARIE-span omgee vir hulle lesers.

Wat beteken Afrikaans vir jou?

Afrikaans is ’n kleurryke taal wat geen gebrek aan woordkeuses het nie. Dit is ook my moedertaal, wat beteken dat ek daarin kan droom, dink en praat, sonder grense.  Hoewel die samelewing ’n mens druk om te verengels, is ek dankbaar dat my wortels diep geanker is in Afrikaans. 

My gunsteling-woord is die Afrikaanse weergawe van “sjokolade” – “tjoklit”. Dit is asof al my sintuie op aandag staan wanneer ek ’n blokkie eet. Vir elke gemoedstoestand of geleentheid wag daar vertroosting met sjokolade! By die fliek is dit Whispers, vir die langpad is dit KitKat, en op ’n af-dag is daar niks soos ’n Oreo Bubbly om my beter te laat voel nie.