’n Dubbele dosis van geluk. Nie net het boer Richann van die Vrystaat liefde gevind nie, hy het ook sy musiekmaat losgeslaan! Ja, sy nooi, René, is net so lief daarvoor om lirieke neer te pen, musiek te maak en om te sing. Nou het die twee besluit om ’n musiekgroep te begin, genaamd Reën. En dis nie al nie! ’n Eerste enkelsnit, “Vrystaat Vlaktes”, is pas vrygestel. 

Die twee woeker behoorlik ...

“Dis iets wat net uit Boer soek ’n vrou gevloei het, ons sou nie die geleentheid gehad het as dit nie vir die program was nie,” verduidelik die duo aan SARIE.

Al is dit soms moeilik om die balans te handaf, het Reën ’n nuwe element in hul verhouding gebring. “Ons was in diepkant ingegooi. Maar dis so lekker om dit saam met iemand te kan doen. Dit leer ’n mens baie van die ander persoon ... oor hoe hulle situasies benader.”

Richann en René het gou besef hoe belangrik dit is om te midde van alles steeds tyd vir mekaar te maak. “Om alles af te skakel en bietjie op mekaar te fokus. Om net regtig met mekaar te gesels.”

FOTO Christian Wolf

So tussen die boerdery en klasgee, is hulle reeds besig om aan nuwe musiek te werk. “Ons sal so vinnig as wat ons kan nog musiek wil vrystel. Dis maar ’n proses waaraan ons gewoond moet raak, maar ons is baie opgewonde vir almal om die eerste enkelsnit en musiekvideo te hoor en sien.” 

En wat het hulle by mekaar geleer?  

René is eerste aan die beurt: “Soms moet ’n mens dit net bietjie rustiger vat, en jouself ’n breuk gun. Ek is geneig om baie druk op myself te sit en wil elke liewe aspek van my lewe verskriklik erg beplan hê, maar dis nie moontlik of realisties nie. Ek leer by Richann dat dit ook okei is.”

En Richann: “René leer my nou weer die teenoorgestelde – dat mens soms bietjie meer georganiseer moet wees en moet beplan. Dis nie ’n slegte ding nie, en al is dit nie lekker nie, is dit nodig om tot ’n mate dinge te beplan.” 

Aitsa, hulle vul mekaar mooi aan.

FOTO Christian Wolf

Eendag op ’n reëndag gaan dié twee die langpad aandurf om die land plat te toer. Watter liedjies reken hulle moet op ’n roadtrip-speellys wees?

René: Fitz and the Tantrums se “I Just Wanna Shine”, Foo Fighters se “Best of You” en enige Taylor Swift-liedjie.

Richann: NEEDTOBREATH se “The Outsiders”, Lord Huron se “Lonesome Dreams” en The 1975 se “Chocolate”.

- “Vrystaat Vlaktes” se musiekvideo word eerskomende Saterdag om 19:00 op kykNET NOU (DStv-kanaal 146) se KraakVars vrygestel!

Luister die enkelsnit hier.

SKRYF IN VIR SEISOEN 14!

Suid-Afrikaanse boere wat na liefde soek kan nou vir die 14de reeks van Boer Soek ’n Vrou inskryf. 

Boere kan op die volgende maniere inskryf:

• Besoek www.kyknet.tv waar jy óf aanlyn kan inskryf óf ’n inskryfvorm kan aflaai;

• Bel Marche Media by 079 335 5137;

• Stuur ’n e-pos na boer@marche.media (let wel .media en nie .com / .co.za nie)

Belangrike inligting:

• Foto’s en afskrifte van identiteitsdokumente moet inskrywings vergesel.

• Diegene wat wil deelneem moet ongetroud en ouer as 21 jaar wees.

• Inskrywings moet die vervaardigers voor middernag op 13 Mei 2021 bereik.

• Hou kykNET se sosiale media of die media dop vir die aankonding oor 2022 se toptien boere. Moontlike pasmaats sal dan hul beurt kry om vir dié boere briewe te skryf.

• Die 14de reeks sal van Januarie 2022 op kykNET uitgesaai word.