Dit was ’n reusagtige produksie. Een vervaardiger en produksiebestuurder, ’n produksie-assistant, drie hare- en grimeerkunstenaars, twee garderobe en honderde uitrustings. ’n Fotosessie in Johannesburg by Stark Studios, waar die sepie Binnelanders, geskiet word. En in Kaapstad by Atlantic Studios waar verskeie produksies soos Suidooster, Tussen Ons, Arendsvlei en kykNET verfilm word.
Die rede? Om ’n nuwe hoofstuk en voorkoms van kykNET te vier .... #SoveelMeerAsNetTV. Vanjaar fokus hulle op die name en persoonlikhede wat ’n mens elke dag in jou leefkamer verwelkom. Van sepiesterre tot harde nuuslesers!
“Dit was ’n groot voorreg om deel van hierdie projek te wees, want kykNET doen altyd soveel moeite met alles wat hulle aanpak!” vertel Willem opgewonde.
Name soos Denise Newman, Brümilda van Rensburg, Hykie Berg, Ewan Strydom en Tracey Lange het voor sy kamera gepronk. Gil!
Hy sorg altyd dat almal eers op hul gemak is voor hy hul kiek. “Dit weerspieël in hul foto’s. Ons land het beslis van die mooiste mense!”
Maar dis nie waar die produksie geëindig het nie. Dié foto’s is oorhandig aan een hoofontwerper, twee assistentontwerpers en drie animeerders wat honderde verskillende elemente geskep het. Een musikale regisseur, een liriekskrywer en stemkunstenaar, en een klankinginieur het gesorg vir ’n vars, nuwe klank vir dié elemente. Twee redigeerders het dit alles saamgesit en verpak en die hele proses is oorsien deur een kreatiewe regisseur en kopieskrywer en een skeppende hoof.
Sjoe, dis ’n mondvol!
Volgens Leo Smit, bemarkingsbestuur van kykNET, wou hulle juis die mense van kykNET in die hart van die handelsmerk plaas. “Met die positionering van kykNET as ‘n Premium handelsmerk in Afrikaans was dit belangrik om die grafika aan te pas om die kwaliteit van ons inhoud ook te weerspieel. kykNET is een van die grootste Afrikaanse handelsmerk in Suid Afrika - en ons is rerig trots op die bane/weë wat die kanaal oor die afgelope 21 jaar neergelê het in die breër Afrikaanse vermaaklikheids-ekosisteem. Soveel meer as net TV.”