#SARIEvoorbladgesig is trots geborg deur Isa Carstens Akademie en INOAR

Wat is jou planne vir die feesseisoen?

Ons gaan hierdie feestyd gebruik om tyd saam met familie te spandeer. Ons koop gewoonlik vir mekaar klein geskenkies, want dit gaan immers oor die idee van gee, meer as die geskenk self. Vir die kinders organiseer ons ’n Kersvader, alhoewel ek vir hulle herinner dat die geskenke van Jesus af is. 

Nicqie Robinson FOTO Marzanne Schoeman
Nicqie Robinson FOTO Marzanne Schoeman

Jy het vanjaar van beroep verander? 

Ná jare in die onderwys het ek besluit om van beroep te verander en my passie vir mode uit te leef. Ek het verlede jaar vir myself ’n ‘vision board’ gemaak met doelwitte vir my besigheid wat buite my gemaksone is. Met elke klein oorwinning het die volgende deur oopgegaan. Moenie jou lewe omwens nie, neem net die eerste tree.

Ek gaan Desember-maand gebruik as ’n tyd vir refleksie en bid. Ek maak weer ’n ‘vision board’ vir die nuwe jaar, en in 2021 wil ek my besigheid verder groei, en nóg meer mense bereik! 

Nicqie Robinson FOTO Marzanne Schoeman
Nicqie Robinson FOTO Marzanne Schoeman

Watter verhouding het jy met jou vel en hare?

Die verouderingsproses is vir my ’n mooi proses, want dit gee karakter aan ’n mens. ’n Skoonheidsbehandeling stel my in staat om my ouderdom met grasie te benader. 

Ek het altyd gedink lang blonde hare maak jou mooi, en toe ek my hare kort sny, was dit eintlik ’n statement waarmee ek myself van dié idee bevry het. Jou hare weerspieël nie jou skoonheid nie, maar ek is wel nou mal oor my maklike haarstyl!

Nés ons die uiterlike versorg, moet ons egter ook na ons innerlike omsien. Ons moet gereeld innerlike behandelings doen en ons harte ligter en skoon maak. Dis baie keer daai dinge in ons binneste, wat ook sigbaar raak na buite. 

Hoe bly jy positief oor die toekoms? 

Ek lewe vir nóú, ongeag die omstandighede. 

Nicqie Robinson FOTO Marzanne Schoeman
Nicqie Robinson FOTO Marzanne Schoeman

Jy het ’n groot transformasie in jou lewe ondergaan?

As tiener was ek baie selfbewus . . . Later was ek afhanklik van my man se komplimente om mooi te voel. Die Here het egter vir my gewys dat my selfbeeld nie bepaal kan word deur mense nie. Ek het my quirky self ontdek en omarm, en dit het stelselmatig in my uiterlike weerspieël. Vind uit wat maak jou uniek, en leef dit!

Nicqie Robinson
Nicqie Robinson FOTO Leana CR

Wat is jou gunsteling-aanhaling? 

Spreuke 31:25 sê: “Sy is geestelik sterk en tree altyd waardig op. Vir die toekoms is sy nie bang nie.”

Hierdie is my vers vir my besigheid, en dis ook my persoonlike motto. As jy geestelik sterk is, kan jy met hoop na die toekoms kyk, en weet dat jou lewe soveel verder as net die aarde strek. 

Nicqie Robinson FOTO Marzanne Schoeman
Nicqie Robinson FOTO Marzanne Schoeman

Die lewe is besig! Is ‘self-care’ vir jou belangrik?

Oggende is my tyd vir selfsorg. Ek kan dan stilte-tyd hou en herlaai met Sy woord. Daarna is ek reg om die dag volkome aan te pak, en te fokus op ander aspekte van myself. Wat help dit tog as jy met stylvolle hare, grimering en naels na jouself in die spieël kyk, maar aan die binnekant voel jy leeg? 

Ek herlaai my liggaam met oefening, en ek love die gevoel wat ek na ’n oefensessie kry. My siel word herlaai by familie en vriende, ek is mal daaroor om gasvrou te speel en mense by ons huis te onthaal. 

Nicqie Robinson FOTO Marzanne Schoeman
Nicqie Robinson FOTO Marzanne Schoeman

Wat beteken Afrikaans vir jou?

Die Afrikaans wat deel was van soveel haat en pyn in die verlede, en die Afrikaans wat ek en soveel ander Suid-Afrikaners praat, is nie dieselfde taal nie, want die hart van die taal verskil. Die Afrikaans wat ek praat, kom vanuit ’n hart van aanvaarding. Al verskil ek en jy (ongeag jou taal), het ons albei ewe veel reg om te kan wees wie ons is. Afrikaans is die taal waarin ek gebore is, grootgemaak is, geleer het en die taal wat my menswees vorm.

Dis die taal waarin ek my hart gemaklik kan deel met jou. Ek lag in Afrikaans, ek huil in Afrikaans. Ek is trots Afrikaans. Wat ek hou van Afrikaans is die warm vriendelikheid wat agter die taal is. Ek het baie respek vir iemand wat Afrikaans praat, al is dit nie haar moedertaal nie. Ongeag of die sinkonstruksie en woordkeuses reg is, die hart is daar. My gunsteling-woorde is “mooi”, “lekker” en “lief”.

Nicqie Robinson FOTO Leana CR
Nicqie Robinson FOTO Leana CR

Wat beteken SARIE vir jou?

SARIE is soos ’n familielid. ’n Ma wat raad gee, ’n pa wat jou vertel van sy reise, ’n sussie wat bemoedig, ’n tannie wat inspireer, ’n vriendin wat saam troue beplan en selfs ’n broer wat vir jou wys hoe om lekker kos te maak. 

Nicqie Robinson FOTO Marzanne Schoeman
Nicqie Robinson FOTO Marzanne Schoeman