Een van die lesse wat ek die afgelope tyd weer geleer het, is hoe kortstondig die lewe is.
En ek het opnuut besef hoe betekenisvol my vriendskappe is. Die ander lekker ding wat ek ervaar het, was die vreugde van nuwe vriendskappe. Ek het min vriende, daarom verstaan ek dat daar mense is wat moeilik ’n vriendskap kan aanknoop. Dié wat skaam of onbeholpe is. Dié wat seergemaak is. Simon en Garfunkel se rotsmense. Want ’n rots, sê die liriek, is nooit eensaam nie.
Ek is dankbaar dat die lewe my nog nooit só skuins geklap het nie. André P. Brink het jare gelede ’n pragtige essay geskryf oor ’n pampoen. ’n Pampoen in Frankryk. As jy nie vriende het nie, het hy agtergekom, loop net met ’n pampoen op jou kop deur Parys se strate. Almal wat jou sien lag, en wil dan met jou praat. Wát maak jy met ’n pampoen op jou kop, wil hulle weet. Die mense, jou nuwe vriende, sê wag eers, ek koop vir jou ’n glas wyn. Hulle vra uit, eers oor die pampoen, oor pampoenresepte, en dan vra hulle uit oor jóú. En dan het jy ’n nuwe vriend.