Deel

Boek: Raaisel oor renosterhoringsmokkelary

akkreditasie
FOTO Unsplash
FOTO Unsplash
Is kolonel Aella O’Malley se kollegas betrokke by die smokkel van renosterhorings? Wie van hulle is korrup?

Dis een van die raaisels wat sy moet oplos in Blinde Gode, Dibi Breytenbach (Lapa Uitgewers, R285) se jongste spanningsverhaal.

Twee storielyne loop aan die begin van die boek parallel met mekaar; kolonel Aella O’Malley moet ’n moord onder ’n brug ondersoek, en kolonel Alexander MacLachlan volg ’n wenk op van ’n onwettige transaksie van renosterhoringsmokkelary op.

O’Malley se slagoffer is ’n landdros wat God gevind het en uitreikwerk in die behoeftige gemeenskappe van Opathe doen. MacLachlan en sy span is getuies van ’n gewetenlose teregstelling tydens die smokkeltransaksie waarna hulle die moordenaar vastrek.

Dibi Breytenbach verras met hoe sy hierdie twee verhaallyne bymekaar uitbring, en hoe die twee aparte polisieondersoeke met mekaar verbind word. Boonop is daar is ’n derde moord wat verband hou met die ander twee wat deur ’n ander polisieman ondersoek word. Die ontknoping van die verhaal is kompleks, maar baie slim en word gerugsteun deur die skrywer se kennis van prosedures tydens ondersoeke. In al drie sake duik daar een vuurwapen op, maar hoe is dit moontlik? Dan is daar die sterk tema van korrupsie in polisiegeledere wat aangeroer word. Kan jy jou kollega’s vertrou, of is hulle ook deel van die korrupsie netwerk? Dit dra by tot die sukses van die boeiende verhaal.

Maar wat die leeservaring nog meer genotvol maak, is die persoonlike duiwels waarmee die karakters stoei in hul bevegting van korrupsie onder eie geledere. Breytenbach maak haar nie skuldig aan mooi-skrywery nie, dialoog is gestroop en op die man af. Ek sien uit om te sien waarmee sy Aella O’Malley in die volgende verhaal gaan uitdaag! - Phyllis Green

The Woman who Walked in Sunshine, Alexander McCall Smith (Little Brown, R335)

Hierdie is nog ’n aflewering in die vermaaklike reeks, The No.1 Ladies’ Detective Agency wat in Botswana afspeel. Mma Ramotswe en Mma Makutsi is vennote in die speuragentskap. Boonop kan Mma Makutse soms ’n doring wees in Mma Ramotswe se vlees, want sy is nogal voorbarig en beterweterig.

In hierdie verhaal moet hulle ’n afgestorwe politikus ondersoek om te sien of daar iets in sy verlede is wat kan verhoed dat die munisipaliteit hom vereer deur ’n straat na hom te vernoem. Natuurlik is daar weer heelwat kinkels in die ondersoek, wat tot vermaaklike misverstande lei. Met hierdie stories oor die lewe van die handvol karakters wat betrokke is by die No.1 Ladies’ Detective Agency het McCall Smith ’n wêreld ontsluit wat heeltemal anders is as die van mense in Europa en Amerika.

Die eenvoud van hul lewe wat in ’n landelike omgewing afspeel, is verfrissend. Die waardes waarmee hulle teenoor mekaar optree en wat deel van hul opvoeding vorm, is iets waarby baie van ons kan leer. – Phyllis Green

In ’n land sonder voëls, Harry Kalmer (Penguin, R280)

Neurochirurg Adam Burger en sy vrou Sybille is hel toe en terug ná die verdwyning van hul enigste dogter.

Nou bevind hulle hulself in die vyftiende jaar van ekonokrasie. Vyftien jaar nadat Suid-Afrika die demokrasie vir die Korporasie verruil het en die politiek geprivatiseer is - dis die realiteit van Die Nuwe-nuwe Suid-Afrika.

Wanneer Adam die aandag van die Sentinels trek, moet hy deur ’n verwoeste landskap vlug. In ’n wêreld waar ’n skyn son lig verskaf, raak hy ’n pion in ’n komplot waarvan hy onbewus is en niè op voorbereid is nie.

Hierdie roman is ’n verdoemende ondersoek na die impak van ’n totalitêre bestel en een man se besinning oor sterflikheid en dít wat ons mense maak.

Die verhaal is boeiend en ek kon dit nie neersit nie. - Nadia de Jongh

Die Slaghuis, Cas Wepener (Protea Boekhuis, R200)

Danksy al die simboliek vra Die Slaghuis vir stadig lees of moontlik ’n tweede lees. Die roman wissel tussen drie tydperke op ’n Oos-Kaapse dorp.

In 1997 woon Marietta en haar man, oudbrigadier Karel Bergh, hier. Hy kruip vir die gevolge van sy apartheidsdade weg. Hy wil nie by die Waarheids- en Versoeningskommissie gaan getuig soos van sy kollegas nie, al moedig sy vrou hom aan.

Marietta kwyl letterlik as sy die plaaslike slagter sien vleis bewerk en sy dink gedurig aan vleisgeregte om vir haar man te maak. Afval, tong, peertjies of ’n bredie waaraan hy heerlik smul sonder om ’n woord te rep.

Terugblikke na 1977 verklap van die brigadier se verlede. Ook van die slagter se donker bydrae. In 2017 woon die slagter se dogter Kylie in die huis en hy bly in ’n wendyhuis in die agterplaas. Sy is ’n ongeduldige enkelma en sy het al agtergekom haar pa se verlede is duister, hoewel sy nie presies weet wat hy gedoen het nie. Sy voel die betogers op die dorp teiken haar huis.

Wat gaan met die brigadier aan? En die slagter? Is daar versoening ná al die dinge van die verlede of gaan ons maar net aan en maak nog ’n lekker stukkie vleis gaar. Die Slaghuis sit jou aan die dink. – Alida Vos

Sandveld Stories, Ferdinand Deist (Tafelberg, R220)

Welkom op Eselspoort! Hier is die mense vriendelik en verwelkom hulle jou met ope arms. Eselspoort is in rep en roer want die kerk kry ’n nuwe orrel. Arme Miss Walters kan nie op die nuwe fênsie pomporrel speel nie en Meneer Vanner Hoogen, die Hollander wat die orrel ingesit het, gaan ’n konsert vir die dorpsmense hou. Die konsert gaan mooi wys hoe lekker die nuwe orrel kan speel. Hier op Eselspoort sal jy ook vir Tant Anna ontmoet. Haar seun vang graad en sy moet vir haar winkeltande laat maak vir die geleentheid. Tannie Kytie sit behoorlik op Oom Pietjan se kop. Op Eselspoort is die koop van ’n nuwe John Deere omtrent ’n gebeurtenis en selfs die omgeeklub help om die arme kindertjies ’n beter lewe te wys.

Maar alle klein dorpies het ook hulle moeilike karakters. Vat nou maar die suster met die snor wat geen genade vir ’n sieklike mens het nie. Sarel Voorvlei laat hom nie deur ’n verkoopsman om die bos lei nie en die dorp se prokureur, Viljee, is te besig vir sy eie beswil. Daar is natuurlik ook die groot skindertong wat almal se

foongesprekke afluister. En dan is daar nog die avonture met ’n motorkar wat sy eie draaie wil ry! Voor jy die dorp verlaat, maak ook ’n draai by Miester Saks se winkel.

Maak jou reg om lekker te lag en soms ook ’n bietjie te huil. Die stories roer jou. - Antoinique van Staden

The Distance, Ivan Vladislavic (Umuzi, R270)

Joe en Branko is broers wat gedurende apartheid inVerwoerdburgstad grootword. As ’n jong seun verloor Joe sy hart op Mohammed Ali, die wêreldberoemde bokser wat met sy persoonlikheid en dramatiese vertonings almal se verbeelding aangryp. Joe is stil, ’n boekwurm en ’n dromer. Hy versamel elke koerantartikel wat hy kan kry oor Ali en plak dit in verskillende boeke wat hy sy argiewe noem. Soos die jare aanstap word die verskille tussen Branko en Joe duideliker. Branko verstaan nie hoekom Joe so obsessief is nie en wanneer Joe by die skool geboelie word, probeer Branko om sy broer op sy eie manier te beskerm. Maar Joe moet leer om ’n regte man te wees en sy liefde vir drama en om saam met sy ma by die breimasjien te werk, help nie hiermee nie. En hoekom kan Joe nou maar eenmaal nie sy Ali obsessie staak nie?

Met verloop van tyd skei die twee broers se paaie en die bloedbande word meer en meer getoets. Joe skryf en Branko word ’n klankversorger met sy eie gesin. Tog het Joe nog nie sy obsessie oor Ali uitgeleef nie en eendag daag hy met al sy argiewe by Branko op. Net vir ’n oomblik oorweeg Branko dit om nie eens die deur oop te maak nie.

Die verhaal verweef aanhalings uit koerantartikels moeiteloos met staaltjies van Joe en Branko se kinderdae in ’n Suid-Afrika wat polities so kruppel was dat politieke reëls selfs vir sport voorgeskryf is. Vladislavic skilder ’n briljante karakterstudie van familieverhoudings. - Antoinique van Staden

Travel Light, Move Fast, Alexandra Fuller (Serpent’s Tail, R300)

Fuller bring hulde aan haar pa, Tim, ’n Brit wat as jong man na Afrika kom om in die Rhodesiese Bosoorlog te veg voordat hy en haar ma in Zambië gaan boer. Terwyl haar ouers met vakansie in Boedapest, Hongarye is, word hy siek en sterf. Sy en haar ma bring sy as terug na Afrika.

Tim het eerder ’n chaotiese lewe bo ’n vervelige bestaan verkies. Haar ouers se lewe getuig van wanordelikheid, maar ook van tragedie. Ná sy dood klou Fuller vas aan haar pa se lewenswaarhede.

Sy en haar suster Vanessa gaan na ’n Rhodesiese privaatskool, maar hulle was nooit heritage kinders nie – “We belonged nowhere here; we belonged nowhere else.” In Afrika gebore en getoë, maar nogtans vreemdelinge!

Haar eie lewe verander ook drasties – sy, as geskeide vrou, het gedink haar verhouding met Wen gaan uitwerk, maar dit misluk; ’n familietwis met Vanessa kom nie reg nie en aan die einde van die boek beleef sy ’n onbeskryflike persoonlike smart ... maar sy onthou, “It’ll be all right in the end. And if it’s not all right, it’s not the end.” - Linda Volschenk

The Theory of Flight, Siphiwe Gloria Ndlovu (Penguin, R280)

Die verhaal van Imogen “Genie” Zula Nyoni begin die oomblik as Golide Gumene en Elizabeth Nyoni mekaar ontmoet. Golide glo dat hy ’n vliegtuig kan bou sodat hy sy

vrou Amerika toe kan vat, want haar grootste wens is om ’n Country-sangeres te wees. Die nuus van die vliegtuig wat Golide bou, versprei vinnig nadat ’n storie oor hom in die koerant verskyn. Golide en Elizabeth se grootste plesier is hul pragtige dogter, Genie. Genie is op haar gelukkigste in die sonneblomvelde van Beaufordplaas. Maar in tye van onrus word niemand geluk vir lank gegun nie. Genie moet noodgedwonge van haar geliefde sonneblomme afskeid neem toe sy deur die Masukus aangeneem word. Sy is nie ongelukkig nie, maar op haar agtiende verjaarsdag besluit sy om op haar eie weg te gaan, sonder om te groet. Sy weet dat sy ’n groter doel in die lewe het en dit raak Vida de Villiers.

Vida bly op straat en is gelukkig met sy lewe langs die bakkery waar hy partykeer warm brood en koue polonie het om te eet. Maar wanneer Genie hom kom soek, bevind hy homself in ’n lewe waarvan hy nooit eers gedroom het nie. Ongelukkig hou drome nie vir ewig nie en wanneer Vida besef dat hy wakker moet word, bring hy al die karakters in die boek bymekaar.

Genie se verhaal word meesterlik in twee dele deur ’n reeks karaktersketse vertel. Met elke karakter se verhaal word ’n stukkie van Genie se lewenslegkaart in plek gesit. - Antoinique van Staden

Pryse is voorgestelde pryse en kan wissel van winkel tot winkel.

JONGSTE UITGAWE

Maart/April-uitgawe

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees