book-icon Uitgawe Maart/April 2022

Drie romans vol misterie, protesaksies en demone vir jou boekrak

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die roman 'The Fall' gebruik die #FeesMustFall-protesaksies as afsetpunt vir ’n alternatiewe, kleurvolle weergawe van die werklikheid, terwyl monsters en demone hul verskyning in 'The Gilded Ones' en die jongste in die Mrs. Peregrine-reeks maak.

'The Fall' deur Jen Thorpe (Kwela, R320)

Dié roman kombineer Suid-Afrikaanse realiteit en sosio-politieke kommentaar met ’n onverwagse knippie fantasie.

The Fall, Jen Thorpe
Beskikbaar by NB Uitgewers

Gedurende 2015 en 2016 het die #FeesMustFall protesaksies soos ’n veldbrand regoor Suid-Afrika se universiteitskampusse versprei. Die roman The Fall gebruik hierdie onstuimige greep uit ons onlangse geskiedenis as afsetpunt vir ’n alternatiewe, kleurvolle weergawe van die werklikheid.

Vir Suid-Afrika se vroue-president, Noné, is die studente-protesaksie ’n lastigheid. Haar enigste prioriteit is om haar dieretuin met ingevoerde magiese diere aan die wêreld bekend te stel. Maar eers moet sy van die aanhoudende studente ontslae raak, veral Hector, die ambisieuse protesleier.

Noné hou ongelukkig nie rekening met Thuli, een van die studente, se vermoë om sewe dae in die toekoms te sien nie. Ook nie met die gesoute joernalis Helen wat vasberade is om ten alle koste die waarheid te ontbloot nie.

Wanneer Thuli ’n visioen kry dat Hector die slagoffer gaan wees van ’n sluipmoordaanval, berus dit by dié twee vroue om dit te voorkom.

Sonja van der Westhuizen

‘A Map of Days - The fourth novel of Miss Peregrine’s peculiar children’ deur Ransom Riggs (Penguin, R290)

Beskikbaar by penguinrandomhouse.co.za
Beskikbaar by penguinrandomhouse.co.za

Die vierde boek in die Miss Peregrine’s peculiar children-reeks is ’n verhaal op sy eie. Tog help kennis van die vorige drie verhale om die agtergrond van die verhaal, asook die karakters, beter te verstaan.

Jacob Portman en sy vriende het die monsteragtige wese wat die eienaardige wêreld in bedreig het, verslaan in boek drie.

Jacob is nou terug in Florida. Juffrou Peregrine en al Jacob se vreemde vriende is nie meer vasgevang in die eienaardige wêreld nie, maar het saam met hom na Florida gereis, waar hulle hul bes doen om aan te pas.

Tydens ’n besoek aan Abe, Jacob se oorlede oupa, se huis ontdek hulle ’n ondergrondse bunker vol bewyse dat Abe ’n eienaardige agent was. Wanneer Jacob kontak maak met Abe se ou vriend en mede-agent H vra dié dat Jacob sy oupa se laaste sending voltooi.

Jacob stem in en so begin sy reis saam met sy vriende deur die eienaardige wêreld van Amerika waar daar geen rëels is nie. Reëls word na willekeur gebreek. Nuwe wonders en gevare wag om elke hoek en draai in hul soeke na waarheid en geregtigheid.

Die verhaal is soos die vorige boeke geïllustreer met spookagtige vintage foto’s, in kleur en swart-en-wit. Dit dra by tot die misterie van die verhaal. Riggs bewys weer waarom die reeks oor ‘Miss Peregrine’s peculiar children’ so gewild is en deur lesers van alle ouderdomme geniet word.

Karien Labuschagne

‘The Gilded Ones’ deur Namina Forna (Penguin, R220)

Beskikbaar by penguinrandomhouse.com
Beskikbaar by penguinrandomhouse.com

Dit is die dag van die Bloed Seremonie en tot haar skok, en die afgryse van die inwoners van haar dorpie, is die sestienjarige Deka se bloed goud. Goud is die kleur van onreinheid en Deka word onmiddellik as ’n demoon bestempel en tot die dood veroordeel.

Deka ontdek sy is onsterflik en ná maande van aanhouding en gruwelike marteling, word sy deur ’n misterieuse vrou verlos en na die hoofstad geneem. Hier ontmoet sy nog meisies soos sy, met bloed van goud en bo-natuurlike kragte en vermoëns. In opdrag van die keiser word hulle as soldate opgelei om die land teen boosaardige monsters te beskerm.

Gou besef Deka dat die wêreld soos sy dit ken ’n leuen is en dat daar raaisels is wat sy sukkel om uit te pluis, soos: Hoekom is sy sterker as die ander soldate? Hoekom verstaan sy die taal van die monsters? En wie is die vrou wat haar verlos het? Soos Deka se kragte groei, ontdek sy haar ware identiteit en die eintlike doel waarvoor sy bestem is.  

Danica Gouws

*Pryse is voorgestelde pryse en kan wissel van winkel tot winkel.

 

JONGSTE UITGAWE

Januarie/Februarie-uitgawe

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees