Nuusmanne Freek Robinson & Jeremy Maggs maak oop in memoires

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Nuuslegendes Freek Robinson en Jeremy Maggs het elkeen die pen opgetel en hul lewensverhale neergepen. FOTO’S YouTube/
Nuuslegendes Freek Robinson en Jeremy Maggs het elkeen die pen opgetel en hul lewensverhale neergepen. FOTO’S YouTube/

Beheers, beredenerend en neutraal, in die middel . . . Dis met dié woorde in my kop wat ek die laaste blad van Freek se boek toemaak. Dis hoe ek Freek Robinson opsom. Iemand wat nie instorm en links en regs begin dinge doen nie. Nee, hy bekyk sake eers van alle kante af en besluit dan op ’n plan van aksie. Die ander woord wat na vore kom ná die lees van sy memoires, is 'regverdig'. Dis ’n grondbeginsel waarvolgens hy sy lewe lei en ook hoe hy die joernalistiek benader. Dit het begin in sy studentejare toe hy nie geskroom het om senior studente aan te vat oor onregverdige optrede teenoor eerstejaars rakende  drank in kamers nie. Sy eerste werk is by Oggendblad se nagkantoor waar hy oor skryf kon leer by "die woordkunstenaar Koos du Plessis". Van die koerant het Freek aanbeweeg na die SAUK as TV-joernalis, ’n nuwe ervaring want televisie is toe pas ingestel in Suid-Afrika. Lesers kry insig in hoe vinnig tegnologie verander het en watter impak dit op die uitvoer van joernaliste se werk gehad het. Die groentjie joernalis het vinnig gevorder tot ’n bekende en gerekende joernalis op die kassie.

 As jy sensasionele onthullings verwag, gaan jy lank soek in dié boek. Nee, Freek vertel op sy rasionele en beredenerende manier sy storie. Tog deel hy genoeg van sy persoonlike lewe, sodat die leser nie voel hy fokus nét op nuusgebeure in die ou en nuwe Suid-Afrika nie. Sy vertellings oor die onverwagse gebeure agter die skerms skyn ’n lig op van die rolspelers wat ’n hand gehad het in die ontvouende demokrasie van die vroeë 90’s in die land.As joernalis was Freek vir 45 jaar betrokke by nuusgebeure en jy kry deur sy oë ’n ander perspektief oor nuus en hoe nuus gemaak word. Baie van die staaltjies het ’n ernstige ondertoon, maar daar is ook ’n paar snaakses, soos toe Pik Botha as minister van buitelandse sake (en in daai stadium waarnemende president) met sy eweknieë van Namibië en Botswana vergader het in Kasane Lodge aan die Chobe-rivier in Botswana. Ná afloop van die formele gesprekke het Pik skielik besluit hy wil op ’n wildbesigtigingsrit op die Choberivier gaan. Nou ja, so vertel Freek van die vloeibare versnaperings wat groot aftrek gekry het. En toe die groep op ’n trop buffels afkom wat op ’n eiland in die rivier wei, moes Pik opsluit die buffels gaan seën. Hy is uit die boot en stap die trop deur die modder tegemoet, terwyl hy in ’n luide stem sy seën voordra. Een groot buffelbul was nie juis beïndruk met Pik se voordrag nie en het "begin blaas en nader beweeg . . ."  Vermaaklik vir ons wat dit lees, maar senutergend vir sy veiligheidsmense wat vinnig deur die modder moes ploeter om Pik aan sy arms terug te sleep in die boot!

Freek sluit sy boek af deur te sê hy is oor niks in sy loopbaan spyt nie. Buiten miskien hoe sy aanstelling in Londen onder ’n wolk gebeur het. Maar die manier hóé sy lang loopbaan tot ’n einde gekom het, was vir hom traumaties. "My lewe het oornag soos handomkeer verander toe eNuus se redakteur my bel ’n dag voordat ek met ’n skof sou begin. Ingevolge die regerings se aankondiging van streng Covid-19-inperkings moet ek nie meer werk toe kom nie, het hy gesê. Dis omdat ek ouer as 60 is en in die kwesbare ouderdomsgroep val." So kom sy amptelike loopbaan tot ’n einde, maar van stil sit en niks doen, is daar vir Freek Robinson geen sprake nie. Soos hy sê: "Ek beplan om so lank as wat ek die krag het en gesond is, aktief te bly in die joernalistiek." Al wat oorbly om te sê, is: "Voorspoed Freek!" - Phyllis Green

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan
JONGSTE UITGAWE

Maart/April 2022

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees