
The funny thing about Norman Foreman, Juliette Henderson (Penguin, R285)
Ek kan eintlik my resensie net op die treffende voorblad baseer, dit spreek boekdele. ‘The funny thing is’ is ’n frase wat dikwels gebruik word vir iets wat eienaardig, onwerklik of vreemd is, nie noodwendig snaaks nie. Dié frase maak dat die leser moet weet die verhaal gaan nie deurentyd lig en amusant wees nie.
Een van my eerste gedagtes is: Wie gee iemand ’n naam soos Norman Foreman? Op die voorblad is die naam uitgespel in groot rooi letters met ligte. Dit lyk soos ’n teaterbord, nes ’n vertoning wat aangekondig word. Hier is die show, die storie van Norman se lewe. Tog wonder ek of die seun op die voorblad wat met sy rugkant na ons toe staan, met wanhoop na sy naambord kyk of met verwondering.
Die 12-jarige Norman en sy beste vriend Jax is aspirant komediante met ’n vyfjaarplan en ’n groot droom. Wanneer hulle 15 is, wil hulle as ’n duo by die Edinburgh Fringe, die grootste kunstefees ter wêreld, optree. Maar toe die ondenkbare gebeur en Jax skielik sterf, stort Norman se wêreld (en hul plan) in duie. Norman se hart is in stukke gebreek, maar hy wil eer aan Jax betoon deur nuwe planne te beraam. Sy plan is om om te sien na sy ma, sy pa te soek en steeds Edinburgh Fringe toe te gaan.
Norman se ma, Sadie, verlang self baie na Jax en sal enigiets doen om haar seun uit sy ellende te kry en om hom weer te sien glimlag. Sy voel sy is nie ’n goeie genoeg ma vir hom nie en al is sy huiwerig, besef sy sy sal moet inspring. Sy bied aan om hom by die Edinburgh Fringe te kry en om saam met hom na sy pa te soek.
Afwesige pa’s is ’n groot tema in die roman. Sadie het self ’n paar moeilike jare agter die rug. Toe sy 19 was, ’n jaar voor Norman se geboorte, het sy haar pa (’n gemiddelde komediant) aan selfdood verloor. Sedertdien sukkel sy met ’n lae selfbeeld, want hoe kon “die beste dogter in die wêreld” nie goed genoeg vir haar pa gewees het nie? Oorweldig deur hartseer en woede het Sadie net ná sy dood baie begin drink en rondgeslaap. Toe sy swanger geraak het, het sy nie geweet wie regtig Norman se pa is nie.
Haar enigste vriend is Leonard, die bejaarde skoonmaker en haar teedrink-maat by die werk. Toe hy hoor sy en Norman wil tydens die skoolvakansie Edinburgh toe gaan, het hy met ’n fantastiese plan vorendag gekom om hulle te help. Met sy Austin en Excel-sigblad, gaan Leonard saam met Sadie en Norman op ’n merkwaardige reis.
Norman en Sadie vertel afwisselend die verhaal, maar ek wens eintlik ons kon Leonard se perspektief ook hoor. Leonard is moontlik my gunsteling-karakter. Hy het self al sy deel van swaarkry gehad. Op hul reis kom dié drie interessante mense teë, beleef wonderlike avonture, oornag in vreemde plekke en soek hulle na pa’s én geluk. Die kronkelpad is nie sonder kinkels nie, maar beslis ook nie sonder pret nie.
Norman is ’n interessante karakter, ’n teruggetrokke seun met die velsiekte, psoriase. Hy is broos, tog is hy veerkragtig ook. Hy kruip dadelik in lesers se harte in.
Dis ’n wonderlike storie van hoop, liefde, familie, vriendskap en selfaanvaarding. Die karakters het elkeen iets wat hulle uitsonderlik maak. Alhoewel die leser nooit vir Jax, die "Rolls-bloody-Royce" van beste vriende, ontmoet nie, is hy alomteenwoordig in die roman. Ons leer ken hom, ons hou van hom en ons mis hom sommer namens die karakters. Reg deur die verhaal bly jy wonder watter een van die eienaardige karakters wat hulle langs die pad ontmoet, is Norman se pa. Jy sal maar moet lees en uitvind.
Ek hou regtig duimvas dat daar eendag ’n fliek van The Funny Thing about Norman Foreman gemaak gaan word.
The One Hundred Years of Lenni and Margot, Marianne Cronin (Penguin, R320)
’n Buitengewone vriendskap ontstaan tussen die 17-jarige Lenni Petterson, ’n terminale pasiënt in Glasgow se Princess Royal Hospitaal, en Margot Macrae, ’n 83-jarige, pers pajama-draende, rebelse vrou. Marianne Cronin se debuutroman is ’n vreugdevolle viering van die lewe en van vriendskap.
Dié twee se paaie kruis die eerste keer toe Lenni vir Margot per ongeluk in die hospitaal raaksien waar sy ’n brief uit ’n asdrom steel. Dis eers later in die nuwe kunsklas waar hulle mekaar ontmoet. Hulle vorm dadelik ’n nou band en besef hulle het saam al ’n allemintige honderd jaar geleef en daarom onderneem hulle toe ’n massiewe projek. Om hul gedeelde eeu op aarde te vier, besluit hulle om hul lewensverhale te skilder: 100 skilderye vir 100 jaar.
Soos die hoofstukke ontvou, leer ons hoekom Lenni se ouers nie vir haar in die hospitaal kom kuier nie en van Margot se boeiende, kleurvolle lewe gevul met die mooiste oomblikke, sowel as hartverskeurende tye. ’n Gebroke huwelik, ’n wonderlike vriendskap, kriminele eskapades en ’n verlore hoender maak deel van haar storie uit. Al dié elemente gaan as ’n aparte skildery uitgebeeld word. Soos Lenni se gesondheid versleg, besef Margot sy het nog dinge om te doen, stories om te leef.
Hou jou sneesdoekies byderhand. Ons lag en huil saam met Lenni en Margot. Hulle is egter nie die enigste treffende karakters nie. Vader Arthur, net maande weg van sy aftrede, knoop ’n kosbare vriendskap met Lenni aan toe sy die hospitaalkapel besoek. Ook die nuwe verpleegster met die rooihare, en Pippa, die kunsjuffrou, sal vir hulself ’n plekkie in lesers se harte oopskrop. Hulle almal dra by tot Lenni se lewe. Sy vind uit dit maak nie saak wat jy met jou lewe doen nie, belangriker is met wie jy jou lewe deel.
Soos ’n verskietende ster sal ons almal nog lank onthou word, selfs al is ons nie meer hier nie: “It’s been a long life and it’s been a short life. The light they brought with them stayed long after they’d gone.” (bl. 359)
Lieflik! ’n Ode aan die stories wat ons leef. As dít jou nie oortuig om die boek te lees nie, sal die vrolike omslag help. Die boek is perfek vir jou volgende boekklub-keuse en dit het die potensiaal om ’n wonderlike film te wees.