Voorspelbare lewe toe nie so voorspelbaar!

akkreditasie
Op die oog af lei Chris ’n voorspelbare voorstedelike lewe saam met sy plat-op-die-aarde Portugese vrou en hul laatlam. Jou hoofkarakter is ’n sielkundige. Die sterk temas van die verhaal kom uit in gesprekke wat hy met sy pasiënte het. Baie het eksistensiële krisisse of verhoudingsprobleme en het veral probleme met seks.

In Debbie Loots se ongewone nuwe roman, Die boek van gelukkige eindes (Queillerie, R265), is Chris, ’n bekende Kaapse sielkundige, die spilpunt waarom al die gebeure draai. Jy besef vinnig daar is ’n hele paar geraamtes in sy kas. Almal natuurlik vroue. Daar is Willemien met wie hy twee keer vlietend seksueel verkeer het. Wanneer sy hom op televisie sien, besluit sy dis tyd dat hy verantwoordelikheid aanvaar vir wat in haar lewe gebeur het. Sy gaan soek hom op en stel hom voor ’n ultimatum. Boonop val sy eksvrou, Connie, wat nou in ’n lesbiese verhouding is, hom heeltyd lastig. Om nie eens te praat van al sy pasiënte en hul probleme nie. Hoe verder jy lees, hoe meer ontgogel raak jy oor Chris en die chaos wat hy bewustelik en onbewustelik in mense se lewe saai.

Die verhaal ontvou uit verskillende karakters se oogpunt en deur hulle kom belangrike temas soos huwelikstrou, seks, intieme verhoudings en eksistensiële krisisse onder die loep. Die skrywer lui die boek in met ’n aanhaling van Orson Welles: “If you want a happy ending, that depends, of course, on where you stop your story.” Dis fassinerend om te sien waar elke karakter se storie uiteindelik eindig en hoe dit Chris se lewe raak.

 

Ek het met Debbie Loots gesels oor Die boek van gelukkige eindes.  

Jy het n kuns- en skryfagtergrond. Vertel my meer.

Ek het altyd gesukkel om te besluit of ek ’n kunstenaar of ’n skrywer is. Van kleins af was dit altyd vir my ’n ding gewees. Ek wil graag teken, maar dan is daar die ander ding van skryf ook. Ek het deur my lewe gegaan met dié onsekerheid. Ek het besluit ek kan mos al twee wees. Op ’n baie laat ouderdom het ek my graad in kuns by Michaelis aan die Universiteit van Kaapstad gaan doen, nadat ek vir meer as 30 jaar deeltyds kuns aan Unisa geswot het. Toe ek die geleentheid kry om my graad by Michaelis te gaan klaarmaak, was dit soos ’n droom wat waar geword het. Kort daarna het ek besef ek wil graag my M-graad in kreatiewe skryfkuns doen. Toe het ek aansoek gedoen by die UK en toelating gekry. In my boeke kan ek oor kuns skryf. Dis amper asof ek in my boeke die twee wêrelde binne my kan uitleef.

 

Jy werk voltyds as joernalis. Hoe werk jou roetine wanneer jy jou romans skryf?

As ek ’n doel het, is ek gedissiplineerd en doelgerig. Ek werk baie hard. Ek sal in die aande werk, ek sal oor naweke werk. Ek sal selfs vir ’n rukkie ophou wyn drink as ek moet. Enige tyd wat ek tussen gewone werksure het, sal ek skryf. Ná ek klaar is met ’n boek, vat ek ’n kort blaaskans voor ek met ’n volgende projek begin.

Het jy n spesiale plek waar jy skryf?

Ek kan regtig op enige plek skryf. En veral in die bed. As ek vroeg opstaan, gaan maak ek koffie en klim terug in die bed en skryf dan. Dis maar die plek waar ek skryf.

Hoe begin n verhaal vir jou, met ’n karakter of ’n gebeurtenis?

Met Die boek van gelukkige eindes het ek vir lank met die idee in my kop rondgeloop, ’n storie met ’n klomp mense. Ek wou dit op so ’n manier doen dat dit voel of jy inval in elkeen se lewe en dit moet op ’n plek wees waar dit vir jou lekker is om te lees. Jy moet wonder wat hier aangaan. Ek wou nie elkeen se storie van die begin tot die einde skryf nie. Ek wou so ’n soort boek skryf, maar dit het lank gebroei. Voor dié boek was ek besig met my tweede boek ná Split, maar ek het daarmee gesukkel. Toe skryf ek Die boek van gelukkige eindes, en omdat dit so lank gebroei het, kon ek aangaan daarmee. Vir die een waarmee ek volgende jaar wil aangaan, is daar reeds ’n idee wat in my kop vorm. Wanneer ek voel die tyd is reg, dan gaan hy ook gebeur.

Jou debuutroman, Split, het die ATKV Prosaprys gewen. Het dit druk op jou geplaas met die skryf van jou volgende boek?

Ek was so opgewonde oor Split en verheug dat dit so goed gedoen het, dat ek dadelik met iets weggespring het. Ek het gedink ek gaan dieselfde soort ding doen as met Split, maar toe sukkel ek daarmee. Dit het amper gevoel asof ek Split probeer oorskryf, maar op ’n ander manier, met ander mense en ’n ander landskap, maar dieselfde gevoel. Ek het besef ek maak ’n fout. Dis hoekom hierdie boek vir my so fantasties is – nie noodwendig goed nie, maar dit het gevoel asof dit my vry maak. Omdat dit heeltemal anders en vars is vir my. Dit voel vir my ek het nie ’n tweede boek geskryf nie. Dis asof ek ’n kans gehad het om die tweede een uit die pad uit te kry.

Het jy ’n aandeel in die ontwerp van die omslag gehad?

Ek het my uitgewers mal gehad. Omdat ek ’n kunstenaar ook is, het ek gekom met idees en toe ek dit vir hulle wys, het hulle gesê dit gaan nie werk nie. Ek het baklei, want ek het gevoel met my agtergrond in kuns weet ek mos beter. Maar op die ou einde het die uitgewers gesê ek moet Michiel Botha, wat die omslag ontwerp het, vertrou. Ek was skepties, maar toe ek dit sien, was ek jammer en ’n bietjie hartseer oor ek hulle nie aanvanklik vertrou het nie.

Jy begin met ’n treffende aanhaling van Orson Welles. Hoe het jy daaraan gekom?

Ek het die aanhaling gaan soek, want ek wou iets hê wat kon werk met gelukkige eindes of met eindes van boeke. Dit was die eerste aanhaling waarop ek afgekom het. Ek was nog besig om die boek te skryf en toe ek besef wat die boek se naam is, het ek geweet die eindes van stories moet op ’n sekere manier aangeroer word. Orson Welles se woorde was presies wat hierdie boek is. Dit werk juis met die eindes van al die karakters se verhale.

Die boek het n ongewone formaat. Wei uit.

Omdat daar soveel mense in die boek is, moes ek dit op ’n manier formuleer wat sin maak. Dit het my laat dink hoe ’n storie ingedeel word, die tipiese manier van begin, middel en einde. Toe begin ek dink oor die einde en die eindes, en so het die proses toe gebeur. So in die helfte van die boek het ek besef dis baie deurmekaar en daar is baie karakters en dat ek hulle moet laat inpas. Ek het van die mense se stories gaan inpas in sekere van die dele sodat dit sin maak, sodat die idee van die begin, middel en einde ook sin maak. Maar natuurlik is daar altyd ’n kinkel in die kabel en dit is waar “Ná die einde” inkom. Ek gaan nie daaroor praat nie, want dit sal die storie weggee.

 

Is jy n fyn waarnemer wat mense dophou om jou karakters te kan skep?

Ek hou baie daarvan om rond te kyk. Daar is baie stories wat ’n mens raaksien. Ek het ’n sagte plekkie vir mense wat ek voel deur moeilike tye gaan. Mense wat lyk of hulle swaarkry, iets wat hulle dieper maak. Elkeen van my karakters is ’n soort persoon wat ek al in my lewe ontmoet het.

Hoe maklik is dit vir jou om oor seks te skryf?



Ek probeer seks sien as net nog ’n deel van ons lewe. Vir jare het dit vir my gevoel as jy oor seks skryf, dan is dit amper soos jy raak verlief; dit vat ’n lang tyd en uiteindelik is julle saam in die bed en dis hierdie wonderlike ding wat gebeur en jou lewe verander. En eintlik dink ek in ons lewens is dit nie hoe dit werk nie. Seks is deel van die lewe, of dit iemand is waarvoor jy lief is en of dit net iemand is wat jy wil gebruik ... Dit klink nou verskriklik, maar dit is so. Ek probeer altyd so skryf dat seks ’n normale deel van die lewe is, en dat dit nie iets is om oor skaam te wees nie.



JONGSTE UITGAWE

Maart/April 2022

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees