’n Daaglikse velsorgroetine en gereelde gesigbehandelings is die boustene van ’n gesonde, stralende vel op jou troudag. Maar soms is ekstra hulp nodig om moeiliker kwessies soos pigmentasie, ’n vaal gelaat, gebarste aartjies onder die veloppervlak te behandel. Gelukkig is daar ’n rits skoonheidsbehandelings wat jy kan probeer vir vinnige, doeltreffende resultate. Kies uit dié top-behandelings:

1. Chemiese afskilferingsbehandeling (peel)

Hoe werk dit?

Tydens ’n chemiese afskilferingsbehandeling word ’n produk met ’n hoë konsentrasie sure gebruik om ’n aantal lae van jou vel te verwyder. Hoe hoër die konsentrasie sure in die produk, hoe dieper werk dit in jou vel.

Beste vir …

Die verbetering van knoppies en aknee, fyn lyntjies en plooie en om pigmentasievlekke weg te skaaf sodat dit ligter lyk.

Om te weet:

Meer as een behandeling is gewoonlik nodig vir die beste resultate, veral as jy pigmentasie het. Probeer om so drie maande of meer voor jou troudag te begin. Jy kan tot twee weke voor jou troue nog vir ’n chemiese afskilferingsbehandeling gaan.

Pryse vanaf R350.

 

2. Suurstofbehandeling (oxygen facial)

Hoe werk dit?

Vir baie internasionale en plaaslike bekendes is ’n suurstofbehandeling die rede hoekom hul vel so vars en stralend lyk op kamera. Met dié behandeling word ’n spesiale gepatenteerde toestel van die internasionale maatskappy Intraceuticals gebruik om suurstof en aktiewe bestanddele soos onder meer hialuronsuur en antioksidante deur middel van drukking in jou vel in te stoot. Dit sorg dat die bestanddele jou vel diep binnedring en dit onmiddellik van binne af hidreer en opplomp.

Beste vir …

Die behandeling van ’n vaal, growwe veltekstuur, fyn lyntjies, vergrote porieë en aknee. Dis perfek vir wanneer jy daardie “J-Lo glow” wil hê.

Om te weet:

Die behandeling behoort nie seer te wees nie en voel gewoonlik asof iemand met ’n baie klein drukspuit koue vloeistof oor jou gesig spuit. Daar is byna geen newe-effekte nie, so laat doen dit ’n week voor jou troue vir die beste resultate.

Pryse vanaf R1 500. Besoek www.intraceuticals.com vir ’n lys van plaaslike salonne wat dié suurstofbehandelings aanbied.

FOTO: Unsplash / Raphael Lovaski

3. Radiofrekwensie-behandelings soos Accent en Exilis Elite

Hoe werk dit?

Elektromagnetiese impulse word oor jou vel uitgestuur om hitte-energie onder die veloppervlak te genereer. Soos wat jou vel verhit, stimuleer dit kollageen om saam te trek.

Beste vir …

Dié behandeling kan oor jou hele gesig gedoen word vir ’n plomper, fermer vel.

Om te weet:

Die behandeling is dikwels vinnig met byna geen newe-effekte nie. Boonop sien jy resultate ná net een sessie. Laat doen dit sowat drie maande voor jou troue om jou vel tyd te gee om nuwe kollageen te vervaardig.

Pryse vanaf R750.

 

4. Laser- en ligbehandelings soos Pulsed Dye Laser en Intense Pulsed Light (IPL)

Hoe werk dit?

Ligstrale word deur oppervlakkige rooi en bruin pigmente in jou vel aangetrek, waar dit die pigmente verhit, saamtrek en oplos, sonder om die omliggende vel te beskadig.

Beste vir …

Die behandeling van sproete, oppervlakkige sonvlekke, gebarste aartjies of moesies.

Om te weet:

Die resultate is eers ná ’n paar sessies sigbaar (sowat drie tot agt is nodig), maar daar is byna geen hersteltyd nodig nie. Begin ses maande voor jou troue met die eerste behandelingsessie en hou so twee maande voor jou troudag op.

Pryse vanaf R1 300.

 

Probeer ook een van dié gesigbehandelings

1. QMS Medicosmetics Activator Treatment (vanaf R650)

Die behandeling span natuurlike oplosbare kollageen en hialuronsuur in om ’n moeë vel weens stres nuwe lewe te gee deur dit te hidreer en op te plomp. Ná reiniging en afskilfering word ’n masker met die aktiewe bestanddele aan jou gesig gewend, waarna ook ’n gips-masker aangewend word om die bestanddele dieper te laat penetreer. By uitsoeksalonne, -spa’s en estetiese klinieke.

2. Placecol Cleansing Clay Facial (R440)

Met die behandeling word jou gesig behoorlik afgeskilfer met kragtige ensieme en jou porieë goed skoon gemaak om van knoppies en onsuiwerhede ontslae te raak. ’n Spesiale lig word ook gebruik om die tempo waarteen jou vel herstel te bespoedig. By Placecol-salonne.

3. Dermalogica ProSkin60 UltraCalming Treatment (R700)

Dié gesigbehandeling is perfek vir ’n sensitiewe vel. Dermalogica se UltraCalming-produkreeks, wat onder meer hawermout, nagblomolie en vitamien E bevat, word gebruik om enige rooiheid en irritasie voor jou troudag te kalmeer. Dit vul ook jou velwand aan sodat jou vel homself beter kan beskerm teen eksterne faktore.



Lees meer op SARIE Bruid: (ver)koop my rok & ander dienste