Sprokies is vir kinders? Gebeur net in flieks en op TV?
In haar eerste TV-reeks, Song vir Katryn, was sy ’n kelnerin wat nie altyd goed deur die manne behandel is nie. Toe word Katryn gekies vir ’n advertensie-veldtog, Rags to Riches. En als verander in ’n ommesientjie.
“Dit is presies hoe ek nou voel, dis soos ’n fliek-draaiboek,” sê Therese Benade en beduie om haar. Met die intrapslag het sy haar hoëhakke uitgeskop en ’n glas rooiwyn ingeskink. As Kwêla-inhoudsvervaardiger werk sy van nege tot vyf, ’n ritme waaraan sy gewoond moes raak.
Die praghuis bo-op Llandudno se koppe bied ’n onbelemmerde uitsig op die see. Dis mistige reënweer, maar gewoonlik gaan die son dié tyd in al sy oranje glorie onder. Dan sit hulle graag op die stoep, elkeen met ’n glas wyn en verkyker. Binnekort trek hulle, waarskynlik nader aan albei se werk.
Sy en Christian Bam, Kaapse argitek. Die rede waarom sy in ’n pienk seepborrel ronddryf. Hul troue, met die SARIE-onderhoud, was oor vyf dae. Sy gaan hom met die seremonie tegemoet stap op maat van die Barry White-liedjie “You’re the First, the Last, My Everything”. Hul harte op die mou uitgestal.
Vanoggend het sy haar trourok finaal aangepas. Saam was haar suster, Valda, en dié se dogtertjie, Emily (3), een van die blommemeisies. “Elbeth [Gillis, die ontwerper] het die sluier ook opgesit. Want, jis, ek droom nou al soveel jare van dié prentjie. Dit het ’n oomblik so half onwerklik gevoel.”
Therese en Christian het mekaar, op enkele dae na, twee jaar gelede ontmoet. As Kwêla-veldaanbieder het sy ’n insetsel by Niël du Bois se restaurant, De Vette Mossel, op Groot-Brakrivier gedoen. Hy het haar na die bekendstelling van sy gelyknamige kookboek op die wynplaas Beyerskloof naby Stellenbosch genooi. Sy was nie juis lus vir die spitsverkeer op ’n weeksaand nie, maar het uiteindelik tog gegaan.
“Ek het net by die plek gestop, toe Christian inry. Iets het my aandag getrek, maar almal spot dit was sy kar, ’n Range Rover Sport. En ek hét gewonder watter blonde uit daardie kar gaan klim! Niël het ons voorgestel, ons het begin gesels en uiteindelik saam kos ingeskep.”
Gekliek en mekaar “hier en daar” begin sien. Die kinkel: Sy was op die punt om Johannesburg toe te trek. Maar uiteindelik het sy besef haar hart is in die Kaap. Ja, smoorverlief, bieg sy ná ’n bietjie por. “Ek was van die begin af gek oor hom. Sjoe, ek’t nog nooit iemand soos hy ontmoet nie. Plat op die aarde, so gemaklik met homself. En die stories wat hy vertel, oor sy reise en motorfietsritte.”
En hoor hier: Christian, nie ’n Kwêla-kyker nie, het die insetsel oor Niël se plek gekyk omdat hulle vriende is. “Hy’t die aand op dié einste rusbank gesit. En toe hy my op TV sien, glo opgestaan en gesê: ‘Dis my girl daai.’ Seker ’n goeie twee maande voor ons ontmoet het.”
Hoe beter sy hom leer ken het, hoe meer het hy haar beïndruk. Maar sy was ook “flippen bang”. Want sy het mos al seergekry. “Ja, ek was in ’n baie rowwe verhouding. ’n Ongesonde een, ’n klompie jare. Dit was ’n moeilike pad. Christian het gesê dis selde dat jy iemand ontmoet met wie jy so ’n konneksie het soos ons. As jy dit vind, moet jy daarvoor veg. Dat hy sou wag.”
Hy was voorheen getroud, maar het nie kinders nie. Albei het ’n pad met lewensafrigters gestap om hulself uit te sorteer. En is op plekke waar hulle baie gemaklik met hulself, in hul lyf voel.
“Ons het respek vir mekaar, hy maak nog elke keer vir my die motordeur oop, wag by ’n deur dat ek eerste instap. Hy’t sulke goeie maniere en laat my gekoester voel. Op die oppervlak lyk hy baie kalm, maar is ’n terggees.
En hy’s avontuurlustig. Ek’s eintlik bietjie van ’n banggat, maar hy spoor my aan om dinge te doen en dis lekker. Aan die ander kant is ek ’n homebody. Hy’t ’n groterige besigheid en ek dink hy geniet dit om tuis te kom en hier’s huislikheid. Dis die eerste keer dat ek met iemand uitgaan waarvan my hele familie hou. Ek dink hulle hou meer van hom as van my!”
Sy streel haar blinde hond, Timmy, se rug ritmies met haar kaalvoet. Pepe, die klein yorkie, lê eenkant op sy kombersie, maar daai ogies mis niks. ’n Gemsbok-kop begroet jou as jy by die huis instap. Om die hoek is ’n eland s’n. Nimrod en Ignatius. Christian het hulle geskiet (en vernoem).
“In my jonger dae sou dit my uitgefreak het,” sê Therese, wat nie rooivleis eet nie. “Maar ek’s gemaklik daarmee. Hy’t dit gejag, met een skoot doodgeskiet, geslag en die vleis gebruik, of vir mense gegee wat dit kan gebruik. Dis meer eties as ’n abattoir. Ek wys nie vingers nie, vra net dat jy respek het vir die dier en hom ordentlik jag. Moenie gesuip raak nie, dis nie sports nie.”
Sy het ná wik en weeg besluit om nie haar nooiensvan te behou nie, ook professioneel. “Therese Bam. Dit gaan ’n aanpassing wees, maar dis ’n nuwe fase in my lewe. Hy het gesê hy verwag dit glad nie. Maar ons word nou ’n eenheid.”
Boonop gaan dit dinge vereenvoudig as hulle kinders het. Want babas is beslis in die prentjie. Hulle gaan sommer dadelik daaraan begin werk. Hulle is nietemin realisties, sy is 40, hy 50. Hulle gaan nie “allerhande goed” doen om dit te laat gebeur nie.
Maar dan, sê sy, is dit maklik om nou te praat. Sy weet nie waardeur sy sal gaan as hulle probeer en niks gebeur nie. Wat haar hoop gee, is dat haar suster, Valda, ook eers ná veertig met ’n gesin begin het. So ook haar broer, Eugene.
“As dit gebeur, is dit ’n groot seën. Dit maak my ook ’n bietjie bang, want ons lewe saam is so lekker.”
Vir Christian gaan sy soos goud oppas. Want sy wéét hoeveel dit wat hulle het, werd is. Hulle het nog nooit baklei nie. Sy het hom nog nie een keer kwaad gesien nie. Syself kan soms ’n skerp tong hê, ’n universiteitskêrel het haar nie sonder rede nie Rissiepit genoem. Maar saam met Christian is daai tong pure heuning.
“Dis wonderlik wat ons saamwees aan my doen. Ek’s eintlik ’n rustige mens. As ek in die verkeerde situasie is, of ongelukkig, raak ek egter paniekerig en krapperig. Jy sien maklik as ek af voel.”
Hulle is volwasse, bewus van die slaggate. Elkeen het al ’n pad geloop en daaruit geleer. Jare gelede het sy openlik gepraat oor haar stryd met bulimie, wat fisiek net ’n paar maande geduur het, maar jare ’n kopding was.
“Dit gee my soveel insig: al die vroue met wie ek in kontak kom wat sulke probleme het. Dit gaan hand aan hand met die vrees dat jy nie goed genoeg is nie. Jy koppel aanvaarding aan hoe mooi jy lyk, hoe maer jy is. Jy kan dit boonop beheer, nie só met hoe slim en talentvol of wat ook al jy is nie. Maar dit beteken nie jy word aanvaar nie. Die eerste stap is om te leer om jouself te aanvaar, maak nie saak wat ander dink nie.”
As ons maar die tyd wat ons aan ons voorkoms bestee in ons persoonlike ontwikkeling sit, sou ons gelukkiger mense gewees het – en meer verhoudings staande gebly het. Só sê Therese. Sy spot syself kan al kwalifiseer as terapeut, so baie jare se terapie het sy agter die rug. Die pad na selfontdekking het begin toe sy in Johannesburg gewoon en in die sepie Villa Rosa gespeel het. Sy wou haar langtermynverhouding beëindig, maar het nie geweet hoe om die ongesonde patrone te verbreek nie.
“Christa van Onselen, ’n leefstylafrigter van Pretoria, het my gered! My gehelp om myself weer te vind. Selfs ná my en Christian se ontmoeting moes ek aan bagasie werk wat ek uit ander verhoudings saamgesleep het. Sodat dit nie ’n goeie ding beduiwel nie. Ek was aanvanklik net so bang iets gebeur. Dat ek nie goed genoeg, mooi genoeg is nie. Simpel goed wat jy mos maar saam met jou dra.”
Hulle het Christa gevra om die seremonie op die wynplaas Saronsberg, naby Tulbagh, te lei. Sy wou nie, maar gaan wel iets voorlees. Chris Ahrens, eens Christian se leefstylafrigter, gaan dit nou doen.
Dis aan Eugene se arm wat sy haar bruidegom tegemoet gaan. Sy moes haar daarmee versoen dat haar pa, Johan, se plekkie leeg gaan wees. Hy is sowat twee jaar gelede aan kanker oorlede. Net die blote gedagte daaraan wou haar laat huil, maar Christa het haar ’n paar tegnieke geleer om haar gevoelens makliker te beheer.
Basta op haar troue grens. Nee, dis ’n viering! Sy sal daai paadjie afwals. Daarom die keuse van Barry White se liedjie. G’n troumars nie!
The first, my last, my everything
And the answer to all my dreams
You’re my sun, my moon, my guiding star
My kind of wonderful, that’s what you are
Dalkies gaan van die gaste huil, spot sy. Maar dit sal van vreugde wees omdat sy uiteindelik geluk gevind het. Verstomming oor die man wat sy so toevallig ontmoet het. “Almal het al moed verloor. Hulle was dáár toe dit sleg met my gaan. En nou – dis asof dit twee verskillende mense is. “Dis ongelooflik, die mag van liefde. Van gesonde liefde.”
Plek: Saronsberg, 023 004 0435, kontak Marica Louw, marica@saronsberg.com, www.saronsberg.com, Facebook/Saronsberg Cellar
Foto’s: Riekert Cloete, info@riekertcloete.com, www.riekertcloete.co.za, Facebook/Riekert Cloete Photography
Therese se rok: Elbeth Gillis Couture, www.elbethgillis.com
Therese se hare en grimering: Iza Cloete www.izacloete.co.za
Blommemeisies se rokke en skoene: Candy Cotton deur Bglamour, kontak Janine Naude, 082 460 3460, janinenaude@gmail.com, bglamour1.weebly.com
Blomme: Anli Wahl Floral Design, anliwahl@me.com, www.anliwahl.co.za, Facebook/Anli Wahl Floral Design
Vuurdansers: Fire Tribe, kontak Caitlin, 061 317 3280, performance@firetribe.co.za, www.firetribe.co.za, Facebook/Fire Tribe
Beligting en meubels: Baie Goeters, kontak Anelma le Roux, 082 840 2928, info@baiegoeters.co.za, www.baiegoeters.co.za, Facebook/Baie Goeters
Spyseniering: Pauline Schreuder Catering, 083 727 7887, paulineschreuder@vodamail.co.za, Facebook/Pauline Schreuder Catering
Troukoek: Mareli Visser (Die Koektannie), koekekok@gmail.com, Facebook/Mareli Visser Koekedoor
Produkte en behandelings vir Therese: Rika Bothma, The Aesthetic Agent, 083 448 5278, Facebook/The Aesthetic Agent
Therese se haarkleur en haarstukke: Calvin Olckers, Platinum Hair and Beauty, 021 914 3180, info@phbeauty.co.za, www.phbeauty.co.za, Facebook/Platinum Hair & Beauty
Flamink-koekies: Khayelitsha Cookies, 021 510 2300, admin@kcco.co.za, www.khayelitshacookies.co.za, Facebook/Khayelitsha Cookies
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET