Die aktrise Kara du Toit, wat die rol van dr. Maya Gosslin in Binnelanders vertolk, se hart loop steeds oor van vreugde. Sy kon etlike dae voor Suid-Afrika in ’n staat van inperking geplaas is, meemaak hoe haar geliefde jonger broer, Bekker-Brand Janse van Rensburg, en sy verloofde, Adine Engelbrecht, trou. 

“Dit was ’n feëverhaal waarvan ek kon deel wees,” vertel sy. 

Die Binnelanders-aktrise Kara du Toit, oftewel Maya Gosslin, en haar man, Jan-Louis, was albei deel van die gevolg. FOTO Verskaf

Die aanvanklike troudatum sou op 2 Mei wees - op ’n dag wat alles sou wees waarvan Adine van kleintyd gedroom het. Maar toe is daar ’n sterfte in die familie en die wêreld word deur die koronapandemie getref, en al die paartjie se planne was skielik duister.

Die naweek het die twee besluit om die groot dag te kanselleer - al was dit hoe moeilik.

Maar teen Dinsdag, drie dae voor die inperking sou inskop, besef hulle: Die lewe is te kort, hulle weet tog hulle hoort by mekaar. 

“My broer het my 09:30 gebel en gevra of ek die Woensdag deel van sy troue wil wees,” vertel Kara. “Ek het sonder om hoegenaamd te twyfel ‘ja’ gesê. En toe begin die beplanning!”

Binne ’n dag is die hele troue gereël. Die rok is gaan haal, ’n intieme venue gevind, ’n fotograaf gekry en 19 gaste (met streng regulasies) genooi. Alles het net in plek geval.

“Sonder enige fieterjasies, dit was net liefde,” sê Kara.

FOTO Anita Janeke
FOTO Anita Janeke

Bekker-Brand en Adine wou nie nog 21 dae sonder mekaar wees nie. Die lewe is juis nou so onvoorspelbaar. 

“Dit was vir ons belangrik om in hierdie tyd aan mekaar ’n belofte te kon maak wat nie gebreek kan word nie,” vertel Bekker-Brand aan SARIE. “Ons wou man en vrou wees.”

Adine sê dit was ’n week vol spontane besluite. “Maandag het ons ’n woonstel gekry, Dinsdag het ons die troue beplan en Woensdag het ons getrou.”

Kara het vir Adine gehelp om haar trourok te kies. FOTO Anita Janeke
FOTO Anita Janeke

Etlike ure voor hul troue was Adine ’n slagoffer van ’n gewapende roof. “Terwyl haar hare en naels gedoen is,” vertel Kara. “Maar sy is ongeskend en heel daar weg. Geen teëspoed kon dié gelofte keer nie.”

Die troue was perfek. Die seremonie was in ’n tuin, iets waaroor Adine altyd gedroom het. “Die spesiale mense in ons lewe was daar. Dit was intiem, ons kon almal insluit in die speech en mekaar celebrate,” vertel sy.

Die troue en onthaal was klein en intiem. FOTO Anita Janeke
Die familie het spesiaal die bruilof bygewoon. FOTO Anita Janeke

Bekker-Brand sê soveel oomblikke staan vir hom uit. “Die intimiteit van die troue was vir my so belangrik. Almal wat ek daar wou hê, was daar. Dit het ons drie maande gevat om daai groot troue te reël, maar toe almal saam hande vat reël ons dit in minder as ’n dag. Dit was so spesiaal.”

“Ek is steeds stomgeslaan,” sê Kara. “Maandag het ons nie geweet hoe die week sou uitdraai nie.”

En Adine-hulle sal vir altyd die dag onthou. “Ons gaan ons kinders hiervan vertel.”

Die pasgetroudes saam met ousus Kara en manlief, Jan-Louis. FOTO FOTO Anita Janeke
FOTO Anita Janeke