Wat sê die kenners?

Amaria Carstens, SARIE se moderedakteur

Wenk 1: Tydloos bo trend

Kies ’n trourok wat jou steeds ná twintig jaar laat snak na asem. ’n Tikkie klassiek is altyd ’n wenner. 

Wenk 2: Beklemtoon 

Wys jou beste bates en gelaatstrekke. As jy ’n dun middeltjie het, kan jy ’n snit kies wat dit afwys. Of fokus op ’n snit wat jou mooi kurwes beklemtoon.

Wenk 3: Gemak is bo

Jou gemak is belangriker as die nuutste tendense. As die nuutste tendens moulose rokke is, maar jy voel nie gemaklik om jou arms te wys nie, kies eerder ’n rok met moue. Om selfbewus te voel op jou troudag sal net tragies wees.

Kobus Dippenaar (trourokontwerper)

Wenk 1: Ken jou persoonlikheid

Jy ken jou persoonlike voorkoms en persoonlikheid. Jou rok moet jou styl én persoonlikheid weerspieël. As jy modebewus is, volg die nuutste modes.

Wenk 2: Weet wat werk vir jou lyf

Ken jou liggaam en jou figuur se vorm, asook die kleurskakering wat jou die beste vertoon. Jy hoef nie spierwit te dra as dit jou nie mooi laat voel nie.

Wenk 3: Rok moenie kollig steel nie

Die rok moet nooit die kollig steel nie. Die bruid moet eerstens raak gesien word en die rok moet haar beklemtoon.

Suné Snyman (trourokontwerper)

Wenk 1: Pas, pas, pas

Pas verskillende style aan. Al droom jy van kleintyd af oor daai prinsesstyl-rok, is dit nie te sê dit gaan pas by jou figuur nie. Maak jouself ook bewus van die verskillende tipes wit wat daar is. Jy kry ’n warm melkwit, ivoorwit (wat effens geel vertoon), asook blouwit of spierwit. Daar is só baie verskillende skakerings en dis belangrik dat jou rok die regte kleur vir jou velondertoon is.

Wenk 2: Alles het ’n prys 

Alles het ’n prys, maar daar is ook iets soos “te goedkoop” en “te duur”. Wanneer iets te goedkoop is om waar te wees, dan is dit. Die trourokmark is kompeterend, dus sal die beste plekke almal mededingende pryse hê. Daarmee sê ek nie jy moenie op ’n winskopie toeslaan, wanneer dit oor jou pad kom nie, maar doen jou huiswerk.

Wenk 3: Kies waarvan jy hou

Geen uitsonderings! Kies die rok vir jou en maak seker dis iets waarvan jy hou. Moenie jou ma, ouma of vriendin probeer tevrede stel nie. Wees ook versigtig vir moderne tendense, jy moenie dekades later spyt wees oor daai trourok nie. 

Uit ons virtuele klerekas

Vyf klassieke, tydlose trourokke, te koop op SARIE Bruid: (ver)koop my rok & ander dienste.

Modern met tikkie tydloos

Klassieke Droom Trourok

Elbeth Gillis - Jennifer-rok

Klassieke droomrok

Romanties-elegant

Soek die trourok van jou drome in ons trou-kas, of kontak 'n top-ontwerper om vir jou 'n splinternuwe rok te maak, alles deur SARIE Bruid: (ver)koop my rok & ander dienste!