Hoe het jou idee van dekor verander voor en tydens die pandemie?

Ek dink die dae van bruide wat sê: “So het ek my troudag nog altyd voorgestel en alles moet presies só wees en gebeur,” is verby. 

Ek glo in ’n mate is dit ook van toepassing in die geval van die toekomstige bruid en bruidegom - Schané en Marion. Minimale dekor en blomme en ’n kleiner gevolg met meer aandag op familie en goeie vriende. Ek besef hulle het die kopskuif gemaak van in plaas daarvan om hulle hele begroting te spandeer op baie blomme en dekor en om honderde gaste te vermaak, vir een nag, is daar eerder meer fokus geplaas op die gastelys en ligging van die troue. 

Hulle wil vir hulle gaste eerder ’n betekenisvolle ervaring vir die hele naweek bied en kosbare tyd saam met elke gas spandeer.

Wat dink jy is die grootste moets en moenies as dit kom by die keuse van dekor?

Moenies

1. Sê nee vir warboel:

Besluit vooraf wat is die belangrikste. Dus is daar sekere verskaffers waarop jy nie kan afskeep nie. Wees bereid om minder te spandeer op ander aspekte om steeds binne die begroting te bly. Ons weet dit is ontsaglik opwindend om te trou, maar dit is nie nodig om oorboord te gaan nie. 

2. Alles hoef nie bymekaar te pas nie:

Kies 'n kleurtema – kleure wat mekaar komplimenteer eerder as om alles eenkleurig te maak. Deur dit te doen sal jy dit interessant hou maar nogtans elegant. Daar is soveel kleure om van te kies, maar dit is altyd makliker om te weet wat jy nie wil hê nie. 

Elke tafel se dekor en uitleg hoef ook nie eenvormig te wees nie. Speel rond met die dekor, blomme en uitleg. Dit hou die tafel boeiend en laat die oog meer as een keer kyk. 

3. Blomme is nie altyd die oplossing nie.

Ja, 'n troue is onvolledig sonder blomme, maar dit beteken nie dat die blomme die hoof-komponent hoef te wees nie. Daar is soveel mooi dekor wat dieselfde effek kan hê. 

'n Groot fout wat gereeld gemaak word, is wanneer bruide te veel fokus op elke ruiker of rangskikkingeerder as om die klem te skuif na hoe dit die geheelbeeld komplimenteer.

4. Moet nie die linne afskeep nie. 

Linne kan soveel meer bydra tot die gevoel van die troue. Dit kan die kleurskema verhef en bydra tot alternatiewe teksture op jou tafel. Dit maak 'n tafel sag en elegant. Daar is 'n groot verskeidenheid linne keuses wat help om jou trou versierings op te gradeer, jou visie te verwesenlik en 'n aangename ervaring vir jou gaste te skep.

Ek is gek oor hoe tafellopers die atmosfeer van 'n tafel heeltemal kan verander, dit is seker een van my gunsteling-besonderhede wat ek op 'n tafel kan sit. Kies 'n tafelloper wat vir jou genoeg spasie kan bied om steeds met jou dekor op die tafel te speel. 

Moets

1. Beligting

Beligting word gewoonlik nie as deel van die trou-versierings beskou nie, maar in werklikheid speel dit 'n groot rol. Beligting dra ook by tot die tipe atmosfeer wat jy wil skep. Unieke vorms van lig kan 'n skouspelagtige toevoeging tot jou droomdag wees. Dink in die lyne van kandelare, kerse, Sjinese lanterns, lampe en sprokiesligte.

2. Verkillende teksture

Wanneer 'n pragtige troue geskep word, is ek 'n groot aanhanger van die gebruik van verskillende teksture om 'n werklike impak te maak. 

Tekstuurelemente help nie net om diepte, detail en belangstelling in enige ruimte toe te voeg nie, maar kan ook voorkom dat jou omgewing plat of een-dimensioneel voel.

Speel met verskillende linne. Die tafelloper op die tafel en die servet hoef nie dieselfde kleur of tekstuur te wees. Fluweelservette of -lopers is baie gewild die afgelope tyd. Dit tel ook vir die dekor en blomme op die tafel. Gedroogde blomme is nou ook baie meer gesog, maar mens kan dit steeds kombineer met sagter, vars blomme. 

Die moontlikhede is eindeloos as dit kom by stilering en tekstuur, dink dus aan 'n paar subtiele, deurdagte maniere waarop jy tekstuur in elke area van julle bruilof kan byvoeg om 'n samehangende voorkoms te skep.

3. Laat ruimte vir kreatiwiteit

Gaste onthou altyd dit wat uniek was aan 'n troue en anders aan die bruid en bruidegom was. Betrek gaste by iets wat vir julle kosbaar is soos julle gunsteling-nagereg of die nagereg wat julle geëet het op julle eerste afspraak. Maak dit heeltemal anders. Almal gaan altyd met 'n vooropgestelde idee na 'n troue, want hulle was immers al by 'n paar. Wanneer jy dit anders maak slaan jy dalk net hulle voete onder hulle uit.

4. Maak jou eie reëls

Wie sê dat jy 'n troukoek moet hê? As jy nie lief vir koek is nie, hoef jy nie 'n troukoek te hê nie. Jy hoef nie die kousband of ruiker te gooi nie. Gaste verkies deesdae troues wat meer natuurlik vloei teenoor sporadiese onderbrekings vir verouderde gebruike of tradisies.  

Julle troue behoort net oor julle te handel, en as die tradisionele benadering tot die beplanning van julle troue nie gemaklik by jou pas nie, moenie moed verloor nie. Tye het verander en deesdae kan julle troue alles wees wat julle wil hê. Dit is julle troue, so dit is julle reëls!

Hoekom is dit belangrik om 'n tema te kies?

Ons almal het al gehoor dat 'n troue 'n tema moet hê; daar is die strand-troue, die “rustic” troue, die “boho” of boheemse troue, ensovoorts. Maar so gewild soos wat trou-temas in sosiale media geword het, het ek ook opgemerk dat meer en meer paartjies weg beweeg van temas af. Ek hoor meer en meer dat paartjies hulle troue eerder beskryf deur die gevoel en atmosfeer wat hulle wil skep eerder as hoe hulle trou-dekor moet lyk. 

Wat nou meer gereeld gesê word is: “Ons wil hê ons troue moet rustig wees, pret en 'n tyd vir al ons naaste familie en vriende om saam te kuier en die dag te geniet.”  Dit is wel belangrik dat seker aspekte van die troue mekaar moet komplimenteer, maar vir die meeste paartjies is 'n trou-tema selde 'n belangrik prioriteit. 

Wat dink jy is 'n mors van geld as dit kom by dekor?

Vars blomme dra by tot enige vreugdevolle gebeurtenis, maar moet nie te veel spandeer nie, tensy jou begroting dit toelaat. Spandeer dus waar jy die meeste uit kry. Jy kan eerder byvoorbeeld meer spandeer op die bruidsruiker, want dit gaan op al die foto’s wees waarna jy nog jare daarna sal kyk. 

Ek sê nie om blomme heeltemal te vermy nie - bestee net jou geld slim. 

Hou dit eenvoudig, hou dit persoonlik en onthou meer is nie altyd beter nie. Dekor op jou troue is die ‘kersie op die koek’. Dit moet jou dag komplimenteer en nie oorheers nie. Hou die fokus op die bruid en bruidegom en gebruik dekor om die sprokie in te kleur. 

De Schone Decor

Jaunmari Matthee

E-pos: info@deschone.co.za

Webtuiste: https://www.deschone.co.za

Telefoon: 079 354 0984

Instagram: @deschonedecor

Facebook: De Schone Decor

SARIE is al vir dekades dié inspirasie vir bruide. Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry. Vir meer, gaan na SARIE Bruid: (ver)koop my rok & ander dienste.