Dis die laaste paar dae voor 2021 begin. So gebruik hierdie tyd om te ontspan. Dis nie nodig om baie tyd aan jou grimeer-voorkoms af te staan nie. Deur net slim te kies kan jy in 'n kits 'n treffende voorkoms skep.

Fokus op 'n natuurlike voorkoms met 'n multidimensionele sonbruin voorkoms. En moenie vergeet om jou oë te beklemtoon nie!

Dié drie produkte het jy nodig:

1. Deursigtige onderlaag

'n Natuurlike voorkoms is tans 'n groot tendens en die reël vir onderlaag is minder is meer. Dink maar net aan die hertogin van Sussex, Meghan Markle, wat graag 'n deursigtige onderlaag dra wat haar sproete steeds liggies laat deurskyn. Die nuutste onderlaagformules spog met 'n ligte, byna waterige tekstuur wat gemaklik op jou vel voel, maar met 'n fluweelagtige afwerking wat houkrag het.

L'Oréal Paris Infallible 24H Fresh Wear Foundation (R230)

2. Foutlose verbronser

Verbronser gee jou gesig onmiddellik warmte en laat dit sonbruin en glansend lyk. Veral produkte met 'n kombinasie van skakerings wat jy sáám gebruik, sorg vir 'n multidimensionele voorkoms. Baie vroue maak wel die fout om te veel aan te wend, sê Ryno Mulder, grimeerkunstenaar van Johannesburg. Jou vel lyk dan streperig, droog en plat.

Kompakte poeiers is die maklikste om aan te wend. Gebruik 'n groot, ronde borsel en vee dit ligweg in die vorm van 'n 3 aan: van jou slape uitwaarts in 'n kurwe tot net onder die wangbeen, dan weer uitwaarts in 'n kurwe tot net onder die kaaklyn, en skakeer goed. "Die borselpunt moet soos 'n vlinder op jou gesig voel wanneer jy dit aanwend."

WENK
Skakeer sommer ook met jou vinger verbronser oor jou ooglede vir 'n maklike dagvoorkoms.

Avon True Colour Glow Bronzing Pearls in Sunny Bronze (R180). Skakel 0860 102 345

3. Beklemtoon jou oë

Die Hollywood-grimeerkunstenaar Sir John, wat spog met bekende kliënte soos Beyoncé, Priyanka Chopra en Naomi Campbell, het Suid-Afrika onlangs op uitnodiging van Woolworths besoek om twee grimeer-werksessies met hul WBeauty-produkte aan te bied. Volgens hom is 'n sagte oogpotlood die een produk wat elke vrou in haar grimeersakkie móét hê. "Selfs net 'n dun lyntjie al langs jou wimperlyn beklemtoon onmiddellik jou oë. Meer as dit het jy nie nodig nie," het hy in 'n eksklusiewe onderhou met SARIE gesê. 

WBeauty Eyes Retractable Eyeliner (R120). By Woolworths.