Die lob (of lang bob) was in 2018 supergewild. Dit pas enige gesigvorm én lyk mooi by oud en jonk. Boonop is dit ’n veelsydige styl wat jy maklik kan stileer. Die haarstyl kan stompgesny of in effense lyers gedra word.
Die gewilde haarstyl kry nou ’n vars kinkel danksy die “kitten”-kuif. “Dié korter kuif wat effens versnipper is, het ’n 90’s-gevoel en is jonk, vars en effens parmantig. Dit maak jou gesig onmiddellik oop en is een van die maklikste maniere om nuwe lewe in jou haarstyl te blaas,” sê Boyd Meilhon, meesterstilis by die haarsalon Karo Hair in Johannesburg.
As jy bang is dat jou kuif te veel
stilering gaan verg, wees gerus, jou haarstileerder sal jou haartekstuur, hetsy
fyn en reguit of krullerig, in ag neem en dan jou stomp haarpunte en kuif só
sny dat minimale stilering nodig is.
Versorging:
Wanneer jy ’n kuif laat sny, neem dit dikwels ’n tydjie vir jou hare om gewoond te raak om se te val. Gebruik ’n bevogtigende sjampoe en opknapper om kroeserigheid te keer. Kam dan net nadat jy jou hare gewas het jou nuwe kuif reguit uit en blaas droog. Mettertyd sal jou kuif vanself mooi droog word. Rond die styl af met ’n glanssproei om fyn haartjies wat opstaan te tem. En moenie van ’n droë sjampoe vergeet nie! Dit werk in ’n kits om olierigheid op jou kuif te absorbeer en tekstuur te skep.
Probeer die produkte:
1. Hask Cactus Water Weightless Moisture Shampoo en Conditioner (R150 elk). By Clicks.
2. TRESemmé Translucent & Shine Dry Shampoo (R85)
3. Sorbet Drybar Full Sheen Ahead Keratin Oil (R60). By Sorbet Dry Bar-salonne en Clicks.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET