Kry jou bene sysag, glansend en somergereed met dié top-produkte en raad.

HULP MET SPATARE

Skleroterapie en laser word as die mees doeltreffende nie-chirurgiese behandelings vir kleiner spatare beskou, volgens dr. Maureen Allem, stigter en mediese hoof van die estetiese kliniekgroep Skin Renewal. Met skleroterapie word ’n chemiese middel in die oppervlakkige spataar ingespuit. Dit beskadig die aar sodat die bloedvloei onmiddellik stop. Mettertyd krimp die aar en word minder sigbaar. Dit werk die beste vir dikker, donker spatare, sê dr. Allem.

Met laser word die ligstraal na die rooi en blou pigmente van die aar aangetrek, waar dit ’n gedeelte van die aar vernietig. Dit werk weer goed vir fyner spinnekopaartjies wat dikwels in groepies voorkom. Vir albei behandelings is meer as een sessie gewoonlik nodig en resultate is eers ná ’n paar weke sigbaar, maar daar is byna geen hersteltyd nodig nie.

OM TE WEET

Spatare vorm wanneer die kleppe in jou are wat bloedvloei beheer nie reg werk nie. Dit veroorsaak dat die bloed opdam en die are uitswel en só sigbare blou of rooi aartjies op jou veloppervlak tot gevolg het.

Spatare is meestal oorerflik. Ander bydraende faktore is langure se staan of swangerskap. Spataar-behandelings werk nie noodwendig vir almal nie en sommige spatare kan nooit 100% verdwyn nie.

VIR REKMERKE

Rekmerke vorm wanneer die vel vinnig en baie rek, skeur en ’n merk laat. Dit gebeur dikwels tydens swangerskap of wanneer tieners vinnig groei. Die beste manier om die voorkoms van jong rekmerke te verbeter en nuwes te voorkom is deur jou vel soepel en bevog te hou. Gebruik gereeld ’n voedende lyfolie op jou bobene vir vel-elastisiteit.

Probeer die produkte:

Vir selluliet ...

Kafeïen en alge in Theravine Sculpt-O-Vine Contouring and Firming Body Cream (R571) bevorder die afbreek van vet en verferm die vel. By uitsoeksalonne en-spa’s

Masseer dié dubbele formule in ’n opwaartse rigting aan jou bene om sirkulasie aan te help – Elancyl Slim Design Firming Oil (R295). By Dis-Chem en Clicks

Vir rekmerke ...

Danksy haselneutolie en 100% suiwer plantekstrakte van roosmaryn, kruisement en malva is Clarins Tonic Treatment Oil (R590) supervoedend.