My broer woon al elf jaar oorsee. Ek is alleen in Suid-Afrika en dra al die verantwoordelikheid vir ons ouers. Met elke verjaardag of ander spesiale geleentheid moet ek na hulle omsien. Ook as daar geldelike probleme of siekte is. Ek het nie die vryheid om dalk self oorsee te gaan werk nie. Ek is kwaad en ontevrede. Hoe verwerk ek dit? En hoe oortuig ek my broer om meer betrokke te wees? Hy steur hom glad nie aan skimpe van my kant nie. Dit gaan nie soseer om die geldelike steun nie, eerder om die emosionele hulp. Wat moet ek doen?

- SARIE-leser

Marlize Heppell, kliniese sielkundige van Klerksdorp:

Dit is wêreldwyd ’n probleem dat sommige kinders geen verantwoordelikheid vir hul ouers dra nie. Wetgewing is onlangs in Duitsland goedgekeur om kinders te verplig om kontak met hul bejaarde ouers te hê. Dít is hartseer! Miskien was die kontak tussen jou broer en ouers nooit werklik sterk nie weens gesinskonflik. Jy kan hom dalk dwing om geldelik by te dra, maar moenie eens probeer om hom te dwing om emosioneel betrokke te raak nie. Tot nou toe het dit dan op dowe ore geval. Jy sal bloot energie verkwis.

Aanvaar dat dit jou broer se keuse is en maak vrede daarmee. Jóú bydrae tot jou ouers se lewe is van onskatbare waarde. Beskou dit as ’n voorreg. Jy sê wel dit laat jou dikwels kwaad en ontevrede voel. Miskien moet jy kyk of daar nie onverwerkte kwessies tussen jou, jou broer en jou ouers is nie … Dalk dink jy jou broer was altyd die witbroodjie en dié onregverdigheid word nou bloot voortgesit en jou ouers waardeer jou nie?

Besoek ’n terapeut as jy voel jy het leiding nodig om jou emosies hieroor te verwerk. Leer ook jou tyd goed bestuur. Jy kan nie altyd daar wees vir almal nie. Wees eerlik met jou ouers – as jy sekere spesiale geleenthede nié kan bywoon nie, bespreek dit vooraf met hulle. Hulle moet besef jy het ook ’n lewe. Onthou, gesinsvakansies of wegbreke saam met jou vriende is ook nodig. Dit gee jou tyd om weer ’n bietjie te herlaai. En hoewel jou verantwoordelikheid teenoor jou ouers dit moeilik maak om werkgeleenthede oorsee te ondersoek, kan jy dit steeds doen. Dit bly jóú keuse.

Melanie Prinsloo, kliniese sielkundige van Pretoria:

Dit is ’n goeie plan om deur Skype, ’n e-pos of telefoonoproep openlik met jou broer te gesels. Verduidelik vir hom watter impak jou ouers se versorging op jou lewe het, en sê dat jy regtig sy hulp nodig het om aan kreatiewe oplossings te dink. Maak voorstelle, soos dat jy vir jou ouers sal wys hoe om die internet te gebruik sodat hulle meer gereeld met hom kan kommunikeer. Jy kan hom dalk ook vra om deur internet-bankdienste geldelik ’n bydrae te maak.

Praat met jou ouers en verduidelik vir hulle dat jy ook ’n verpligting teenoor jou eie gesin het. Stel byvoorbeeld saam ’n skedule op oor wanneer julle mekaar kan sien. As hulle in ’n aftree-oord woon, stel vas of daar dienste is wat hulle kan gebruik om die druk op jou te verminder. Moedig jou ouers aan om vriendskappe aan te knoop met bure of medekerkgangers. Dit help ook om bande met die groter familie te versterk. Dit is baie belangrik vir ’n gesonde, gebalanseerde lewe om ’n uitgebreide ondersteuningsnetwerk te hê. Dan sal die verantwoordelikheid nooit net op een mens val nie.

Stel ’n lysie van noodnommers op wat jou ouers sal help om hul daaglikse probleme self op te los. Die belangrikste is om slim te delegeer. En spreek jou eie frustrasies aan. Kry ’n lekker stokperdjie om balans te bring, oefen gereeld om goedvoelhormone vry te stel en stel altyd duidelike grense.