#1 Velkwessie: Pigmentasie en sonvlekke

FOTO Getty Images / Gallo Images

DIE BEHANDELING: Broad Band Light (BBL)

HOE WERK DIT? Die BBL-behandeling span ligenergie van verskillende golflengtes in om meer as een oppervlakkige velprobleem te takel. Die ligstrale word deur sekere kleurpigmente in jou vel aangetrek en die hitte-energie wat gegenereer word, vernietig die pigmente. Dit stimuleer ook kollageenvorming vir ’n fermer vel en verbeter jou veltekstuur.

RESULTATE: “BBL is ’n uitstekende behandeling vir enige vorm van sonskade, dus pigmentasie, sonvlekke en sproete,” sê Yolandé Swanepoel, akademiese hoof van die Isa Carstens Akademie. Dis ook doeltreffend om gebarste aartjies onder die veloppervlak en chroniese rooiheid wat deur rosacea veroorsaak word, te verminder.

IS DIT SEER? Dis beslis nie pynloos nie. Dikwels voel dit soos ’n rekkie wat aanhoudend op jou vel “skiet”. Tydens en ná die behandeling sal jou vel warm en sensitief voel. Jou vel kan ook vir ’n dag of twee daarna geswel en rooi wees, of voel asof jy erge sonbrand opgedoen het, sê Yolandé. Vra jou terapeut om vooraf ’n verdowingsroom aan te wend.

OM TE WEET: Pigmentasie en sonvlekke gaan eers donkerder word soos jou vel afskilfer, waarna dit binne een tot drie weke ligter sal raak. Jou terapeut sal jou veltoestand individueel evalueer om te bepaal hoeveel sessies jy nodig het vir die beste resultate.

WAAR OM BEHANDELING TE KRY: By uitsoek-laserklinieke

PRYS: Vanaf R1 495

#2 Velkwessie: Aknee en verstopte porieë

Conceptual of natural problem on woman skin.
FOTO Getty Images / Gallo Images

DIE BEHANDELING: SilkPeel

HOE WERK DIT? Tydens ’n SilkPeel-behandeling word ’n toestel gebruik wat tegelyk drie take verrig: Eerstens bevat die toestel se handstuk ’n growwe skuurpunt wat jou vel afskilfer soos wat die terapeut die handstuk oor jou vel beweeg. Tweedens verrig die punt ’n suig-aksie wat dooie selle en onsuiwerhede van die vel af opsuig. Laastens word ’n serum met ’n hoë konsentrasie aktiewe bestanddele by die vel “ingespuit” sodat dit dieper penetreer.

RESULTATE: Hoewel ’n SilkPeel verskeie velkwessies kan behandel, is dit veral doeltreffend om ’n probleemvel te verbeter omdat dit jou porieë behoorlik reinig en bestanddele in jou vel inspuit wat verdere infeksie teenwerk, sê Yolandé.

IS DIT SEER? Die behandeling is glad nie seer nie en is veilig om op enige veltipe te gebruik.

OM TE WEET: Yolandé beveel vier tot ses behandelings elke twee tot vier weke aan.

WAAR OM BEHANDELING TE KRY: By die Isa Carstens Wellness Sanctuary op Stellenbosch.

PRYS: R650

#3 Velkwessie: Fyn lyntjies, verlies aan fermheid en vergrote porieë

FOTO Getty Images / Gallo Images

DIE BEHANDELING: Kalahari MNPen-mikronaaldbehandeling (microneedling)

HOE WERK DIT? Dié behandeling staan ook bekend as kollageeninduksieterapie. ’n Toestel wat lyk soos ’n pen met fyn naalde word oor jou vel beweeg om mikrogaatjies te maak. Dit prikkel jou liggaam se natuurlike herstelproses, wat jou vel stimuleer om nuwe kollageen en elastien te vervaardig. Daarby laat die mikrogaatjies bestanddele wat tydens die behandeling gebruik word, beter na die dieper lae van jou vel penetreer.

RESULTATE: Mikronaaldbehandeling help om fyn lyntjies te verminder, porieë kleiner te laat lyk en om bv. die voorkoms van akneeletsels te verbeter. Jou vel lyk ook plomp, ferm en stralend vir ’n week of twee ná die tyd.

IS DIT SEER? Die mikronaalde se lengte wissel van 0,5 mm tot 1 mm en word aangepas na gelang van die toestand van jou vel. Hoe dieper die naalde penetreer, hoe seerder raak die behandeling. ’n Verdowingsroom kan voor die tyd aangewend word.

OM TE WEET: Vel is dikwels vir ’n paar ure ná die tyd rooi en sensitief. Vier tot ses sessies, ses weke uit mekaar, lewer die beste resultate.

WAAR OM BEHANDELING TE KRY: By uitsoeksalonne en -spa’s wat Kalahari-behandelings aanbied. Besoek kalaharilifestyle.com vir ’n lys van verskaffers.

PRYS: R800

PASOP!

Besoek ’n gekwalifiseerde en ervare terapeut en laat altyd minstens vier weke tussen behandelings toe om oorstimulasie en die vorming van letsels en hiperpigmentasie te voorkom.

#4 Velkwessie: Vaalheid en knoppies

FOTO Getty Images / Gallo Images

DIE BEHANDELING: iS Clinical Fire & Ice Peel

HOE WERK DIT? Dié behandeling is die “rooitapyt-kuur” gedoop nadat verskeie Hollywood-bekendes, onder wie Halle Berry en Kourtney Kardashian, al verklap het dat dít die geheim agter hul gloeiende gelaat op die rooi tapyt is. Die naam Fire & Ice verwys na die twee maskers wat tydens die behandeling gebruik word. Die eerste een is ’n diep-afskilferingsmasker wat ’n hoë konsentrasie sure bevat om dooie selle op die veloppervlak egalig te verwyder. Dit het ’n kenmerkende kaneelgeur en laat jou vel tintel en warm voel. Daarna word ’n koel, kalmerende masker met hialuronsuur en ekstrakte van aalwyn, roosmaryn en kruisement aangewend om jou vel te streel en intens te bevog.

RESULTATE: Direk ná die behandeling lyk jou vel vars, stralend en vol lewe. Die kans om knoppies te ontwikkel is minder en jou veltekstuur is superglad, wat die aanwend van grimering ’n droom maak.

IS DIT SEER? Die diep-afskilferingsmasker laat jou vel vir sowat drie tot vyf minute behoorlik tintel, waarna die kalmerende masker enige branderigheid neutraliseer.

OM TE WEET: Dis die ideale eenmalige behandeling voor ’n groot geleentheid soos jou troudag. Dis vinnig met byna geen hersteltyd nie en kan ’n dag of twee voor die geleentheid gedoen word.

WAAR OM BEHANDELING TE KRY: By uitsoeksalonne wat iS Clinical-behandelings aanbied. Besoek isclinicalskincare.co.za vir ’n lys van verskaffers.

PRYS: Vanaf R650

#5 Velkwessie: Dehidrasie en sensitiwiteit

FOTO Getty Images / Gallo Images

DIE BEHANDELING: Ultimate Esse Experience

HOE WERK DIT? Die skoonheidshuis Esse glo die balans tussen “vriendelike” en “onvriendelike” bakterieë op jou veloppervlak is die sleutel tot ’n gesonder vel. Met dié behandeling ontvang jou vel ná reiniging en afskilfering ’n kragtige konsentrasie lewende probiotika wat vriendelike bakterieë voed en die mikrobe-balans herstel. ’n Ryk masker wat die serum inseël, word dan vir 20 minute op jou vel gelos. Hierna word jy bederf met ’n unieke massering van jou skouers, nek en gesig wat limfdreinering aanwakker, jou spiere laat ontspan en ’n antiinflammatoriese effek het.

RESULTATE: Jou vel lyk gehidreer en plomp en voel onmiddellik gestreel. Dis ’n goeie opsie vir tye wanneer die gevolge van moegheid en stres op jou vel begin wys.

IS DIT SEER? Die behandeling is ontwikkel om kalmerend en heerlik ontspannend te wees en is dus glad nie seer nie.

OM TE WEET: Die proses duur sowat twee uur, so sit ’n hele oggend of middag opsy om die ontspanningsvoordele van die behandeling te geniet.

WAAR OM BEHANDELING TE KRY: By uitsoeksalonne wat Esse-behandelings aanbied. Besoek esseskincare.com vir ’n lys van verskaffers.

PRYS: R1 200

Sorg ná jou behandeling:

1. Gebruik die Endocare Essential Care Concentrate (R840) vir ’n week ná ’n behandeling om herstel te bespoedig en resultate te verbeter. By uitsoekestetiese salonne en dermastore.co.za

2. Die Isa Carstens Akademie beveel Lamelle se Serra NSB Cream (R640) aan om rooiheid en sensitiwiteit te kalmeer. By uitsoeksalonne

3. Goeie sonbeskerming ná ’n velbehandeling is uiters belangrik. Probeer Nivea Perfect & Radiant Luminous Anti Dark Marks Day Cream SPF 50 (R320)