Dis met goeie rede dat ons seisoen ná seisoen blominspirasie sien. By die onlangse Chanel Haute Couturemodevertoning was dit die ontwerpersuitrustings met dié motiewe en blomskakerings van ligpers, pienk en roos wat die kollig gesteel het. Ook op grimering is die invloed van blomme te sien omdat dit ons opbeur en ons bui positief raak. Speel in die komende maande met helder spatsels kleur wat herinner aan ’n lentetuin op jou oë, wange en lippe.

Jou fokus moet net op een ding wees. Moenie pienk op jou oë, wange én lippe dra nie
Reneé de Wit, grimeerkunstenaar van Kaapstad

Dra jou blomgrimering só:

1. Kunstige oë

Dink aan waterverf en hoe elke kleur subtiel by mekaar invloei – só kan jy jou ooglede met drie of selfs vier kleure ophelder. Dra helder skakerings wat jy juis oudergewoonte sou vermy. “As jy pienk, geel en oranje wil meng, doen dit! Dra jy dit selfversekerd, sál dit werk,” sê Reneé de Wit, grimeerkunstenaar van Kaapstad.

FOTO Instagram / Renee De Wit
FOTO Instagram / Renee De Wit

2. Dramatiese blos

Hoe meer blos, hoe beter. Wend ’n poeier- of romerige blosser aan jou wange deur dit opwaarts in die rigting van jou slape en na die buitehoeke van jou oë te skakeer vir ’n vars, jong voorkoms wat jou gelaatstrekke “lig”. ’n Tikkie blosser op die brug van jou neus sal jou blosende gelaat afrond.

FOTO Instagram / Renee De Wit

WENK! “Hou jou kop onderstebo vir so 10 sekondes. Wanneer jy regop kom, sal jy sien waar jou gesig natuurlik rooi word,” sê Reneé. Tik daar jou blosser aan.

3. Lippe wat blom

Masker of nie, vroue prioritiseer weer ’n trffende helder kleur soos koraal of pienk op hul lippe. Nes blomme, is dit ’n ware goedvoelkuur.

FOTO Instagram / Chanel Beauty

Produkte om te probeer:

1. Die sysagte tekstuur van Pretty by Flormar Essential Lipstick in Deep Fuchsia (R60) wend maklik aan en skep ’n intense blomkleur. By Foschini

2. Damasroos is die sterbestanddeel in die intense en sensuele Mugler Angel Nova (R2 250 vir 100 ml EDP)

3. Trots Suid-Afrikaans! Note van suiker, jasmyn en Franse laventel in Boity Pink Sapphire (R1 195 vir 100 ml EDP) skep ’n elegante, onweerstaanbare geur. By haloheritage.com

4. Definieer jou lippe met Chanel Rouge Coco Bloom in Season (R800), ’n warmpienk skakering met ’n glansafwerking.

5. Sisley Black Rose Eye Contour Fluid (R2 250) is ’n vars jel wat moeiteloos in jou vel insmelt. Dit bevat meiroos wat help om pofferigheid, fyn lyntjies en donker kringe hok te slaan. By uitsoektakke van Woolworths en Edgars

6. ’n Oogskadu- en blosserpalet in een! – Revolution X Rachel Leary Goddess-On-The-Go Face & Shadow Palette (R275). By Clicks

7. Dié blomgeur met note van pinksterroos, lelie en muskus pas perfek in jou handsak – Glasshouse Forever Florence Wild Peonies & Lily (R500 vir 14 ml EDP). By Woolworths in Sandton City, Menlyn en die V&A Waterfront

8. Laat jou naels blom met skakerings van koraal en pienk – Mavala Flower Magic Color’s Collection (R105 elk). Beskikbaar vanaf Oktober.

9. ’n Voginspuiting vir jou hare! Renpure Rose Water Weightless Hydration Shampoo (R150) is met Turkse roos verryk, wat jou hare bevog en ’n heerlike geur agterlaat. By Dis-Chem

10. Rooswater en vrugtesure in Nuxe Very Rose Radiance Peeling Lotion (R495) help om dooie velselle liggies te verwyder vir ’n helder gelaat.