Toe aktrise Nicole Holm en die akteur Francois Toerien in 2007 geskei is nadat hy besef het hy is gay, was sy platgeslaan. “Daardie eerste paar weke het ek net ’n gevoel van geweldige verlies gehad. Ek was konstant bewus daarvan. Ek het my sekerheid en my vreesloosheid verloor. Maar ek onthou ook ek het vroeg in die proses al ’n besluit geneem om heel daaruit te kom. Wanneer ek dan oorweldig gevoel het, kon ek myself daaraan herinner – daardie besluit was reeds geneem, onveranderlik. Ek het myself ook herinner ek is nie alleen nie en ook dat ek nie die eerste mens is wat so ’n trauma ervaar nie. Vir my was die antwoord om myself met vriende te omring, mense wat my hier kon vang en daar kon keer. Ek se^ baie ek het geen trots nie – ek vra maklik hulp en aanvaar dit as dit aangebied word. Moenie alles alleen probeer doen nie; dis dikwels weens ’n misplaaste ego.” 

In die begin, sê sy, was dit ’n geval van “fake it till you make it”. “Groei lê aan die ander kant van ongemak. Nee, dis nie lekker nie, maar jy moet onthou jy gaan beter, anders, aan die ander kant uitkom. Ek het opgestaan, uitgegaan en dinge gedoen, al het ek dit nie geniet nie. Tot die voorgee nie meer nodig was nie. Dis mos wat die lewe is – jy moet eenvoudig aanhou leef, beweeg.”

En, mettertyd, het daar goeie nuwe dinge uit haar trauma gespruit. Sy het ingeskryf om sielkunde te studeer en verlede jaar haar honneursgraad daarin verwerf. “En toe doen ek boonop ’n meestersgraad in drama! Verlede jaar was die eerste keer in nege jaar wat ek nie studeer het nie. Dit het begin as deel van my verwerkingsproses. ’n Behoefte het daaruit gegroei om myself beter te verstaan, en toe word dit ’n nuuskierigheid oor ander mense. Ek kan nou ’n berader wees as ek my praktiese ure voltooi, maar ek dink nie dis nou al op my horison nie. Vir eers het dit vir my nuwe deure as aktrise oopgemaak. Om die sosiale wetenskappe beter te verstaan verbreed ook jou kennis as akteur.”

Haar loopbaan floreer. Sedert 2016 was sy in gewilde kykNET-reekse soos Die BoekklubDie Boland Moorde en Die Byl te sien, en nou ook in Fynskrif 3 – buiten verskeie rolle in teaterstukke.

“Ek is steeds primêr op die verhoog, maar dis vir my lekker om nou ook so een of twee TV-rolle per jaar te doen. Fynskrif was uitdagend maar, weer, dis hoe jy groei. Ek het in die derde seisoen ingekom toe alles al soos ’n masjien geloop het. Ek het lank soos ’n buitestander gevoel en letterlik verdwaal op pad kantien toe! Maar dit was ook goed vir my rol, want my karakter, Inge, was ook ’n buitestander.”

Nicole se persoonlike lewe lyk ook baie anders as destyds en sy is dolgelukkig in haar langtermyn-verhouding met Dirk Cilliers, ook die pa van haar agtjarige tweeling, Wouter en Rossouw.

“Ek kan my lewe nie anders indink nie. Die grootste verandering wat ek, ons, die afgelope ruk deur is, was om na ’n nuwe huis op Stellenbosch te trek. Ná vyftien jaar in dieselfde huis, ook op die dorp, was ek verbaas oor watter ontsaglike verandering dit was! Ons een kat het in die proses die pad gevat en ek huil nou nog daaroor. Maar op ander maniere was dit ook ’n lekker verandering. Om heeltyd Home Channel te kyk en ’n nuwe huis te skep, in ’n nuwe omgewing te wees. Dit was ontwrigtend, maardie verandering was uiteindelik ook goed – soos verandering altyd is.”